Om kanse te vat, en nie te veel skade aan te rig nie

DONDERDAG 9 JULIE 2009

Dis nie ek nie. Dit is net ’n onwillekeurige chemiese reaksie wat plaasvind in my brein in reaksie op ’n eksterne situasie. Om te sê, “Kyk nou hoe reageer ek weer!” is onjuis. Dit is beslis nie ek nie.

DONDERDAG 23 JULIE 2009

11:33

Het vanoggend die laaste deel van Boiler Room gekyk. Dit het my laat dink: Ons is die heeltyd gepla met ambisie en sukses en met hoe ons vergelyk met ons tydgenote, en met mense jonger as ons, en met mense ouer as ons toe hulle ons ouderdom was.

Hier is iets om te oorweeg: Probeer om nie te veel skade aan te rig nie. As jy aan die einde van ’n dag, of aan die einde van ’n week kan terugkyk en sê, “Ek reken ek het nie te veel dinge gedoen wat vir my of vir ander mense ’n klomp probleme gaan gee nie,” kan jy alreeds ’n sug van verligting gee.

Sukses, en drome wat gerealiseer word, is dan ’n bonus, nie net ’n stok waarmee jy jouself aanpor elke dag nie.

[Hier is wat die Britse akteur van Yes, Minister-faam, Paul Eddington, in 1995 tydens ’n onderhoud op TV gesê het: “A journalist once asked me what I would like my epitaph to be and I said I think I would like it to be ‘He did very little harm’. And that’s not easy. Most people seem to me to do a great deal of harm. If I could be remembered as having done very little, that would suit me.”]

17:55

Almal waag kanse. Almal “dobbel”. Om roulette te speel, ’n koffiewinkel oop te maak, met iemand te trou, geld te waag op die perde, ’n nuwe betrekking te aanvaar, maak nie saak hoe jy dit spel of hoe dit uit jou mond uitkom nie, almal dobbel.

VRYDAG 31 JULIE 2009

’n Paar punte:

1. ’n Mislukking, vir alle praktiese doeleindes, en om verskeie goeie redes; dit is hoe ek verskyn aan myself, aan Natasja, haar vriende, my familie, en aan my enkele vriende.

2. Om hierdie rede, en vir die gepaardgaande desperate behoefte aan wedergeboorte, of net eenvoudig goeie ou transformasie, gaan ek nou my baard afskeer. (Skoon: 14:28)

______________________