Nooit te vroeg vir ketterse gedagtes nie

VRYDAG 26 NOVEMBER 2004

08:28

Die probleem met godsdiens as identiteitsbepaler is dat dit konstant moet bly om geloofwaardigheid te behou vir die mense aan wie dit ’n religieuse identiteit verleen. Maar om betekenisvol te bly as bepaler van identiteit, moet die bron van religieuse simbole (religieuse teks, instellings soos “kerk”) soms verander – bietjie vir bietjie, maar steeds tot so ’n mate dat die bron vandag fundamenteel verskil van die bron van 500 of 1,000 jaar gelede.

Wat gebeur dan wanneer iemand wat ’n spesifieke godsdiens benut vir identiteitsdoeleindes kennis en kritiese begrip bekom van hierdie fundamentele verandering? Een moontlikheid is dat so ’n persoon ’n toestand sal ontwikkel wat genoem kan word, ’n geloofskrisis.

* * *

Siende dat ek sopas opgestaan het en nog nie eens ontbyt geëet het nie, mag mens dalk wonder of dit nie ’n bietjie vroeg is vir gedagtes soos bogenoemde nie. My antwoord is, blykbaar nie – nie as mens die gedagte, formulering en al, gedink het in jou laaste droom nie!

Die droomtoneel het afgespeel aan ’n etenstafel saam met mense saam met wie ek stedelike sendingwerk gedoen het meer as ’n dekade gelede, en ook ander tydgenote van hoërskool. Terwyl ons geëet het – in die eetkamer van die vroeg twintigste-eeuse herehuis wat die hoofkwartier van die organisasie was, was daar ’n helse party aan die gang in die voortuin. Soos ek toe hap aan nog ’n heerlike dis op my bord, kom die gedagte …

08:39

Mense met wie ek in daai tyd baie noue verhoudings gehad het, mag dalk sê dat ek my religieuse identiteit verloën het. Ek is van mening dat ek my religieuse identiteit ontgroei het.

Een so ’n persoon mag dalk verder gaan en met kalm oortuiging sê dat mens nie die waarheid kan ontgroei nie. Ek sal, ewe kalm, reageer: “Ek is steeds toegewyd daaraan om die waarheid te ken. En ek het nie ’n institusie-gedefinieerde identiteit nodig om die waarheid te ken, of na te streef nie.”

———–

[In vele gevalle sal leiers van religieuse bewegings aanspraak maak daarop dat hulle niks verander aan hul religie nie, hulle draai bloot terug na ’n vroeër, suiwerder vorm daarvan. Hierdie verduideliking verseker dat die religie geloofwaardigheid behou as identiteitsbepaler, en dit regverdig ook die veranderinge wat hulle aanbring aan die praktiese uitdrukking van lidmaatskap aan die religie, of dalk selfs aspekte van die teologie, juis om dit toepaslik te hou vir mense met ander religieuse behoeftes as wat mense gehad het 500 of 1,000 jaar gelede.]

______________________