Oor “Harte” en die lewe

MAANDAG 18 JUNIE 2001

Microsoft Hearts in Windows 7

My strategie vir die kaartspel “Harte” is op die oog af teenstrydig met die doelwit van die spel. Dit lyk aanvanklik asof ek afstuur op selfvernietiging – net ter wille daarvan om myself te vermaak, terwyl die ander spelers besig is met ’n ernstige spel. Teen die tyd wat die ander spelers egter besef dat ek besig is om ’n spel – waarvan hulle my nie as ’n ernstige deelnemer beskou het nie – te wen, is dit te laat. Hulle pogings om hulle eie posisies te red is dan reeds gedoem, en ek is op pad na ’n skitterende oorwinning, behaal op ’n onortodokse wyse.

Dit moet egter genoem word dat ek nie hierdie onkonvensionele strategie met elke rondte volg nie. Sodra ek sien dat ek nie ’n spesifieke rondte gaan wen op my manier nie, verander ek my strategie. Ek is dus pragmaties genoeg om nie my werklike oogmerk te verslaan ter wille van om anders te wees nie.

Hierdie benadering tot die spel verg durf, en amper oordadige vlakke van selfvertroue. ’n Mens moet ook aanvaar dat jy gaan verloor van tyd tot tyd, en dat sulke tye hanteer moet word met soveel grasie as ’n oorwinning.

Aan die einde kan dit gesê word dat ’n oorwinning behaal op jou eie manier en teen die verwagtinge van die ander spelers veel meer vervullend is as om die spel te wen volgens beide die gesproke en ongesproke reëls en konvensies.

As jy egter verloor, keer op keer, deur jou eie onortodokse metodes te volg, is dit gewoonlik ’n goeie idee om jou primêre doelwit, en so ook jou metodes, te heroorweeg. Die illusie van selfvernietiging is immers – en dit moet nooit uit die oog verloor word nie – veronderstel om slegs ’n illusie te wees.

______________________