Nie die eerste nota oor ophou rook nie

DONDERDAG 25 DESEMBER 2008

Een van die redes hoekom mense dit moeilik vind om op te hou rook, is omdat hulle dink hulle nooit weer ’n sekere ervaring gaan hê wat hulle assosieer met rook nie. Ek onderskryf die idee dat dit nie gaan daaroor dat jy nooit weer iets sal doen of nooit weer ’n sekere ervaring sal hê nie, dit gaan daaroor dat jy ’n gewoonte breek.

Die roker wat ernstig oorweeg om die gewoonte te breek, moet dink daaraan dat hy weer ’n sigaret sal rook, of ’n sigaar, of ’n trek aan ’n pyp sal vat, maar dat dit dan nie deel sal wees van ’n roetine verbind aan ’n verslawing nie; dat dit nie deel sal wees van ’n roetine vernieling van sy gesondheid nie.

———–

Nota op Donderdag 26 Mei 2016

Hierdie teks was nie die eerste nota wat ek oor die jare geskryf het oor die tema van ophou rook nie. Wat wel uniek was, was dat die hernude poging wat ek op daai dag, Kersdag 2008, aangewend het om die gewoonte te breek, uiteindelik suksesvol was.

Hoe het ek dit gedoen?

Nadat ek daai aand my laaste sigaret doodgedruk het, het ek alles in my woonstel wat enige iets te make gehad het met rook, in ’n ou boeksak gedruk – asbakkies, sigaretaanstekers, pype, Rizla papiertjies en sigaretrolmasjien, en natuurlik die pakkie met ’n laaste paar sigarette. Die volgende dag het ek dit na Natasja se woonstel geneem, en dit diep onder in ’n kas gedruk. Ek het wel ’n ooreenkoms met myself aangegaan dat ek na twee weke die sak mag uithaal om twee sigarette te rook. So het ek dit toe wel gedoen, weer die sak gebêre, met die gedagte dat ek twee weke later weer ’n enkele sigaret mag rook. Teen einde Januarie het ek gedink ek druk nog so ’n bietjie deur.

Maande later, so teen September 2009, het ek besluit ek is weer lus vir ’n sigaret. Ek en Natasja het uitgegaan saam met vriende die aand, van wie ’n hele paar gerook het, en ons het besluit ons sal vir ons ’n pakkie pyptabak sigarette koop. Ek het twee of drie sigarette die aand gerook. Toe kom die groot toets: Sal ek nog ene rook wanneer ons by die huis kom, soos ek altyd gedoen het, op die balkon, terwyl ek uitstaar oor die naglandskap? Nee, het ek besluit, geen sigarette by die huis nie.

So het dit gebly vir die volgende paar jaar. Wanneer ons uitgegaan het, sou ons ons pakkie sigarette uit die yskas haal – ons het elke paar maande ’n vars pakkie gekoop, ons paar sigarette rook buite die drinkplek of restaurant saam met vriende, en terug by die huis weer die pakkie bêre in die yskas.

Toe, seker twee jaar gelede, voor ons uitgegaan het die een aand, besef ek dat ek glad nie lus is vir die rokery buite die restaurant nie. Die reuk aan my vingers, die smaak in my mond, die moontlikheid dat ek ’n “head rush” sal kry van die skielike nikotien, was net eenvoudig nie die ervaring – wat ek voorheen elke dag so geniet het – werd nie.

Dit is toe wat ek besef het my poging wat ek begin het op Kersdag 2008, het sy ideale punt bereik: Ek kan enige tyd kafee toe stap, ’n pakkie sigarette koop en lekker gaan sit en rook op die balkon, as ek wil – maar, soos dit blyk na al die jare, het ek geen behoefte meer daaraan nie.

______________________