Onverwagse lesse uit die finansiële markte

VRYDAG 2 MEI 2014

Handeldryf op die finansiële markte is ’n skrywer se droom. Daar is die storie dat jy (in teorie) geld kan maak op jou eie tyd en in jou eie werksplek. Omdat die “trader” nie hoef te verskyn aan enige iemand nie, wat nog te sê om te probeer om iets aan iemand te verkoop, is dit ook ’n eerlike manier om geld te maak.

Wat ’n mens egter nie altyd verwag nie, is die spektrum van emosies: teleurstelling, optimisme, hoop, en hoe jy voel wanneer jy ’n fout maak wat veroorsaak dat al die klein winste wat jy oor die laaste uur opgebou het, weer in die sloot beland.

Goed en wel, as jy so ’n wye reeks emosies ervaar in een sessie, maak jy sekerlik te veel foute, en het jy sekerlik nog ’n pad om te gaan. Maar selfs hierdie foute voorsien die skrywer van goeie materiaal. Dat jy besig is om foute te elimineer en meer en meer regte aksies te neem is ’n reis, ’n proses van selfontdekking – ’n storie vol versigtige optimisme.

Deur hierdie hele proses leer jy dat die einddoel nie net is om geld te maak nie, maar om jou emosies onder beheer te kry, om kalm te kan bly onder druk en te doen wat jy weet reg is. Dit gaan daaroor om vertroue op te bou in wat jy doen, om te weet hoekom jy dit doen, en hoekom jy op die regte pad is. Dit gaan daaroor om te weet hoekom jy uiteindelik suksesvol sal wees, en om te glo in jouself as ’n agent om hierdie eindresultaat te bewerkstellig.

______________________