Oor die nageslag: Inleiding

[’n Soms vuilbek tirade oor die begeerte om eendag pa te word – of nie.]

SONDAG 5 OKTOBER 2003

Ek behoort nie kinders te hê nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek is te gespanne, te opgewen oor die lewe. Dit het my dan tien jaar gevat net om te kan sê: “Oukei, ek dink ek het dit nou uitgesorteer. Ek hét nou die resep! Nou moet ek net die koek bak en hoop ander vind dit eetbaar. Of ek hoop ék reken darem dit proe oukei, anders moet ek weer probeer.”

Hoe verwag ek om ’n vaderfiguur te wees vir kinders?! ’n Oom vir susterskinders, ja. Ek sal ’n goeie oom wees, die tipe wat dinge weet en verstaan wat my swaers moontlik nie weet en verstaan nie. Maar ek is bevrees ek sal die tipe pa wees waaroor my seun vir sy vriend sal sê: “Ek wens my pa was meer soos joune. My pa is so angstig oor alles. Ek hoop nie ek draai eendag soos hy uit nie.”

My probleem is, na al hierdie jare kyk ek nog steeds na myself in ’n middelklas spieël. Nog steeds! Na al die jare! En in hierdie spieël vind ek myself steeds te lig! “Alreeds 32 … nog nie getroud nie … niks op die horison nie … geen huis of kar nie … skryf steeds dieselfde stukke oor en oor sedert jy 23 was!” Fok almal! Fok die middelklaswêreld wat ek steeds soos ’n brandende buiteband om my nek rondsleep! Kyk vir ’n slag na jouself in jou eie spieël en oordeel jouself volgens jou eie kriteria, en nie wat jy veronderstel ander s’n is nie!

Maar dit val alles plat omdat ek skaam deur middelklashuise skuifel met my plastieksandale, omdat ek nie dink dis my geoorloof om met beter skoene spore oor hulle tapyte te trap nie! En ek voel skaam as ek in hulle kombuise staan omdat ek wens ek het ook ’n mikrogolfoond gehad!

Dink ek dis tyd om keel skoon te maak en aan te kondig, “Dames en here, julle pis teen die verkeerde boom. Ek is nie een van julle nie”?

Of is ek? Ek wil immers tog ook trou en kinders hê, dan nie? Maar hoe kan ek dit versoen met my huidige ambisies, en met my angs oor die lewe en die dood?

Dis tyd dat ek inderdaad uit my klaskas kruip en sê dat ’n paar dinge duidelik gemaak moet word, en fok almal basies, en dis hoe dit is, nog altyd was, en môre en volgende jaar ook gaan wees.

MAANDAG 6 OKTOBER 2003

Beteken wat ek gisteraand gesê het dat ek sal verkies om vir die res van my aardse bestaan op my eie te wees, of dat ek nie tien keer meer geld wil maak as op die oomblik nie? Nee, om iemand in jou lewe te wil hê, is essensieel om te oorleef in hierdie wêreld, en dat groot hoeveelhede kapitaal ’n handige hulpbron kan wees, kan nie geïgnoreer word nie.

Besonder goeie redes kan uitgewys word hoekom ek steeds moet strewe na samesyn met ’n ander persoon en na finansiële onafhanklikheid. Om daarna te strewe sodat ek vir my tydgenote kan sê, “Kyk maatjies, ek is ook nou een van julle!” is egter nie een van die redes waarop ek my vinger sal lê nie. As die maatjies nie wil speel nie, stuur hulle in hul moere in.

DINSDAG 7 OKTOBER 2003

Omdat ek kinders wil hê. Dit is hoekom ek steeds gewig gee aan mense se kritiek en negatiewe opinies oor my wat andersins nie sou saak maak nie. Want na al die linksgesinde politiek, na alles oor kreatiewe en persoonlike vryheid, is daar een ding wat ek nie lekker kan inpas in my huidige leefstyl nie: die ideaal van ’n Goeie Pa wat aan sy kinders die beste gee wat hy kan, en sy eie voorkeure en ambisies soms opoffer vir sy kinders.

