Om onthou te word

SONDAG 20 FEBRUARIE 2000

Tradisie was ’n kenmerk van die hoërskool waar ek my tienerjare geslyt het. En soos dit ’n skool betaam wat hulleself roem op tradisie, het foto’s van ses dekades se eerste rugbyspanne gehang op ’n plek waar dit elke jong seun in die verbystap kon konfronteer met die moontlikheid van sy eie gesig teen dieselfde muur. Soms, as jy nuuskierig genoeg was en jy’t tyd gehad, kon jy vir ’n paar minute stilstaan by ’n foto om name by gesigte te plaas. Soos jy dan nou daar staan en staar na ’n foto, sou jy ’n vreemde term oplet tussen al die Jan Burgers en Floors van Jaarsvelds: NOG EEN. Ek kon nooit uitwerk hoe dit gebeur het dat hierdie ouens se name nie op die foto’s verskyn het nie, want ’n naam moes hy tog gehad het! Hierdie indruk dat nie almal onthou word nie, het by my vasgesteek.

Die mens word gebore, en soos die tyd aanstap, begin hy om sy wêreld te leer ken. Hy begin leer hoe dinge werk, wat hy moet doen om te oorleef, wat hy nié moet doen nie om uit die moeilikheid te bly, en wat oor die algemeen van hom verwag word. Uiteindelik besef die mens ook dat almal tot ’n mate soos hy is, dat hy tot ’n mate soos almal is. Almal eet, dra klere, borsel tande, raak soms kwaad, lag, en praat in tale wat die meeste mense in die omgewing verstaan. Hy besef as hy wil oorleef en uit die moeilikheid wil bly, hy die res se voorbeeld moet volg. Hy moet inpas by sy omgewing. Hy moet probeer om te wees soos die ander mense wat deel is van sy wêreld.

Soos die lewe maar is, maak hy ook op een of ander tyd kennis met die verskynsel dat mens doodgaan. Hy sien, en ervaar moontlik self, die groot rou: mense wat huil, en ’n atmosfeer wat oor die huis hang wat hy nog nooit voorheen teëgekom het nie. Hierdie jong mens sal seker nie verkwalik kan word as hy dink dat dít is hoe dinge van nou af gaan wees nie – ’n belangrike lid van die familie is dood, en niemand gaan hom of haar ooit weer sien nie. Maar die weke en maande gaan verby, en hy kom agter dat sy ma en pa weer begin lag as die hond iets snaaks aanvang, en die gras word nog steeds elke ander Saterdag gesny. Ook die lewe van hierdie jongeling gaan voort, soos voor die Groot Gebeurtenis.

Hierdie gebeure laat ’n groot indruk op die jong kind: Iemand wat altyd daar was, was skielik een dag nie meer daar nie; en die lewe het voortgegaan.

Dieselfde ding gebeur dalk weer – ’n ouma of oupa, of ’n oom of tannie, moontlik selfs iemand wat nou die dag nog saam met hom op die speelgrond rondgehardloop het. Dieselfde drama speel homself weer af: Mense huil, gedempte gesprekke word gevoer, en daar’s ’n stilte wat selfs die honde se geblaf uitdoof. Maar die kind let weereens op dat die grootmense nog steeds werk toe gaan, en elke aand eet hulle nog steeds aandete – soos tevore.

Die gewaarwording dat mense doodgaan, en dat die wêreld voortgaan sonder hulle – soos ’n trein wat passasiers aflaai en weer vertrek – word versterk by hierdie jong mens.

Op hierdie stadium is dit net ’n kwessie van tyd voor die kind besef dat ook hý eendag nie meer daar gaan wees nie. En soos met al die ander mense wat doodgegaan het, gaan die wêreld ook voortgaan sonder hóm. Ook dán sal iemand die nuus lees op TV, iemand sal voortgaan om grappies te maak, en al die honde in die buurt sal steeds blaf vir alles wat roer in die nag.

Soos die kind ouer word, word hy ook blootgestel aan die name van mense wat lankal dood is, maar wat om een of ander rede onthou word. In een gemeenskap is dit Piet Retief en Koos De La Rey, in ’n ander Elvis Presley en Marilyn Monroe, en in ’n ander deel van die wêreld Bruce Lee of Mao Zedong. Die kind besef dat daar sekere mense is wat nie net doodgegaan het en vergeet is na ’n tyd nie. Hy besef sekere mense het dinge gedoen gedurende hulle leeftyd wat maak dat hulle onthou word. Hulle word onthou in skoolboeke, in tydskrifte, in koerante, en op TV. Dalk word daar oor hulle gepreek Sondag in die kerk. Daar word dalk oor hulle gepraat op TV of langs ’n braaivleisvuur. En, lees hy in ’n tydskrif, mense herdenk nog steeds hulle gunsteling sanger se verjaarsdag dekades na sy dood.

