OM ‘n KARAKTER TE WEES

Deur 09 - 02 - 2004

Ek het ‘n karakter in ‘n boek geword.

My opsies is beperk want ek moet die heeltyd seker maak dit stem ooreen met wat DIE BOEK sê. Dit is toevallig so dat ek wél wil teruggaan Suid-Afrika toe, maar selfs om dit op so ‘n banale manier te sê is gelaai met betekenis. Êrens binne my hoor ek ‘n stem paniekerig gil: “Hoekom sê ek/hy ‘wil teruggaan Suid-Afrika toe’? Moet dit nie eerder wees, ‘smag daarna met elke gram vet in my/sy liggaam nie’?”

Hierdie literêre projek is nog maande van die punt af wat ek kan wegstap daarvan, om dit vir ander mense te kan gee om te lees. Maar DIE BOEK is reeds heilig. Dinge is reeds geskryf, so ek kan dit nie meer verander nie!

Besef U, die Leser, dat ek soos ‘n vernuftige ouskool propagandis al die verwysings kan verwyder waar ek genoem het dat ek wil teruggaan Suid-Afrika toe? Ek kan dit alles vervang met “wil myself vestig in die Woesteny van Patagonië” of, “Elke greintjie van my wese smag daarna om ‘n dominee te word.”

Sal dit my geloofwaardigheid as die Skrywer en Hoofkarakter nog meer skade aandoen as ek moet noem dat ek reeds deur so ‘n proses gegaan het? Dat die eerste weergawe van hierdie projek eentonig aangekarring het oor my jarelange begeerte om Noord-Dakota toe te gaan? Dat dit is waar my vrou en my twee kinders woon – ekskuus, ek het verwysings na hulle ook uitgewis – vandat my broer (die twee susters was ook ‘n versinsel) hulle na Amerika geneem het om saam met hom op sy groot perdeplaas te woon? Sal U, die Leser, my glo as ek sê dat my broer dit gedoen omdat ek geld verduister het by… kom ons sê Standard Bank, en dat ek gedurende my sewe jaar in die tronk vorendag gekom het met die idee om ‘n boek te skryf oor “selfopgelegde ballingskap”?

Alternatiewelik is ek ‘n wese van die buitenste ruim.

Ly ek aan skisofrenie? Nee. Is ek gereed om te begin kortverhale skryf? Duidelik nie. Ek is wel geïrriteerd met die feit dat ek myself al hoe vaster skryf.

Gelukkig is ek ernstig oor my repatriasie planne, anders sou dit ‘n probleem geraak het. Ek sou dalk werklik stories moes begin fabriseer net om die projek te kon klaarmaak! Kan jy jouself die gevolge indink as ek skielik moes besluit ek bly nóg vyf jaar?

En om te dink ek wou oorspronklik hierdie stuk begin het met ‘n doodgewone vraag: “Hoe lyk my ideale lewe in Suid-Afrika?”

___________

Hierdie inskrywing dateer: 09 - 02 - 2004 om 20:52 en sorteer onder Die Februarie-Plan. [...]

Gesluit vir kommentaar.