Om ’n karakter te wees

MAANDAG 9 FEBRUARIE 2004

Ek het ’n karakter in ’n boek geword.

My opsies is beperk want ek moet die heeltyd seker maak dit stem ooreen met wat Die Boek sê. Dit is toevallig so dat ek wél wil teruggaan Suid-Afrika toe, maar selfs om dit op so ’n banale manier te sê, is gelaai met betekenis. Êrens binne my reageer ’n stem histeries: “Hoekom sê hy ‘wil teruggaan Suid-Afrika toe’? Moet dit nie eerder wees, ‘smag daarna met elke gram vet in sy liggaam nie’?”

Hierdie literêre projek is nog maande van die punt af wat ek kan wegstap daarvan, om dit vir ander mense te kan gee om te lees. Maar Die Boek is reeds heilig. Dinge is reeds geskryf, so ek kan dit nie meer verander nie!

Besef U, die Leser, dat ek soos ’n vernuftige ou-skool propagandis al die verwysings kan verwyder waar ek genoem het dat ek wil teruggaan Suid-Afrika toe? Ek kan dit alles vervang met “wil myself vestig in die Woesteny van Patagonië” of, “Elke greintjie van my wese smag daarna om ’n dominee te word.”

Wat van as ek sê dat ek reeds deur so ’n proses gegaan het? Dat die eerste weergawe van hierdie projek eentonig aangekarring het oor my jarelange begeerte om Noord-Dakota toe te gaan? Dat dit is waar my vrou en my twee kinders woon – ekskuus, ek het verwysings na hulle ook uitgewis – vandat my broer (die twee susters was ook ’n versinsel) hulle na Amerika geneem het om saam met hom op sy groot perdeplaas te woon? Sal U, die Leser, my glo as ek sê dat my broer dit gedoen omdat ek geld verduister het by … kom ons sê Standard Bank, en dat ek gedurende my sewe jaar in die tronk vorendag gekom het met die idee om ’n boek te skryf oor “selfopgelegde ballingskap”?

Die ander moontlikheid is dat ek ’n wese van die buitenste ruim is.

Ly ek aan skisofrenie? Nee. Is ek gereed om te begin kortverhale skryf? Duidelik nie. Ek is wel geïrriteerd met die feit dat ek myself al hoe vaster skryf, dat ek ingehok voel deur my eie skryfwerk.

En om te dink ek wou oorspronklik hierdie stuk begin het met ’n doodgewone vraag: Hoe lyk my ideale lewe in Suid-Afrika?

______________________