Onderhoud tussen “Brand” en die “wysgeer”

MAANDAG 13 JANUARIE 2003

(BRAND besef kort na hoërskool dat hy nie meer in die dieselfde kamer wil woon waar hy sy laaste skooljare geslyt het nie. Hy’t nie ’n sent op sy naam nie, maar hy glo “alles sal uitwerk”. Die eerste deel van die onderhoud dateer uit hierdie periode.)

BRAND: Ek is nou klaar met skool. Ek dink dis tyd dat ek my ouerhuis verlaat – die wêreld op my eie aandurf. Wat is my opsies?

WYSGEER: Wel, jy kan óf teen die muur by die poskantoor slaap elke aand, óf jy kan vir jou ’n “plek” kry, met ’n deur wat jy kan toemaak as jy binne is, en wat jy kan sluit as jy uitgaan. ’n Plek het ook die voordeel dat jy van jou “goed” daar kan hou, soos bokse vol gemors wat jy nie wil weggooi nie, en ou klere, ou liefdesbriewe, koppies om koffie uit te drink en so aan. Die probleem is dat jy moet betaal, elke maand, om in so ’n plek te kan woon.

BRAND: Wat moet ek doen om geld in die hande te kry?

WYSGEER: Jy kan dit steel, maar jy kan opeindig in die tronk as jy gevang word. Plus, dis verkeerd om te steel. Die alternatief is dat jy werk daarvoor.

BRAND: Ek het ’n paar jaar gelede koerante afgelewer … Wat anders kan ek doen?

WYSGEER: Jy kan skottelgoed was in ’n restaurant, of karre by verkeersligte. Of jy kan grimering verkoop. Of worsrolletjies.

BRAND: Dit klink nie na lekker werk nie.

WYSGEER: Jy kan natuurlik werk doen wat miskien ’n bietjie interessanter is, maar daarvoor moet jy opgelei word. Siende dat hierdie onderhoud afspeel in die vroeë negentigs, beteken dit jy moet universiteit toe gaan.

BRAND: Watter universiteit? Kan ek Stellenbosch toe gaan?

WYSGEER: In ag genome dat jou ouers in hierdie tyd in Pretoria woon, sou ek sê die universiteit van Pretoria is sekerlik die meer redelike opsie.

BRAND: Maar ek wil regtig graag Kaap toe gaan …

WYSGEER: Dan gaan jy Kaap toe. Ek is seker daarvan jy kan jare van broekskeur oorleef, en mense wat onvriendelik met jou is omdat jy nie die huur kan betaal nie.

BRAND: Wat dink jy moet ek studeer? Waarvoor moet ek opgelei word?

WYSGEER: Wel, waarin stel jy belang?

BRAND: Ek hou van geskiedenis, en godsdiens, en sulke goed.

WYSGEER: Wel, jy kan nie ’n predikant word nie, want jy’t nie geld vir teologie studeer nie. Dit lyk vir my onderwys is jou enigste werklike opsie. Jy kan probeer om ’n beurs te kry wat jou klasgelde sal dek.

BRAND: Fantasties! Maar … beteken dit nie ek moet later ’n onderwyser word nie?

WYSGEER: In teorie … hey, wat het van die laaste stuk pizza geword?!

(’n Paar jaar later …)

BRAND: Ek wil nie meer ’n onderwyser word nie. Ek wil Sielkunde swot, of Filosofie, of my meestersgraad in Godsdienskunde doen, of in Geskiedenis. Ek wil ook oorsee gaan vir ’n paar maande. Europa is so ’n interessante plek …

WYSGEER: Jy kan nie bekostig om Europa toe te gaan nie. Dit kos baie geld, jy weet?

BRAND: Wel, ek het ’n studielening by die bank. Ek kan dalk …

WYSGEER: ’n Lening? By die bank? Ek dog jy wou nooit skuld maak nie – veral nie by ’n bank nie!

BRAND: Ek weet. Dis ’n lang storie …

(’n Paar maande later. BRAND is terug van sy Europese reis.)

BRAND: Sjoe, nou’t ek nie meer enige geld nie. En ek wil baie graag teruggaan Europa toe. Om die waarheid te sê sal ek na enige plek toe gaan, solank dit net oorsee is. Maar waar sal ek weer geld in die hande kry?

WYSGEER: Hier’s ’n advertensie in die Cape Times vir onderwysers in Korea. Hulle sê hulle sal selfs vir jou vliegtuigkaartjie betaal …

BRAND: Ag, shit. Dan moet ek seker maar Korea toe gaan.

(Na 22 maande in Korea is BRAND terug in Suid-Afrika.)

BRAND: Ek wil behoort, en ek wil myself toewy aan iets of iemand. Ek wil nie meer verlore ronddwaal nie. Ek wil ’n skrywer wees, en ’n scholar. En mag is alles. In elke verhouding kan jy sien wie’s meer in beheer, hoewel dit in die ideale verhouding wissel volgens die situasie. Maar as jy nie mag het nie, het jy niks – geen vryheid nie, geen keuse nie. Ek het meer mag nodig. En ek hoef nie meer bekommerd te wees dat die sosio-ekonomiese middelklas my sal insuig terwyl ek slaap nie. ’n Mens moet actually baie hard werk om daar in te kom. So ek kan maar ontspan. Nou’t ek net meer geld nodig, want my spaargeld van 22 maande in Korea is besig om vinnig op te raak. Miskien moet ek weer oorsee gaan …

(BRAND oorleef vir agt maande in die land van sy geboorte. Vir ses maande lank werk hy in ’n kantoor, en vind eerstehandse bewyse vir sy vermoedens oor geld, mag, en verhoudings. Hy woon onder andere in ’n bediendekamer met pienk mure, waar hy slaap op ’n “matras” wat bestaan uit twee stukke spons wat hy met sellotape aanmekaar geplak het.

Aan die einde van hierdie eksperiment in “Belonging & Commitment” pak hy weer sy klere en kassette in ’n sak, en met geld wat ’n vriend in Taiwan vir hom geleen het, is hy weer op pad – terug Verre Ooste toe.

’n Paar weke na hy gearriveer het, het hy ’n werk, ’n woonstel, en ’n bromponie. Na ’n paar jaar het hy bygekry ’n hond, ’n elektriese kitaar, en ’n rekenaar. En twee Chinese woordeboeke.

Die laaste deel van hierdie onderhoud vind plaas kort nadat hy besluit het om, voorlopig, ’n vyfde jaar op die subtropiese eiland aan te bly.)

BRAND: Ek wil huis toe gaan, maar waar sal ek woon? Hoe sal ek geld verdien? Ek moet maar net eenvoudig langer hier bly. Maar wat van as ek een of ander tyd wil trou? Wat van as ek eendag kinders wil hê? Waar gaan ek die regte vrou ontmoet? Hoe gaan ek geld verdien vir my en ’n vrou en kinders? Waar sal ons woon … want eintlik hou ek nogal daarvan om oorsee te woon, maar ek mis ook uit op al die KKNK’s en die Koos Kombuis konserte. Ek wil ook weer vir ’n slag behoorlike aartappelslaai eet. En ek wil my Chinees verbeter, en Russies leer praat. Ek wil van die huis af werk, want ek hou nie van kantore nie. Ek haat dit om ander mense se reëls – waarmee ek omtrent nooit saamstem nie – te moet nakom. En ek wil weer ’n bietjie Europa toe gaan. Dis so ’n mooi en interessante plek …

WYSGEER: Ag tog.

______________________