ONDERHOUD TUSSEN “BRAND” EN DIE “WYSGEER”

Deur 13 - 01 - 2003

13 Januarie 2003

(BRAND besef kort na hoërskool dat hy nie meer in die dieselfde kamer wil woon waar hy sy laaste skooljare geslyt het nie. Hy’t nie geld nie, en steeds is dit meer as wat sy ouers het, maar hy glo “alles sal uitwerk”. Die eerste deel van die onderhoud vind plaas rofweg tydens hierdie tyd.)

BRAND:    Waar moet ek nou bly?

WYSGEER:    Wel, jy kan óf teen die muur by die poskantoor slaap elke aand, óf jy kan vir jou ‘n “plek” kry, met ‘n deur wat jy kan toemaak as jy binne is, en wat jy kan sluit as jy uitgaan. ‘n Plek het ook die voordeel dat jy van jou “goed” daar kan hou, soos bokse vol gemors wat jy nie wil weggooi nie, en ou klere, ou liefdesbriewe, koppies om koffie uit te drink en so aan. Die probleem is jy moet betaal, elke maand, om in so ‘n plek te kan bly.

BRAND:    Wat moet ek doen om geld in die hande te kry?

WYSGEER:    Jy kan dit steel, maar jy kan opeindig in die tronk as jy gevang word. Plus, dis verkeerd om te steel. Die alternatief is dat jy werk daarvoor.

BRAND:    Watse werk moet ek dan doen?

WYSGEER:    Jy kan skottelgoed was in ‘n restaurant, of karre by die verkeersligte. Of jy kan grimering verkoop. Of worsrolletjies.

BRAND:    Hmm, dit klink nie na lekker werk nie.

WYSGEER:    Jy kan natuurlik ook werk doen wat miskien ‘n bietjie interessanter is, maar daarvoor moet jy opgelei word.

BRAND:    Opleiding? Waar kry ek dit?

WYSGEER:    Wel, siende dat hierdie onderhoud afspeel in die vroeë negentigs, moet jy seker universiteit toe gaan.

BRAND:    Watter universiteit? Kan ek Stellenbosch toe gaan?

WYSGEER:    In ag genome dat jou ouers in hierdie tyd in Pretoria woon, sou ek sê die universiteit van Pretoria is sekerlik die meer redelike opsie.

BRAND:    Maar ek wil regtig graag Kaap toe gaan…

WYSGEER:    Dan gaan jy Kaap toe. Ek is seker daarvan jy kan jare van broekskeur, en huiseienaars wat onvriendelik met jou is omdat jy nie die huur kan betaal nie, oorleef.

BRAND:    Waarvoor dink jy moet ek opgelei word?

WYSGEER:    Wel, waarin stel jy belang?

BRAND:    Ek hou van geskiedenis, en godsdiens, en sulke goed.

WYSGEER:    Wel, jy kan nie ‘n predikant word nie, want jy’t nie geld nie. So dit klink vir my soos onderwys. Jy kan dalk ‘n beurs kry wat jou klasgelde sal cover.

BRAND:    Fantasties! Maar… beteken dit nie ek moet actually ‘n onderwyser word nie?

WYSGEER:    In teorie, ja… wat het ek met daai remote gedoen?

(‘n Paar jaar later…)

BRAND:    Ek wil nie meer ‘n onderwyser word nie. Ek wil Sielkunde swot, of Filosofie, of my meestersgraad in Godsdienskunde doen, of in Geskiedenis. Ek wil ook oorsee gaan vir ‘n paar maande. Europa is so ‘n romantiese mooi plek…

WYSGEER:    Jy kan nie bekostig om Europa toe te gaan nie. Dit kos baie geld, jy weet?

BRAND:    Wel, ek het ‘n lening by die bank. Ek kan dalk…

WYSGEER:    ‘n Lening? By die bank? Ek dog jy wou nooit skuld by ‘n bank gehad het nie!

BRAND:    Ek weet. Dis ‘n lang storie…

(‘n Paar maande later. BRAND is terug van sy Europese reis.)

BRAND:    Sjoe, nou’t ek nie meer enige geld nie. En ek wil baie graag teruggaan Europa toe. Om die waarheid te sê sal ek na enige plek toe gaan, solank dit net oorsee is. Maar waar sal ek weer geld in die hande kry?

WYSGEER:    Hier’s ‘n advertensie in die Cape Times vir onderwysers in Korea…

BRAND:    Ag shit. Dan moet ek seker maar Korea toe gaan.

(Na 22 maande in Korea is BRAND terug in Suid-Afrika.)

BRAND:    Ek wil behoort, en ek wil myself toewy aan iets of iemand. Ek wil nie meer verlore ronddwaal nie. Ek wil ‘n skrywer wees, en ‘n scholar, en ‘n meester – in die sin van teacher, maar nie in die sin van onderwyser nie. En mag is alles. In elke verhouding kan jy sien wie’s meer in beheer, hoewel dit in die ideale verhouding wissel volgens tyd en situasie. Maar as jy nie mag het nie, het jy niks – geen vryheid nie, geen keuse nie. Ek het meer mag nodig. En ek hoef nie meer bekommerd te wees dat die konvensionele sosio-ekonomiese middelklas my sal insuig terwyl ek slaap nie. ‘n Mens moet actually baie hard werk om daar in te kom. So ek kan maar ontspan. Nou’t ek net meer geld nodig, want my spaargeld van 22 maande in Korea is besig om vinnig op te raak. Miskien moet ek weer oorsee gaan…

(BRAND oorleef vir agt maande in die land van sy geboorte. Vir ses maande lank werk hy in ‘n kantoor, vind eerstehandse bewyse vir sy insigte oor geld, mag en verhoudings, en woon onder andere in ‘n bediendekamer met pienk mure in Aucklandpark, waar hy slaap op ‘n stuk spons wat hy met sellotape aanmekaar geplak het.

Aan die einde van hierdie eksperiment in “Belonging & Commitment” pak hy weer sy klere en tapes in ‘n sak, en met geld wat ‘n vriend in Taiwan vir hom geleen het, is hy weer op pad – terug Verre Ooste toe. Na ‘n paar weke het hy ‘n werk, ‘n woonstel en ‘n scooter. Na ‘n paar jaar het hy ‘n hond, ‘n elektriese kitaar en ‘n nuwe rekenaar. En twee Chinese woordeboeke.

Die laaste deel van hierdie onderhoud vind plaas nadat hy pas besluit het om, voorlopig, ‘n vyfde jaar op die rebelse eiland te bly.)

BRAND:    Ek wil huis toe gaan, maar waar sal ek bly? Hoe sal ek geld verdien? Ek moet maar noodwendig langer hier bly. Maar wat van as ek een of ander tyd wil trou? Wat van as ek eendag kinders wil hê? Waar gaan ek die regte vrou ontmoet? Hoe gaan ek geld verdien vir my en ‘n vrou en kinders? Waar sal ons huis wees… want eintlik hou ek nogals daarvan om oorsee te woon, maar ek mis ook uit op al die KKNK’s en die Koos Kombuis-konserte. Ek wil ook weer vir ‘n slag behoorlike aartappelslaai eet. En ek wil my Chinees verbeter, en Russies leer praat. Ek wil van die huis af werk, want ek hou nie van kantore waar ek ander mense se reëls moet nakom, waarmee ek omtrent nooit saamstem nie. En ek wil weer ‘n bietjie Europa toe gaan. Dis so ‘n mooi en romantiese plek…

WYSGEER:    Ag tog.

Hierdie inskrywing dateer: 13 - 01 - 2003 om 23:21 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.