Oor wedergeboorte, en ’n “nuwe” SELF

[’n Term het teen hierdie tyd my bewussyn binnegedring wat my so opgewonde gehad het dat ek amper een middag vriendelik was met ’n taxibestuurder. Voor ek egter voortgaan om dit te gebruik, laat my toe om weereens die betekenis toe te lig.

Die “gegewe self” is ’n handige term om die betekenisvolle invloed te beskryf van sekere faktore – soos genetika, kulturele agtergrond, taal, en tyd en plek van geboorte – op wie en wat ’n individu is, lank voor hy of sy groot woorde leer soos “identiteit”, “selfbewussyn”, of “doel van my bestaan”. Die “gegewe self” is dus ’n persoonlike realiteit jare voor die individu kritiese vrae begin vra soos “Wie is ek?” en “Wie wil ek wees?”]

VRYDAG 25 JUNIE 2004

Om ’n vlak van persoonlike ontwikkeling te bereik wat ek noem VERLIGTING, moet die gegewe aspekte van wie en wat jy is eers gekonfronteer en tot ’n groot mate aanvaar word. Die GEGEWE SELF kan egter nooit ten volle vervang word met die VERLIGTE SELF, of enige ander vorm van die self wat beskou kan word as meer “eie” en derhalwe meer “eg” nie. Die GEGEWE SELF – of dan aspekte daarvan – bestaan tot die oomblik van fisiese dood.

* * *

Die Gegewe Self – die produk van onder andere noodlotsfaktore soos geslag en tyd en plek van geboorte, en sterk beïnvloed deur die persoonsmodel wat voorgehou word as die mees toepaslike in ag genome noodlotsfaktore en kulturele waardes en behoeftes van die gemeenskap – kan gemanipuleer word volgens alternatiewe persoonsmodelle.

Een voorbeeld wat genoem kan word is die jong vrou van ’n konserwatiewe familie, wat in haar vroeë twintigs haar huis op ’n klein plattelandse dorpie verlaat vir die groot stad waar sy haarself na ’n paar jare transformeer in ’n flambojante aktrise. ’n Meer radikale voorbeeld sal wees die persoon wat gebore is as ’n man, ’n geslagsoperasie ondergaan, trou, en die res van sy/haar lewe slyt as ’n vrou. ’n Minder dramatiese voorbeeld is die geval van ’n man, afkomstig uit ’n Calvinistiese familie, wat op ’n stadium gereken is as iemand wat die spirituele behoeftes van sy gemeenskap sal dien as ’n prediker, wat as ’n volwassene sy geboortegrond verlaat om heil (en verbeterde identiteit) te vind op ’n ander kontinent, met beelde van ou filosowe en afgestorwe skrywers wat dien as sy alternatiewe self-modelle.

Wat gebeur is dat die individu die gegewenheid van wie en wat sy is, konfronteer. As hierdie eksistensiële oomblik bereik word, kan die persoon weereens kyk na die wêreld om haar, en haarself (weereens) twee vrae vra, “Wie is ek?” en “Wie wil ek wees?” Fisiese beperkinge van die Oorspronklike, of dan Gegewe Self wat nie verander kan word nie, asook partikulariteit van ontstaan (tyd en plek van geboorte, asook sosio-ekonomiese agtergrond, en so meer), moet noodwendig aanvaar word.

Die oomblik wat die persoon die punt bereik wanneer sy verklaar dat sy haar gegewenheid sien, wanneer sy aanvaar waaroor sy nooit ’n keuse gehad het nie en wat sy (werklik) nie kan verander nie (ongeag of sy wil of nie), kom sy te staan voor ’n nuwe waardering van haarself in haar partikulêre omgewing – MITS sy glo aan die potensiaal om haarself te kan transformeer, al is dit steeds binne die raamwerk van werklike gegewe beperkinge.

* * *

Om gegewenheid te konfronteer, te erken, en te glo aan die asemrowende moontlikhede wat binne die bereik is van ’n redelik intelligente persoon, is onontbeerlike bestanddele van die Proses van Wedergeboorte – en moontlik, maar nie noodwendig nie, die geboorte van die VERLIGTE SELF.

* * *

Terloops, wat beteken dit as iemand sê hy’s ’n “wedergebore Christen”? Dit beteken dat hy sy “ou self” “gekruisig” het, met ’n “nuwe self” wat die plek van die oue inneem. Dit word uit die aard van die saak veronderstel dat die “nuwe self” beter is, skoon van die “sonde” van die “ou self”. Die geloofsgemeenskap verwag ook dat hierdie persoon – die nuwe bekeerde – sy “nuwe self” moet wéés, om geloofwaardigheid te verleen aan sy aanspraak op “wedergeboorte”. Filosofies, en literêr, is dit briljant, en kleurvol …

______________________