OORDENKINGS

Deur 29 - 09 - 2003

EEN

Oorweeg dat jy ‘n spesiale doel het wat jy moet vervul in jou lewe. Dink dan daaraan dat jy nodig het om te glo aan ‘n spesiale doel, omdat jy graag wil glo dat jou lewe meer is as net die biologiese resultaat van oorsaak-en-gevolg, en dat jy meer is as net ‘n hoogs ontwikkelde dier wat rondsoek vir kos en water en erkenning van jou bestaan op ‘n daaglikse basis. Erken hierdie behoefte om te glo. Oorweeg dan weer die spesiale doel, in ag genome jou erkenning van die behoefte om te glo aan so ‘n doel vir jou bestaan.

[Sondag, 28 September 2003]

TWEE

Dink aan die lewe soos dit om jou afspeel elke dag. Dink dan aan ‘n goeie lewe waar al jou behoeftes bevredig word, en waar jou dae gevul is met geluk en samesyn. Dink dan aan die dood. Stel jouself voor ‘n belaglik sinnelose rede vir jou afsterwe. Dink dan weer aan die lewe.

DRIE

Oorweeg wat jy geniet om te doen. Erken dan die feit dat jy geld nodig het. Gee jou verbeelding vrye loop in die oorweging van maniere om genoeg geld te verdien wat minder tyd sal verg as wat jy huidiglik spandeer om ‘n inkomste te verdien, asook minder inspanning, en om te doen wat jy geniet die res van die tyd.

Wat om te doen indien jy wel so ‘n ideale situasie bereik? Ontspan, en spandeer meer tyd met mense wat vir jou saakmaak, en aan dinge wat jou interesseer. Help ander mense. Kontempleer die betekenis van jou lewe. Oorweeg ‘n spesiale doel vir jou lewe. Streef hierdie doel na.

VIER

Oorweeg verder ‘n scenario waar jy jou eie lewe in gevaar moet stel sodat ander kan oorleef. Kontempleer die onafwendbaarheid van die dood. Dink na oor lyding, beide in jou eie lewe, en die lewens van ander mense. Verdiep jouself vir ‘n paar oomblikke in gedagtes oor die mooiheid van die lewe, en aan die ervaring van gelukkig wees. Kontempleer die einde van geluk. Kontempleer die dood. Dink dan weer lewe, en wat dit vir jóú beteken om vandag lewendig te wees.

[Maandag, 29 September 2003]

___________

Hierdie inskrywing dateer: 29 - 09 - 2003 om 22:16 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.