OM DEEL TE WEES VAN IETS GROTER
[Dinsdag, 2 September 2003]
Ek sal hierdie stuk begin met ‘n feit: Daar is dinge in hierdie lewe wat groter is as enige enkele individu.
Hierdie insig mag slim lyk totdat jy besef jou hele bestaan is afhanklik van dinge wat groter as jy is, dat jy inderdaad nie eens ‘n mens kon word as dit nie was vir die feit dat daar mense voor jou was nie, wat almal ook afhanklik was van dinge wat groter as húlle was.
Ek behoort dus ook nie verbaas te wees nie as iemand my borrel nog verder prik deur te sê, “Almal weet hierdie dinge.” Almal weet daar is dinge groter as enige enkele individu.
My oorspronklike stelling, wat ten spyte van die feit dat almal dit weet steeds uitermatig diepsinnig is, moet dus ‘n bietjie rooipeper bykry om dit genoeg skop te gee as die fokus van ‘n essay.
***
[Twee weke later; Woensdag, 17 September; klein ure van die oggend.]
Almal behoort op een of ander manier aan die Groter Geheel – die sielkundige, die filosoof, die predikant, en die digter wat bewustelik hieraan dink; so ook die Hells Angel op sy Harley Davidson, die lid van die Mafia, die bendelid wat nie veel omgee vir teorieë oor tropmentaliteit nie, die president van ‘n groot maatskappy, die kleinboer in China, die boemelaar, en die politikus. Meeste mense het ‘n redelike idee hoe hulle inpas in die Groot Legkaart, ongeag of hulle bewustelik daaraan dink of nie; selfs as hulle nie eens oor die regte woordeskat beskik om ‘n intelligente gedagte te formuleer oor die onderwerp nie.
Die manier hoe jy “inpas” by die Groter Geheel is soos ‘n paspoort wat jy sou kon wys aan ‘n kosmiese immigrasie-beampte wat wil weet, “Wie is jy?” Hierdie “paspoort” bevat inligting oor die spesie waaraan jy behoort (“Meneer X sorteer onder die spesie Homo Sapiens en moet dus nie as ‘n werfhond beskou word nie”), jou ouderdom, en ook jou naam, of name (die een wat jou ouers jou gegee het, die byname wat jou vriende jou noem, en/of die naam wat jyself gekies het). Dit bevat data oor die plek waar jy gebore is, waar jy op skool was (as jy sover gekom het), en of jy tersiêre opleiding gekry het (en indien wel, waar). Dit bevat ook data oor jou voorkeure en afkeure, jou talente, jou belangstellings, wat jy al gedoen het met jou lewe, wat jy nog wil doen, jou drome, jou ambisies en jou mislukkings. Ander belangrike inligting sluit in of jy jouself ag as lid van een of ander religieuse gemeenskap; indien wel, watter spesifieke religie, en selfs watter sub-sekte of denominasie. Waar jy woon, in watter sosio-ekonomiese klas jy geplaas kan word, of jy getroud is of nie, jou seksuele oriëntasie, of jy kinders het of nie, en wat jy doen op ‘n daaglikse basis om te oorleef, is alles verdere detail wat jou individuele kosmiese kode bepaal wat jou op ‘n unieke manier “wettiglik” deel maak van die Groter Geheel. ‘n Verdere bepalende faktor is assosiasies, wat insluit familie, vriende, kennisse, vennote, en selfs vyande (“ABC is die seun van EDF, eggenoot van GHI, pa van JKL en MNO, beste vriend van PQR, besigheidsvennoot van STU, en aartsvyand van XYZ”).
Twee laaste gedagtes verdien melding in hierdie verband: Jy moet al bogenoemde stukkies data oor jouself wéét, en jy moet dit wéés om in eerlikheid teenoor jouself en teenoor ander aanspraak te kan maak op die Unieke Kosmiese Kode wat gebaseer is op die spesifieke data.
Om nie te weet “wie jy is” nie, en derhalwe hoe jy inpas-en-behoort aan die Groter Geheel, is om vervreemd te voel van die omgewing waarbinne jy jouself bevind. Hierdie gebrek aan lidmaatskap lei feitlik sonder uitsondering tot een of meer van die volgende toestande: eensaamheid, ‘n gevoel van isolasie, heel moontlik angstigheid, en ‘n aggressiewe houding jeens jou omgewing en die mense met wie jy in daaglikse kontak is.
Om bogenoemde punte beter te illustreer, stel jouself die volgende situasie voor: Piet X van Bronkhorstspruit ontmoet vir Jan Z by ‘n braai. Jan Z stel homself voor as “Jan Z van Pretoria” en steek sy hand uit. Piet X glimlag vriendelik, steek ook sy hand uit, en stel homself voor as “Jan Z van Pretoria”. Die werklike Jan Z van Pretoria sal moontlik geïrriteerd glimlag vir wat hy sal glo ‘n poging tot humor is, maar hy sal vinnig aanskuif na ‘n volgende groep as hy besef dat Piet X heeltemal ernstig is – laasgenoemde is oortuig daarvan dat ook hý “Jan Z van Pretoria” is. Later die aand stel Klara K van Kaapstad haarself aan Piet voor, en weereens antwoord hy in alle erns dat ook hý “Klara K van Kaapstad” is.
