Oordrewe ambisie en onrealistiese verwagtinge, maar gelukkig is dit nie so erg nie

VRYDAG 29 MEI 2009

10:40

Ek het dit onlangs genoem, maar ek dink weereens: my aktiwiteite van die afgelope veertig maande was bevorderlik vir die manifestasie van ’n oorgeërfde neiging wat ek het tot maniese gedrag.

11:23

Snaakse ding is, ek het nie die punte verbind, tot onlangs nie. Ek dink dis een van daai dinge waar jy jou hele lewe kan deurgaan sonder om te weet jy het iets in jou bloed – soos die genetiese potensiaal om kanker te kry, of so iets. Indien die omgewing reg is daarvoor, en ander faktore bevorderlik is daarvoor, is die skrif egter teen die muur: dit gaan manifesteer.

In my geval het dit gemanifesteer. Dit was ook nie die eerste keer wat dit gemanifesteer het nie, maar ander kere het ek dit iets anders genoem – eksentrieke gedrag, kompulsiewe gedrag, gedring deur geloof, of, in diens van ’n idee.

Is dit ’n gestremdheid? Dit kan wees. Dit ís, in vele gevalle. Jy móét dit beheer. Jy moet bewus wees daarvan. Jy moet bedag wees daarop.

15:02

Die psigoanalis sal sê: Brand Smit gaan gebuk onder sporadiese episodes van Hipomanie; of eerder, hy ervaar hierdie episodes, dan gaan hy gebuk onder die gevolge daarvan oor die volgende paar weke of maande soos hy probeer om “konsekwent” te wees, en om “dinge deur te sien” en om dinge af te handel wat hy begin het in stede daarvan om “te val van die een ding na die volgende”.

SATERDAG 30 MEI 2009

12:20

So, wat sê ek?

Ek is vasgevang tussen twee pole: dae, en soms weke, van kreatiewe, geïnspireerde aktiwiteit wat gekenmerk word deur totaal oordrewe ambisie en onrealistiese, oor-optimistiese verwagtinge, en dan die dae en weke tussen-in van probeer om iets te maak van die oor-ambisieuse projekte waarmee ek begin het, maar sonder die energie, die oortuiging, en die inspirasie van die “ander tyd”.

22:12

Die gesprek kan soos volg gaan: “Die slegte nuus is, daar is inderdaad iets fout met jou. Die goeie nuus is dat dit nie so erg is nie, solank jy dit onder beheer hou.”

______________________