NOTA AAN MYSELF
Dit is natuurlik vir meeste mense om verskillende verhoudings te hê met ‘n verskeidenheid mense – met vriende, kennisse, familie, en in die geval van volwassenes, ‘n intieme verhouding met (gewoonlik) een ander persoon. Indien daar ‘n gebrek is aan betekenisvolle verhoudings (veral van die intieme soort), het die volwasse persoon geen ander keuse nie as om aksies te neem wat opmaak vir die gebrek. Hierdie aktiwiteite mag dalk uiteindelik waarde hê wat verder strek as die oorspronklike doel, maar dit verander niks aan die feit dat dit aanvanklik onderneem was om op te maak vir iets anders nie.
My dag bestaan uit ‘n verskeidenheid aktiwiteite. Sommige aktiwiteite, soos om ontbyt en ten minste een ander maaltyd per dag te geniet, om myself relatief higiënies te hou, en om werk te doen wat my voorsien van voldoende kapitaal om my basiese lewenskostes te dek, is alles gemik op die handhawing van my fisiese bestaan. Ander aktiwiteite, soos om videos te kyk, card games op die rekenaar te speel, en musiek te luister, is ingestel op fisieke en verstandelike ontspanning.
‘n Derde tipe aktiwiteit – wat deel is van my lewe sewe dae per week – kan beskryf word as “aktiwiteite wat gemik is daarop om op te maak vir die gebrek aan voldoende persoonlike verhoudings”. Hierdie aktiwiteite sluit in om te skryf, om koerante en geskiedenisboeke te lees, en om die Chinese taal te probeer bemeester; aktiwiteite wat duidelik potensiële waarde het wat veel verder strek as blote kompensasies.
Die feit bly egter staan dat die primêre doelwit van hierdie aktiwiteite is, op hierdie stadium van my lewe, om op te maak vir die afwesigheid van sekere dinge, my aandag af te trek van ander dinge wat pla, en om gevoelens van emosionele armlastigheid te verlig (of in die geval van skryfwerk, om uitdrukking te gee daaraan).*
(Woensdag, 15 Oktober 2003)
_____________________
* Hierdie idee van “kompenseer, aandag aftrek, en verlig” kom uit iets wat Siegmund Freud gesê het: “Life as we know it is too hard for us; it entails too much pain, too many disappointments, impossible tasks. We cannot do without palliative remedies. There are perhaps three of these means: Powerful diversions of interest, which lead us to care little about our misery; substitutive gratifications, which lessen it; and intoxicating substances, which make us insensitive to it. Something of this kind is indispensable.” (Uit Wisdom: The Magazine of Knowledge for Lifetime Learning and Education, 1960)
___________