Hoekom sal die moontlikheid om self eendag kinders te hê my kwesbaar maak vir kritiek wat betref my keuse van ’n leefstyl? Want, om ’n Goeie Pa te kan wees, het ek geld nodig. Ekself glo onwrikbaar daaraan dat ’n pa wat nie kan bekostig om goed om te sien na sy kinders nie, altyd ’n probleem sal hê om sy kinders, sy vrou, sy bure, sy vriende, familie, ander mense in die gemeenskap met wie hy verskil op talle gebiede, en laastens homself in die oë te kan kyk.

Is ek goed genoeg om ’n vaderfiguur te kan wees vir kinders? Ek het nog altyd geglo ek is, of sal eendag kan wees, want ek reken uit my ervaring van skoolgee verstaan ek kinders tot ’n mate, en ek kom goed genoeg met hulle oor die weg. Ek weet verder uit ervaring dat ek streng kan wees wanneer ek moet, konserwatief wanneer dit nodig is, en verdraagsaam, oopkop en geduldig genoeg om kinders, kinders te laat wees.

Probleem is, ek gaan te veel gebuk onder my eie vrese en onsekerhede. Ek het ook geen rekord om te kan wys dat ek finansieel die verantwoordelikheid sal kan dra van ’n gesin nie – of dan ten minste om ’n redelike bydrae te kan maak saam met ’n salarisverdienende huweliksmaat. Daar is slegs een logiese konklusie: Ek kwalifiseer nie op hierdie tydstip van my lewe om enige iemand se pa te wees nie.

* * *

Dit is tog opvallend: Soveel van die dinge waaroor ek onseker is, het te make met die allerhoogste en noodsaaklikste euwel van ons beskawing: GELD.

As my toekoms wél die basiese vreugdes van ’n vrou en kinders insluit, sal ek slegs my oortuigings van persoonlike vryheid en kreatiewe onafhanklikheid, en my eie begrip van etiek en moraliteit, kan verkondig sonder voorbehoud, as ek genoeg geld het. Hoekom? Want al is jou ideaal van kreatiewe onafhanklikheid hoe noemenswaardig, en jou begrip van etiek en moraliteit hoe edel, sal dit niks meer as woorde wees as jy nie behoorlik na jou gesin kan omsien nie.

* * *

Die pad wat ek gekies het ná universiteit, die pad wat ek geloop het die afgelope tien jaar, is nie bevorderlik daarvoor om ’n Familieman te wees wat voldoen aan my eie hoë vereistes vir die rol nie. Hierdie vereistes is feitlik identies aan wat verwag word van ’n Goeie Pa en Gesinsman van die Sosio-ekonomiese Middelklas. Solank ek dagdrome het daaroor om self eendag ’n familieman te wees, sal my eie hoë vereistes van myself vir so ’n rol veroorsaak dat ek ligvoet trap in middelklasgeselskap terwyl ek hulle kritiseer; sal ek deur hulle geïntimideer word terwyl ek die spot dryf met hulle.

Die lewe wat ek geleef het die afgelope tien jaar, die keuses wat ek gemaak het en die resultate daarvan, is geskik vir die lewe van ’n enkellopende digter, skrywer, en leunstoel filosoof. Dit is geskik vir die ewige student van geskiedenis, godsdiens, filosofie en ’n taal of drie. Tensy ek gelukkig is, is dit ’n lewe van eensaamheid wat heel waarskynlik sal eindig in ’n vroeë dood.

Dit is die lewe wat ek vir alle praktiese doeleindes gekies het vir myself, en wat ek die moeite werd moet maak om te leef op ’n daaglikse basis. Dit is die lewe waarin ek gemaklik voel, wat my emosioneel in staat stel om my vrese en onsekerhede tot ’n mate hanteerbaar te maak, en om selfs kreatief te kan omgaan daarmee.

Dit is ook die lewe wat nie bevorderlik is vir die vervulling van ’n ander ideaal nie, naamlik om eendag die rol te speel van ’n Goeie Pa en Gesinsman.

Ek wou nog altyd in ’n klas van my eie gewees het. Op 32-jarige ouderdom kan ek myself op die skouer klop en sê: “Geluk ou maat. En jammer jy kan nou nie alles wees wat jy wil wees nie.”

Is dit goed genoeg? Dit móét wees, want dít is my lewe.

______________________