Almal, behalwe moontlik Piet X, sal teen die einde van die aand oortuig wees van die feit dat Piet in groot moeilikheid is. Hoekom? Omdat jy moet wéét wie jy is om te kan oorleef, en om te kan funksioneer in ‘n omgewing buite inrigtings vir disfunksioneles.
***
Wat het hierdie groot insigte uit te waai met of ek vroeg volgende jaar teruggaan Suid-Afrika toe, of nie? Alles.
As ek “Piet X van Bronkhorstspruit” is, wil ek myself kan voorstel as “Piet X van Bronkhorstspruit”, en ek wil oortuig wees van wat dit beteken om “Piet X van Bronkhorstspruit” te wees. Verder wil ek weet as “Jan Z van Pretoria” goed voel oor wat dit beteken om “Jan Z van Pretoria” te wees, ek ook goed voel oor wie ék is. En as “Klara K van Kaapstad” haarself aan my voorstel, en ek kom agter in die verloop van die gesprek wat volg dat sy oortuig is daarvan dat sy nie “Linda Q van Johannesburg” is nie (en ook nie wil wees nie), dan wil ek in my binneste weet dat ek dieselfde oortuiging van myself uitstraal.
Is ek tans oortuig van wie ek is? Is ek verder oortuig dat “Brand X, voorheen van Taiwan en Korea maar nou van Bronkhorstspruit”, sy Kosmiese Kode trots sal kan resiteer by kerkvergaderings en rugby-braais? Of is dit vir my belangriker om my lidmaatskap te behou, vir eers, van ‘n groep mense wat buite woon?
[Woensdag, 17 September; laatmiddag]
So, dit blyk dat ek tans ‘n moerse Bronkhorstspruit-backlash ervaar. Goed en wel, ek het nie sewe jaar in die Ooste spandeer om net skielik een dag op ‘n sentimentele pap badkamermat te klim en, terwyl die mat by die deur uitvlie, vir almal te wuif soos een of ander crash course Zen guru en te sê, “OK julle, ek fokof dan… kom braai saam met ons in Bronkhorstspruit!” nie. Nee, die hele idee moet soos enige ander plan met vrot kool en eiers bestook word. As die plan die volgende oggend kan opstaan, en met ‘n koolblaar wat soos ‘n ongekamde kuif in sy oë hang op die stoep kan verskyn en kan verklaar, “Ek is oraait! Hoesit?!” dan weet ek ek het iets beet.
Ek het wel gewonder, vir akademies redes, wat die reaksie teen Bronkhorstspruit veroorsaak het. Soos ek my fiksheidstoerusting afstof en wegpak, gaan ek in my geestesoog deur die lys van dinge wat my lewe sal opvul as “Brand-van-Bronkhorstspruit”: my besigheidsprojekte, besoeke aan die plaaslike Spar, braaivleis en nagereg by die familie, en natuurlik my skryfwerk. Ek dink toe dat ek selfs kan oorweeg om in te skryf vir ‘n akademiese kursus of twee in rigtings waarin ek geïnteresseerd is, insluitende Chinees.
Ek vra myself toe wat die groot verskil is tussen dít, en wat ek nou doen. Natuurlik speel omgewing ‘n groot rol in mens se daaglikse lewenservaring, en Benewelde Lig Nuwe Dorp in die Berg-van-die-Feniks is beslis ‘n interessanter omgewing as Woonstelle-op-die-Rand-van-die-Dorp in Bronkhorstspruit. Maar hoe belangrik is dit werklik as mens aan die einde jou somme maak?
Helaas, dit was die beeld van my wat sit en skryf in my woonstel, waar ookal in Suid-Afrika, wat toe ‘n interne alarm laat afgaan. My identiteit as ‘n skrywer is vir my van kardinale belang. Dis wie ek is. Dis wat ek doen. Dis nie net ‘n edel en betekenisvolle beroep om te volg nie, dis ‘n lewe wat my inspireer om op te staan in die oggend, en watse omgewing ookal buite my venster is, in die gesig te staar.
Ek neem toe my plek in by die spieëltafel, gereed om formeel diepsinnig te raak. Toe tref dit my: Meer as negentig persent van alles wat ek neergevel het op papier die afgelope vyf jaar het te make gehad met my lewe in selfopgelegde ballingskap! My identiteit as ‘n SKRYWER is (ten minste op hierdie stadium van my lewe) ‘n onvervangbare aspek van my KOSMIESE KODE, en WIE EK IS AS ‘n SKRYWER, IS INEENGESTRENGEL MET MY LEWE OP HIERDIE EILAND!
Wie is ek dus, as ek nie “Brand-in-Ballingskap” is nie?
***
[‘n Grillerige Japanese riller in die plaaslike teater later...]