Die kind kyk na homself, en na die mense om hom, en die tyd kom wat hy wonder waar hý inpas in hierdie HIËRARGIE VAN ONTHOU WORD. Gaan sý gesig eendag op seëls verskyn? Sal mense nog sy verjaarsdag onthou jare na hy dood is? Sal hulle jare later nog oor hom praat?

Die gemiddelde mens weet hy of sy is belangrik vir ’n klein groepie mense. Hulle weet die vrou wat die nuus lees op TV gaan moontlik nie huil as hulle doodgaan nie, maar hul ouers en broers en susters sal sekerlik vir ten minste ’n paar maande hartseer wees. Vir sommige mense is dit genoeg – om te weet dat hulle onthou sal word deur ’n klein maar betekenisvolle groepie mense. Ander mense hoop ten minste ’n paar honderd mense daag op by hulle afskeidsparty. En dan is daar mense wat nie ’n oomblik verloor om te dink aan sulke dinge nie, maar wie se begrafnis ’n hele stad – selfs ’n hele nasie – tot stilstand sal dwing.

Aan die een kant van die spektrum het ons die man wat ’n staatsleier was, moontlik die held van ’n politieke rewolusie, wie se idees eeue later nog bestudeer sal word. Hierdie man het dalk ook ’n hele paar kinders gehad, en talle kleinkinders en agterkleinkinders. Die man aan hierdie kant van die spektrum sterf dalk op ’n bejaarde ouderdom, omring deur sy kinders, en deur sy kleinkinders en agterkleinkinders. Sy idees, en sy goed gedokumenteerde woorde en dade leef voort in instellings, in biblioteke, en as deel van mense se algemene kennis. Aan die ander kant van die spektrum het ons ’n man wat geen broers of susters gehad het nie, wat nooit getrou het nie, nooit kinders gehad het nie, en nie veel het hulleself sy vriende genoem nie. Hy’t nooit enige boeke geskryf nie, nooit enige musiektreffers geproduseer nie, nooit enige iets gebou nie, en nooit enige iets ontwerp of uitgevind wat lank na sy dood nog van nut sou wees nie.

Die een man se naam gaan voortleef. Hy gaan onthou word. Die ander ou sal onthou word as net … NOG EEN. Mense sal later na hom verwys as die een wat in Kapasiteit X in Kantoor Y gewerk het, of as Die Man Wat In Die Rooi Huis Gewoon Het. Tien jaar na sy dood sal nie veel mense nog sy naam onthou nie.

Vele onder ons koester ’n begeerte om onthou te word vir dinge waaraan onsself waarde heg. Maar is dit enigsins meer as ’n soeke na ’n goeie gevoel oor jouself? ’n Mens sou wou sê dat dit juis hierdie begeerte is wat mense dryf om dinge te doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie, of om iets te vermag wat baie werk en toewyding verg – iets wat uiteindelik waarde sal hê vir meer mense as net ’n enkele individu.

Wat is dit wat maak dat mense erkenning soek? Hoekom hoop mense dat hulle onthou sal word lank na hulle sitplekke op die trein koud geword het?

Wat dit ook al is, dit dryf mense vorentoe. Dit dryf hulle om grense te verskuif, om nuwe grond te breek, en soms om hoop te gee wanneer ander dit die nodigste het. Dit dryf mense om vermoëns aan te leer wat hulle in unieke posisies plaas; om hulle eie lewens sodoende te verbeter, en om dalk die wêreld vir almal om hulle, en ná hulle beter te maak. Ongelukkig is hierdie soeke na erkenning ook die vuur wat mense dryf om oorloë te ontketen, en om te vernietig eerder as om te bou.

Laat daar dus konsensus wees: Laat dié wat dit verdien, beloon word met ’n posseël na hulle afsterwe, en laat hulle verjaarsdae onthou word. En laat die name van dié wat erkenning soek op destruktiewe wyses (en dit tragiese gevalle soms vind) onthou word as die resultaat van wanneer die donker kant soms die lig oorweldig.

Sal ons dan sê soeke na erkenning is goed, solank dit ’n oorwegend positiewe nalatenskap agterlaat? Om dus onthou te word vir ’n goeie bydrae – ’n enkele heldedaad, of ’n lewe van toewyding aan ’n goeie saak.

Elkeen van ons word uiteindelik gekonfronteer met sekere vrae: Waar, in hierdie HIËRARGIE VAN ONTHOU WORD, pas jy in? Waar wíl jy inpas? En laastens, vir wát wil jy onthou word?

______________________