OOR DIE NAGESLAG: OUERSKAP

Deur 07 - 10 - 2003

Een van die mees prominente ideale van middelklaskultuur is GOEIE OUERSKAP. Volgens die kriteria van GOEIE OUERSKAP regverdig ouers hulle keuses in die lewe, en hulle opinies van die keuses van ander ouers. Dit is ook volgens hierdie kriteria wat hulle die suksesse of mislukkings van ander ouers beoordeel. Dit is verder volgens hierdie kriteria wat ek myself gediskwalifiseer het van ouerskap – ten minste vir die onmiddellike toekoms.

Een van die grondbeginsels van GOEIE OUERSKAP is om jou kinders Die Beste Te Gee Wat Jy Moontlik Kan. Dit is oor hierdie beginsel wat ek ‘n paar laaste opmerkings wil maak.

Om vir jou kinders die beste te gee wat jy kan, mag dalk gevolge hê wat nie voorsien word nie; nie eens deur ouers wat hulle kroos grootmaak met die beste van bedoelings nie.

Een van hierdie gevolge mag dalk wees dat die jong volwassene wat grootgemaak is deur ouers wat in al sy behoeftes voorsien het, wat aan hom goeie geleenthede gebied het om sy belangstellings vrye loop te gee, en wie se persoonlikheid ontwikkel het in ‘n beskermende omgewing, toenemend konserwatief, self-gesentreerd en selfsugtig raak wanneer hy gekonfronteer word met ‘n harder werklikheid as die een waarbinne hy groot geword het. Hierdie reaksie mag dalk ook manifesteer in ‘n berekende ondersteuning en regverdiging van die manier-hoe-dinge-is, die status quo, wat aan hom ‘n voorsprong gegee het in die lewe sonder hy enige iets bygedra het tot wat aan hom gegee is. So sal hy alle sosiale, politieke en ekonomiese beleidsrigtings ondersteun wat sy posisie verskans, en sy skouers ophaal vir die minder goeie situasies van ander.

‘n Ander moontlikheid – tot ‘n groot mate die teenpool van eersgenoemde geval – is dat die persoon in verleentheid en skaamte sal keer na mense minder bevoorreg as hyself, en dit sal verduidelik as iets waartoe hy gedring word omdat hy “dit so maklik gehad het, terwyl ander so swaargekry het”. Hy mag dalk ook onseker wees oor wat sy kanse op oorlewing sou wees as hy nié groot geword het nie in ‘n omgewing waar daar voorsien is in al sy behoeftes, en waar sy belangstellings en persoonlikheid ontwikkel het sonder die steurnis van te veel pyn en onvervulde behoeftes.

My advies aan ouers is om inderdaad aan hulle kinders die beste te gee wat hulle kan, om hulle die waarde van verantwoordelikheid te leer, en om hulle belangstellings binne redelike finansiële perke te ondersteun. Verder moet ouers fasiliteerders wees van die proses wat hulle kinders in staat sal stel om ‘n selfbeeld te ontwikkel wat gebaseer is op vermoëns en verdienste, en nie net op lidmaatskap van ‘n sekere stratum van die samelewing nie.

Kinders moet bewus wees van die lyding van ander; dit, en hulle eie meer bevoorregte situasie (as dit die geval is) moet aan hulle verduidelik word op ‘n manier wat aan hulle ‘n motivering sal bied om ‘n sin van verantwoordelikheid te ontwikkel teenoor hulle medemens – wat insluit mense in meer gestremde sosio-ekonomiese omstandighede asook lede van hulle eie gemeenskap.

Ouers moet aan hulle kinders die waardes leer van geloof in hulle medemens, eerlikheid, waardigheid, verantwoordelikheid vir ander, en verantwoordelikheid vir hulle eie aksies. Hierdie waardes moet nie net geleer word in gesproke vorm nie, maar in aksies en in gedrag van die ouers teenoor hulle kinders, en teenoor ander mense. Kinders moet bewus gemaak word van die resultaat van liefde en ook van haat, en hulle moet deur woorde, gedrag en aksies leer om liefde te kies. Ouers moet ook in hulle kinders ‘n houding van onbevooroordeeldheid en verdraagsaamheid teenoor ander mense aankweek.

Kinders moet die waarde van beginsels geleer word, en om dit te handhaaf selfs al moet hulle soms alleen staan. Kinders moet geleer word om in hulleself en hulle vermoëns te glo, deur ouers wat in hulle kinders glo. Kinders moet geleer word dat foute soms ‘n noodsaaklike deel van die lewe is, en dat hulle moet leer uit hulle foute soos volwassenes ook moet doen.

Kinders moet gekoester word, versorg word en beskerm word sodat hulle volwassenes kan word wat liefhet eerder as haat, wat verantwoordelikheid aanvaar selfs wanneer ander hulle blik wegdraai, en wat sal beskerm wat weerloos is teen agente van vernietiging. Kinders moet gekoester word as wonderwerke van die lewe, sodat hulle volwassenes kan word wat die lewe, en alles wat goed is, kan handhaaf en beskerm.

Ten laastens is dit ook belangrik dat kinders bewus gemaak moet word, op ‘n redelike wyse en op die regte tyd, van die moontlikheid dat ook hulle teleurstelling, ellende en lyding sal moet deurmaak. Dit sal ook nie onvanpas wees nie om hulle te leer dat die dood onafwendbaar is; dat dit die lot van alle vorme van lewe is om die einde van ‘n fisiese bestaan te bereik.

Dit moet egter altyd beklemtoon word dat, hoewel alle vorme van lewe uiteindelik ‘n einde bereik, daar ‘n toestand is wat dood voorafgaan. Kinders moet geleer word dat hierdie toestand van LEWE gekoester moet word, hoog op die prys gestel moet word, en ondersteun moet word tot die laaste asemteug.

(Dinsdag, 7 Oktober 2003)

___________

Hierdie inskrywing dateer: 07 - 10 - 2003 om 17:56 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.