“Deur briljante speurwerk het die Interne Diens die hoofverdagte gekonfronteer, en met behulp van uitstaande ondervragingstegnieke die verdagte geforseer om skuld te beken. Dit is dus my beskeie eer om aan die Volk bekend te maak dat die skuldige is… die Skrywer! Die Skrywer, dames en edel menere, is die een wat die Volk se moraal en wilskrag binnegesypel en besoedel het met… ANGS!”
Krete van skok word soos gebruiklik sonder beleefdheid verdoof. Die inspekteur gaan voort asof hy net sy keel skoongemaak het.
“Na verdere ondersoek na die motivering van die Skrywer het dit aan die lig gekom dat hy in diepe bepeinsing die afgelope paar weke se onderhandelinge gevolg het. Teen Maadagaand was hy oortuig van wat hy eers net vermoed het – dat hy sy werk gaan verloor in die Beplande Repatriasie; dat hy afgedank gaan word, ge-fire gaan word, afgeskaal gaan word, sonder enige waardigheid op vroeë aftrede gedwing gaan word. Die Skrywer het besef as hý stof gaan byt, hy nie alleen gaan eet nie.
“Gelukkig is onse Staat hoogs liberaal en linksgesind, so die Hoof Oopkop is ingeroep vir onmiddellike herstelwerk aan die Skrywer se gemoed. En natuurlik, dames en beleefde menere, om hom te verseker dat hy ‘n onvervangbare deel is van Onse Edel Staat! Ons sal immers nie ‘n behoorlike doel kan formuleer vir ons bestaan sonder die diepsinnige materiaal wat ons sensitiewe en angsgevulde Hooftroep in die Stryd vir die Siel so gereeld in ons gesigte gooi nie!
“So, lank lewe die Skrywer! Lank lewe Ons Staat! Voorwaarts Stryders vir Ons Stryd! As ek nou net die vervloekte sleutels kan kry om die Skrywer van sy boeie te libereer…”
***
Om deel te wees van iets groter as die enkele JY, is ‘n behoefte wat sentraal is aan die mens se ervaring van die lewe. Dis een van die primêre redes hoekom mense ‘n behoefte het aan godsdiens. Dis die rede hoekom mense verkies om deel te wees van ‘n groep eerder as om alleen te wees. Dis die rede hoekom mense patrioties is. Dis een van die redes hoekom mense ‘n spesifieke sportspan ondersteun. Dis ook een van die redes hoekom ‘n nuwe lid van die Hells Angels sal verskyn in bepaalde kleredrag, en ‘n ketting rondswaai eerder as om motoriste met droeë ertjies deur ‘n strooitjie te skiet – laasgenoemde keuse van wapentuig sou hom nie kwalifiseer as deel van die groep waaraan hy wil behoort nie; so ook nie om rond te ry op sy staalperd in ‘n pak klere met ‘n wit hemp en ‘n rooi das nie.
Omdat mense nodig het om deel te wees van iets groter as net die enkeling wat sy in haar vel is (of hy in syne), definieer mense hulle identiteit – hulle “kosmiese kode” – tot ‘n groot mate volgens groepe waaraan hulle behoort, hetsy dit ‘n maatskappy of instelling is waarvoor hulle werk, ‘n ondersteunersgroep van een of ander sportspan, nasionaliteit van ‘n politieke staat, lidmaatskap van ‘n gesin of familie, lidmaatskap van een of ander subkultuur, of ‘n kombinasie van al voorafgenoemde.
Verhoudings is ‘n fundamentele aspek van hierdie stelsel van identiteit-deur-assosiasie, van weet-wie-jy-is-deur-te-weet-hoe-jy-inpas-deur-middel-van-lidmaatskap-aan-iets-groters-as-net-jyself. Verhoudings bevestig lidmaatskap: “Jy’s een van ons.” Verhoudings verminder angs: “Ek is nie die enigste een nie.” Verhoudings versterk identiteit: “Hier’s Piet X nou. Hy ken my beter as wat ek myself ken.”
Verhoudings hou ook soms die individu gevange deurdat ‘n persoon tot konformiteit gemanipuleer word ter wille van lidmaatskap aan die groep. Soms vernietig verhoudings geloof in goeie dinge. Soms lei verhoudings tot vernietiging van wat goed is. Soms lei die hardkoppige handhawing van ‘n verhouding – ter wille van die voordele van lidmaatskap, of veronderstelde voordele in sommige gevalle – tot die dood van die Self, of tot die dood van ander.
Maar verhoudings is meestal goed. Verhoudings lei in baie gevalle tot ‘n meer genotvolle ervaring van die lewe. Verhoudings versterk wanneer die enkeling swak is. Verhoudings vertroos. Verhoudings bring nuwe lewe. Verhoudings is onvervangbaar in die proses van om te behoort aan die Groter Geheel.
Daar kan verder gespekuleer word in hierdie stuk dat ek, die Skrywer van Stukke, ‘n betekenisvolle gebrek ervaar aan definiërende verhoudings.
___________
