OOR DIE NAGESLAG: KONKLUSIE
Wat het die afgelope drie dae se skrywery ontketen? Ek glo dit kan teruggevoer word na my idee van Finale Bestemming, en my [huidige] voorkeur vir ‘n plek soos Stellenbosch. Bronkhorstspruit, het ek die hele tyd geweet, is ‘n goeie plek om weg te kruip van dinge waarvan ek nog altyd weggekruip het. Dis ‘n eenvoudige plek, met nie te veel ryk mense nie. Jy kan kom waar jy moet kom in die dorp sonder ‘n kar, en jy kan in ‘n oraait woonstel bly vir onder R2000 per maand. Ek het egter toenemend begin besef dat, hoewel ek enige tyd daar sal wil woon vir ‘n paar maande (lees: twee tot ses), ek nie daar my hakke te diep wil intrap nie. Stellenbosch, aan die ander kant, is ‘n plek van kennis en geleerdheid, van kontemporêre en progressiewe kuns, van byderwetse plaaslike musiek, van idees en debat. Dis ‘n plek met warm koffiewinkels in die winter, en koel bergstrome in die somer. Stellenbosch, so het ek gemeen, is ‘n plek waar ek ‘n paar bakstene opmekaar kan pak.
Maar so teen, genugtig, dit moes Sondagaand gewees het, bereik wat duidelik vir dae al aan die prut was, kookpunt. Ek besef toe dat Stellenbosch wel ‘n verdraagsame plek is, waar mens bietjie onseker kan wees oor jouself, en nog erger, waar jy onseker kan wees oor jouself terwyl jy ‘n armgat is. ‘n Verdraagsame plek is Stellenbosch inderdaad vir armgatte wat onseker is oor hulle plek in die wêreld – as hulle 21 is!
As jy 32 is moet jy weet wie jy is, waarheen jy op pad is, waar jy vandaan kom, waarin jy glo, wat jou kwaad maak, wat jy kan verduur en wat nie; hoe en waar jy wil leef en met wie; hoe jy jou kinders wil grootmaak; en tot watter mate jy kan bekostig wie jy sê jy is. Die alternatief is dat jy die bitter gevolge gaan dra van sosiale ewolusie: Jy gaan uitgelos en selfs vermy word, en toenemend vervreemd raak van jou omgewing. As Stellenbosch dus weer my habitat word, en ek slaag nie daarin om aan ander lede van die volwasse werkende bevolking te verduidelik waarheen ek op pad is nie, gaan isolasie en vervreemding my als te veel herinner aan my studentedae.
Sondagaand het ek gekies om te sê: “Los my dan uit. Kyk of ek omgee!”
Feit van die saak is, jy kan jou rug op my draai, en vir ander soos jy vertel dat jy regtig nie van my hou nie. Maar wat gelei het tot my inskrywings van vandag, was die behoefte aan erkenning. Ek gee nie om as mense nie van my hou nie, maar dis vir my belangrik dat ek gerespekteer word as ek glo ek dit verdien. Ek het geen erg aan statussimbole nie, maar die resultate van die werk wat ek tot op hierdie punt gedoen het, moet spreek namens my soos ‘n BMW of ‘n Mercedes Benz praat vir dié wat niks anders het om te wys as resultaat van húlle arbeid nie. Ek glo dus dat, net omdat ek nie konvensionele statussimbole het om te wys as resultaat van my arbeid nie, ek nie ontneem behoort te word van erkenning en respek nie.
As ek ‘n gelukkige lewe enige plek in Suid-Afrika wil hê, so’t ek vandag vir myself verduidelik, moet ek wéét wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek besig is om met my lewe te doen, en as hierdie dinge goed is, moet dit goed genoeg wees om gerespekteer te word; al is wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek besig is om met my lewe te doen dan nie volgens middelklas standaarde ortodoks nie.
Laastens kan dit gesê word dat as ek dan wél eendag trou en kinders verwek, ek moet kan voldoen aan my eie vereistes vir ‘n GOEIE GESINSMAN. Wat, soos ek verder tot my aangename onsteltenis besef het, daarop neerkom dat ek aan die finansiële vereistes moet voldoen. Die res van my vereistes, ten spyte van wat ek vroeër geglo het, is nie bokant my vuurmaakplek nie.
(Dinsdagaand, 7 Oktober 2003)
___________
