Oor ape en (sogenaamde) oorspronklikheid

DONDERDAG 7 OKTOBER 2004

Mens word gebore met min of meer geen identiteit nie, behalwe vir ’n naam. Binne enkele maande, of dalk ’n jaar of drie, begin jy ander mense in die omgewing se gedrag en taal na-aap. Soos jy ouer word, smelt hierdie na-apery saam met ander maatreëls om jou persoonlike veiligheid te bevorder – maatreëls wat relevant is tot partikulêre tyd en plek.

Wanneer ’n persoon ver genoeg weg beur van dit wat ander na-aap en goedvind vir hulself, gebeur dit dat die etiket van “oorspronklik” om hul nekke gehang word. Hierdie etiket is natuurlik nooit ten volle akkuraat nie, want selfs die sogenaamde “oorspronklike” kry sy idees van êrens af, geklee in ’n taal wat hy nie self geprakseer het nie.

Die punt hier is graad. Sommige mense aap ander so slaafs na dat mens skaars ’n verskil kan bespeur tussen die een wat nageaap word, en die aap self. En dan is dit natuurlik moontlik dat selfs die model ’n kloon is van iemand anders wat weer aanvanklik iemand anders slaafs nageaap het wat, êrens in die verre verlede, iets gedoen het wat tot ’n betekenisvolle graad verskil het van dit wat ander in daai tyd en plek nageaap het as Modelle van Funksionerende Volwassenheid.

Sê ek mense is gemeganiseerde vlees-kreature wat geprogrammeer word deur die soms subtiele, en soms eksplisiete voorskrifte van ander in die omgewing. Uhm … nee. Net omdat ek op die oomblik ’n paar denims aanhet, is nie te sê ek noem myself “Elvis” nie. Net omdat die buurvrou haar hare tease, is nie te sê sy weet wie Dolly Parton is nie. My punt is eerder dat iemand – wat ek aan gebrek aan ’n beter woord ’n “oorspronklike” sal noem – byvoorbeeld op een wonderlike dag besluit het om in die tradisionele werkersgewaad van denims te klim om inkopies te gaan doen, of om op enige ander uitstappie te gaan as na die naaste fabriek, en die wêreld was nooit weer dieselfde nie.

Die Nuwe Mens – kleuter, tiener, of jong volwassene – kyk na ander in die omgewing vir leidrade oor hoe om op te tree, wat om aan te trek, wat om wanneer te sê, en oor watter klanke gevorm moet word om bepaalde resultate te bewerkstellig. Dit is ’n natuurlike proses. Selfs die rebel wat die eerste keer ’n paar denims aangetrek het om te verskyn in ’n ander omgewing as een waar sy hande vuil sou raak, het opgetree na ander aksies eers geneem was – denim klere was ontwerp en vervaardig lank voor hy dit begin dra het buite sy werksplek. Sy aanpassing van hierdie verskynsel, aan die ander kant, was relatief oorspronklik (dis nou te sê as daar regtig ooit so ’n Eerste Denim Rebel was).

Enkele ander voorbeelde kan genoem word waarmee meeste lesers kan vereenselwig: die woordeskat en uitdrukkings wat mense benut om hulself in die guns van ander te bring; die wyses waarop arms geswaai word op ’n dansvloer; die tipe motorvoertuig waarop besluit word; die arbeid wat mense kies om te verrig om ’n inkomste te genereer; die juweliersware wat mense aanskaf om aan hul ledemate te hang; die oortuigings wat mense huldig aangaande godsdiens, politiek, en wat mens met jou lewe moet doen.

Is dit belangrik om nié te doen wat die spreekwoordelike almal doen nie? Om nie te lyk of te klink soos meeste van jou tydgenote nie? Om nie met jou lewe te doen wat omtrent almal wat jy ken met hulle lewens doen nie? My antwoord op hierdie vrae is intiem verweef met my eie siening van sake, met my eie agtergrond, met my eie onsekerhede en vrese, en met my beskouing van ’n groot persentasie van my tydgenote.

Ek glo wel dat daar drie moontlikhede is: 1) om slaafs na te volg wat deur jou omgewing voorgeskryf word ter wille van aanvaarding deur ’n spesifieke gemeenskap; deur Wie Jy Is te vorm om die aambeeld van wat aan jou voorgehou word as die norm van tyd, omgewing en gemeenskap; 2) om te kyk na wat aan jou voorgehou word as die norm van tyd, omgewing en gemeenskap, sommige van hierdie dinge te aanvaar, en sommige te verwerp in ’n KRITIESE EN KREATIEWE PROSES, en dan te verskyn aan die gemeenskap as ’n eiesoortige weergawe van wat breedweg aanvaarbaar is, en as sulks te funksioneer; en 3) om na voorbeelde en leidrade te soek buite jou onmiddellike tyd, omgewing en gemeenskap, en ’n model van verskyning en funksionering te definieer wat tot so ’n mate verskil van wat oorspronklik aan jou voorgehou is, dat jy en jou lewe ’n primêre voorbeeld word wat ander sal oorweeg in hul eie soeke na leidrade en antwoorde op vrae wat, sal ons toegee, almal op een of ander stadium wakker hou.

______________________