Oor Mooiheid, En Vriendskap

Deur 15 - 11 - 2001

“Ek verstaan jou nou beter. Ek het hierdie ding jare gelede al geweet, maar na die pragtige foto’s van my vuil buurt het dit al hoe beter in fokus gekom [sien NOTA].  Een van die belangrikste dinge wat enige een moet weet wat jou wil verstaan, is die belangrikheid vir jou van Dit Wat Mooi Is In Die Lewe.

Feit is, jy’t groot geword in baie ongewone en vreemde omstandighede, waarin lelike dinge ‘n amper daaglikse verskynsel was. En in hierdie omstandighede het jy ‘n amper instinktiewe aanvoeling aangeleer van dit wat ‘mooi’ is, en van dit wat nie ‘mooi’ is nie; van dit wat hoort, en dit wat nie hoort nie. Alles het ‘n plek gehad in die wêreld waarin jy jouself bevind het.

In hierdie wêreld wat so gevul was met die ‘Lelike’, watter mens sou nie troos soek in die ‘Mooie’ nie? Mooi geboue, mooi meubels, mooi klere, mooi mense, mooi dinge, mooi stories, mooi liefdesbriewe. Hierdie troos het deel geword van wie jy is, deel van jou identiteit. Dit het deel geword van jou lewensuitkyk. Dit het deel geword van hoe jy mense, en die wêreld om jou beoordeel (nie noodwendig altyd op ‘n fisiese vlak nie, want ‘n werklike ‘mooi’ mens gaan baie keer nie soos Barbie of Ken lyk nie, en dit weet ek wéét jy). Ook die mense in jou binnekring het altyd ‘n sekere ‘keuring’ geslaag, in ag genome die prioriteit wat jy gee aan Dit Wat Mooi Is.

(Jy mag dalk wonder wanneer ek gaan kom by die punchline, want dit klink asof ek my woorde stuur in die rigting van die groot ‘maar…’).

Enige vriendskap, enige verhouding, is gebou op sekere fondamente: dieselfde taal (in ons geval Afrikaans of Engels), soortgelyke agtergrond, soortgelyke ervarings, gedeelde ervarings, soortgelyke oortuigings, ‘n soortgelyke uitkyk op die lewe, soortgelyke ambisies, en ‘n soortgelyke estetiese smaak (om ‘n paar belangrikes te noem). Die feit dat ek en jy na al hierdie jare nog steeds kontak het met mekaar, is ‘n anomalie. Ons praat dieselfde taal, maar ons kom uit verskillende agtergronde (het jy geweet dat ons al vir vyf jaar aan die trek was, elke keer met minder besittings, voor ek jou ontmoet het?). Ons het op ‘n stadium dieselfde oortuigings gekoester, maar nou-se-dae sit ons heel moontlik nie langs dieselfde vuur nie (my oortuigings, soos dit ontwikkel het, is baie eenvoudig, maar tog geklee in argumente wat slim lyk op papier). Ons het miskien tien jaar gelede soortgelyke ambisies gehad, maar nou strook my ambisies meer met die oortuiging dat ‘at the root of human nature lies the need for free creative work under one’s own control’.

Al hierdie verskille impliseer noodwendig ‘n verskil in ons uitkyk op die lewe. Wat maak dus estetiese smaak so spesiaal dat ‘n mens sal dink dít mag dalk dieselfde wees? Jy hou nog steeds van mooi dinge, mooi stede, mooi geboue, ‘n mooi landskap. Ek ook, maar die beeld van vervalle geboue, met halfafgeskeurde plakkate met Chinese karakters op raak my op ‘n ander manier. Ek hou ook van ‘n mooi landskap, maar die vuil, besoedelde landskap van hierdie Taiwanese stad praat met my in ‘n ander taal.

Want is dit nie immers hierdie wêreld waarin soveel mense leef (ek ingesluit), en geluk vind, en betekenis in die lewe vind, en die mooiste liefde soms ervaar nie? Dis die kontraste wat vir my mooi is – ‘n pragtige jong vrou wat vir ‘n bus staan en wag, en agter haar, karre op hulle rims afgeëts teen ‘n vervalle huis.

So ook is dit met my gedigte. Oor tien jaar sal dit dalk meer gesofistikeerd wees, maar dit sal heel moontlik oor dieselfde onderwerpe handel – liefde, en dan liefde wat nie uitgewerk het nie; begeerte, en begeerte wat nie vervul word nie; gelukkige tye, en ook tye wanneer eensaamheid jou van jou sinne beroof, en jou alleen laat met ‘n kop vol woorde wat nie sin maak nie.

Ek is net so verslaaf aan wat mooi is as jy. Dis net hoe ons dit verwoord, en waarna ons kyk, wat soms verskil. En dit vat fyn, en lank kyk om die verskillende dimensies van wat mooi is, werklik te verstaan.”

~ Uit ‘n brief, 15 November 2001

———————

[NOTA: Swart-en-wit foto's wat ek die vorige jaar van my buurt geneem het. My onderwerpe was meestal vervalle geboue, ou skedonke, en mure met posters wat al vir jare aan die vervel was.]

Hierdie inskrywing dateer: 15 - 11 - 2001 om 20:45 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.