Oor persoonlike lêers

DINSDAG 2 MAART 2004

Ons almal het “files” oor mekaar. My file oor “Yolanda Y” sal byvoorbeeld sê sy’s dit en dat, sus en so, tree so op in hierdie en daardie situasie. “Sy’t hierdie sterkpunte, en hierdie swakhede. Pasop vir dit of dat …”

Ons almal verwag dat die mense wat ons ken en wat ons vriende noem (en oor wie ons derhalwe “files” het) die persone sal wéés wat ons dink hulle is om ons vertroue in hulle te fasiliteer.

Soms neig ons “file” weergawes van mense egter na simplistiese karikature, met sekere aspekte van die persoon beklemtoon vir die eenvoudige rede dat dit ons beter pas as wat die geval is met ander aspekte.

Waak daarteen – niemand hou daarvan om tot ’n karikatuur gereduseer te word nie.

Dit is wel so dat ons soms hierdie proses van vereenvoudiging van onsself onbewustelik aanmoedig. As ’n persoon onseker is oor sy of haar identiteit, is dit gewoonlik gerusstellend as mense sê, “Jy sê mos altyd (X, Y of Z),” of “Jy raak mos altyd kwaad as iemand so iets doen,” of selfs, “Ek het geweet jy gaan dit sê (want jy sê dit altyd).”

Vir my irriteer dit as mense ’n eenvoudige karikatuur van my skets. Ek weet ek doen dit soms van myself (moontlik om wie ek is meer draaglik te maak vir my geselskap?), so ek kan dus nie altyd mense kwalik neem as hulle saamspeel nie. Die waarheid is egter dat ek die reg voorbehou om anders te voel as gister, anders op te tree as eergister, en ander belangstellings te hê, of te fokus op ander dinge as wat ander se “files” oor my dikteer.

Natuurlik moet daar ’n graad van ooreenkoms wees tussen wie jy vandag is, wat jy sê, wat jy doen en hoe jy optree, en wat gister die geval was. Maar hierdie dinge is ook vloeibaar, en verander met tyd.

’n Meer ideale situasie sal wees een waar ons ons “files” oor mekaar oophou, met breë kantlyne vir nuwe inligting en geestesoog foto’s wat tred hou met die tyd. Die alternatief is dat ons “vriende” is met karikature wat hoofsaaklik ons eie handewerk is, en wat ons met die verloop van tyd mag vind nie meer “betroubaar” is nie, omdat hulle “skielik” nie meer sus of so lyk, of dit en dat sê of op bepaalde wyses optree of reageer in hierdie of daardie situasie nie.

______________________