OOR “HARTE” EN DIE LEWE
[Om kaart te speel op die rekenaar is 'n wonderlike manier om die brein nog verder uit te put. En soms kan 'n mens nie die versoeking weerstaan om ook daaruit een of ander insig wys te raak nie.]
———————
My strategie vir die kaartspel “Harte” is oënskynlik teenstrydig met die doelwit van die spel. Dit wil aanvanklik voorkom asof ek gefokus is op selfvernietiging – net ter wille daarvan om myself te vermaak, terwyl die ander spelers besig is met ‘n ernstige spel. Teen die tyd wat laasgenoemde egter besef dat ek besig is om ‘n spel – waarvan hulle my nie as ‘n ernstige deelnemer beskou het nie – te wen, is dit te laat. Hulle pogings om hulle eie posisies te red is dan reeds gedoem, en ek is op pad na ‘n skitterende oorwinning, behaal op ‘n onortodokse wyse.
Dit moet egter genoem word dat ek nie op ‘n voorspelbare wyse hierdie onkonvensionele strategie met elke rondte volg nie. Sodra ek sien dat ek nie ‘n spesifieke rondte gaan wen op my manier nie, verander ek my strategie. Ek is dus pragmaties genoeg om nie my werklike oogmerk te verslaan ter wille van om anders te wees nie.
Hierdie benadering tot die spel verg baie durf, en amper oordadige vlakke van selfvertroue. ‘n Mens moet ook aanvaar dat jy gaan verloor van tyd tot tyd, en dat sulke tye hanteer moet word met soveel grasie as ‘n oorwinning.
Aan die einde kan dit gesê word dat ‘n oorwinning behaal op jou eie manier en teen die verwagtinge van die ander spelers veel meer belonend is as om die spel te wen volgens die gesproke, en ongesproke reëls en konvensies.
As jy egter verloor, keer op keer, deur jou eie onortodokse metodes toe te pas, is dit gewoonlik ‘n goeie idee om jou primêre doelwit, en so ook jou metodes, te heroorweeg. Die illusie van selfvernietiging is immers – en dit moet nooit uit die oog verloor word nie – veronderstel om slegs ‘n illusie te wees…
