Nuwe benadering – toewyding – aanvaar jouself

MAANDAG 7 JUNIE 2004

’n Nuwe benadering?

Ek hoor daar’s cool Mexikaanse hip-hop, maar selfs al koop ek daarvan, is daar cool Oesbekiese musiek waarna ek nooit in my lewe sal luister nie. En selfs al luister ek eendag Oesbekiese musiek, sal ek nooit ’n Oesbeek wéés nie. En selfs al trou ek met ’n Oesbekiese vrou en ons gaan woon in Indië, sal ek nooit ’n Indiër wees nie. En selfs al emigreer ons Amerika toe, sal ek nooit ’n gebore en getoë Amerikaner wees nie. En selfs al woon ek in New York vir dertig jaar, sal ek nooit ’n Fransman wees nie. En al gaan woon ek in Parys, sal ek nooit in Swede woon nie. En al woon ek vir tien jaar lank in Stockholm, sal ek nooit in Japan woon tydens die veertiende eeu nie …

Voorwaarde vir toewyding: As jy eers aanvaar dat jy ’n spesifieke mens is, kan jy jouself verbind tot ’n spesifieke lewe.

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Aanvaar jouself – al is dit net om tyd te spaar

Ek aanvaar die partikulariteit van my agtergrond. Ek dink en skryf meeste van die tyd in Afrikaans, my vel is “wit”, my gelaatstrekke gedikteer deur die gene afkomstig van my hoofsaaklik Germaanse voorouers.

Ek kan verander hoe ek lyk. Ek kan ook moeilik wees en my taalagtergrond verwerp – omdat ek dit nie gekies het nie, en myself dwing om net in Engels te dink en te skryf. Ek kan selfs meer radikaal wees en ’n ander taal (as Engels) kies, die taal bemeester, en uiteindelik net in daai taal dink en skryf. Aan die einde van so ’n proses – wat jare se harde werk sal verg – sal ek ’n pragtige illustrasie wees van ’n “self-made man”.

Ek is egter bereid om so ’n radikale illustrasie te laat vaar ter wille van tyd en energie, en bloot die partikulariteit van my fisiese voorkoms, en my moedertaal en kulturele agtergrond merendeels te aanvaar soos dit is, en as goed genoeg te ag as instrumente wat die proses van self-ontdekking en self-formulering fasiliteer.

______________________