niemand-land
in die uitgestrektheid tussen hier en daar
lê nou en later onrusbarend, deurmekaar
oor ‘n landskap, ‘n wildernis van tyd
lê ‘n eiland so onbekend soos gister was
laasnag nog sou jy wonder oor die wysheid
die waarde van verdwyning, van anonimiteit
om weg te gaan van daar waar jy bekend was
waar jy kon geleer het om uiteindelik in te pas
maar vanoggend het die waarheid
onbeskof en bloots voor jou kom lê
nakend soos die tyd toe jy nog naamloos was
toe almal nog oor jou gewonder het
sou jy of enige iemand ooit kon dink:
dat jy jouself uiteind’lik sou kon vind
in ‘n plek waar jy bekend aan niemand is
maar waar almal wat mag wonder weet
dat jy op reis, op pad na êrens is
en jy wens jy kon dié wat nie verstaan, vertel:
dat hierdie niemand-land, soos middagstilte
jou toelaat om onbeslommerd te kan droom
om te kan praat oor wie en wat jy werklik is
sonder om te twyfel, en sonder om te skroom
(taiwan, 1999)
_________________
