NET NOG ‘n STUK
Hierdie jaar het ‘n paar goeie dinge opgelewer. Ek het onder andere besef nie een van my planne gaan ooit uitwerk nie en dat ek heel waarskynlik vasgevang gaan wees in ‘n “Ballingskap”-essay vir die res van my lewe. Ek het ook baie dinge wys geraak oor die lewe, en baie stukke geskryf daaroor. Die verwikkeling wat egter aanleiding gegee het tot hierdie spesifieke skrywe, is dat ek weer tennis begin speel het. Hierdie heerlike gryp terug na die dae van my jeug was te danke aan my vriend O. – altyd opsoek na iemand om saam met hom een of ander sportiewe aksie te onderneem.
So gebeur dit toe dat ek en my aktiewe vriend Donderdagmiddag agter ou tennisballe aanhardloop. Ek neem toe so in die middel van ‘n dubbelfout notisie van die spelers op die baan oorkant ons. Enige iemand wat al ooit tennis gespeel het enige plek in die wêreld sou die skouspel herken het – ‘n afrigter, en ‘n tienerseun wat die een perfekte voorarm na die ander oor die net stuur.
Die voorarm-aksie was egter nie wat my die meeste beïndruk het nie. Die jong speler was geklee in die mees perfekte oefendrag wat mens uit enige tennistydskrif sou kon begeer. Duur tennisskoene. Duur, behoorlike tennissokkies. ‘n Broek wat hom pas, en ‘n duur, hoë kwaliteit T-hemp met een of ander logo op. Die jong tennisspeler het goed gelyk. Hy sou enige tienermeisie in die omgewing se aandag kon trek, soveel vir sy indrukwekkende voorarm-aksie as vir die feit dat hy ‘n goeie beeld was van sukses: aantreklike bou, atletiese vermoëns, en natuurlik finansieel suksesvolle ouers – wie anders kan sulke items bekostig?
Hierdie jong man het gelyk soos wat ek tien jaar gelede daar wou uitsien op die bane van voorstedelike tennisklubs in Pretoria en op Stellenbosch. Toe het dit saak gemaak, want mens vergelyk jouself tog graag op so ‘n jong ouderdom met ander in die omgewing wat meeding vir dieselfde plekke in die son. En as mens jouself opgeweeg en ‘n bietjie lig in die broek bevind het, het jy gewoonlik jou vrot tennisballe in jou plastieksak geneuk, jou raket se snare reguit gedruk, en gemaak dat jy by die huis kom.
Daar staan ek egter toe, tien jaar later, op baan nommer vier van die Yang Ming Tennisklub in Kaohsiung. Ek het ‘n broek aan wat twee nommers te groot is vir my, ‘n wit T-hemp met ‘n draakmotief in swart, en aan my voete ‘n paar ou skoolsokkies en ‘n paar draftekkies met deurgetrapte sole. Soos ek toe nog ‘n bal in die net moker, dink ek hoe lekker dit is dat dit nie meer saak maak dat ek lyk soos ek lyk nie, terwyl die ou op die ander baan lyk soos ‘n jong Stefan Edberg.
Hoekom maak dit nie meer saak nie? Omdat ek nou iets het wat ek destyds gedink het die beste tennis outfit vir my sou gee: Ek voel goed oor myself. Hoekom? Omdat ek gevind het wat ek graag wil doen; iets waarin ek reken ek ten minste nie vrotter is as met tennisspeel nie. Ek is ‘n skrywer, wat so een keer per week saam met ‘n vriend balle in die net gaan slaan. Ek is nie ‘n tennisspeler wat op dertig wens ek het eerder weggegaan na ‘n vreemde land toe om opstelle te skryf oor die betekenis van die lewe nie. Ek voel goed oor myself, en ek het nie meer duur tennisskoene en ‘n afrigter nodig om my dit te gee nie.
En dis waar hierdie stuk sou geeïndig het as ek my sin kon kry. Maar net toe ek die bal met ‘n pragtige rughand uiteindelik langs die regte lyn afstuur, kom die interne argument:
“So jy voel goed oor jouself omdat jy kastig ‘n skrywer is?”
“Wel, ja. Ek skryf, en ek weet ek skryf nie kortverhale of goed vir De Kat of die Sarie nie, maar ek skryf.”
“Is dit belangrik dat jy actually góéd moet kan skryf om goed te kan voel oor jouself?”
“Ek neem aan vir die formule om te werk moet ‘n mens seker nie te sleg wees nie. Jy moet eerlik wees. En jou identiteit moet gewortel wees in geloofwaardige eksterne realiteit. So… ja. Ek dink as jy jouself ‘n skrywer noem moet jou materiaal seker oraait wees.”
“En jou materiaal is oraait?”
“Ek is nie die beste skrywer van my tyd nie. Ek is nie eens regtig oorspronklik nie. Ek sê nie noodwendig wat ander nie sê nie. Maar ek sê wat ék wil sê, op die manier wat ek dit wil sê. En as ek my gat moet sien as ‘n skrywer… wel, dan moet dit nog gebeur.”
“So jy sou saamstem dat die feit dat jy nou-se-dae goed voel oor jouself moontlik gebaseer is op jou eie wanopvattings en illusies?”
“Dis moontlik. Maar die lewe is ‘n stryd, en ek staan nog. So ek kan nie té sleg doen nie.”
So maak ek en my vriend O. klaar met ons game. Ons vee die paar korrels sout van ons voorkoppe af, drink ons koeldrank klaar, en stap weg. Op pad na ons vervoermiddels deel ek met hom my insig van hoe ‘n sekere klas tennisspelende mense altyd dieselfde lyk, of mens nou in Taiwan of in Suid-Afrika is.
Ons lag toe lekker oor rykmanskinders, solo tennis met houtspane en haarlose tennisballe, en hoe ‘n mens die gevoelens van onvergenoegdheid oor jouself afskud na jare se marteling van om jouself te vergelyk met mense wat soveel beter in die son lyk as jy.
Ek sê toe dat dit soms wil voorkom asof ‘n mens jare spandeer om jou eie wêreld so te konstrueer dat jy aan die einde goed kan voel oor jouself, om nie meer sleg te voel oor die dinge wat jy nie in jou jeug beter kon gehad het nie. En, soos O. toe byvoeg, om te kan lag oor die dinge wat ons so in verleentheid gelaat het.
Maar ek is nooit tevrede met ‘n onafgehandelde argument nie, en ek weet die standaard vir ‘n “goeie punt” is hoog. Ek kan immers nog wegkom met ‘n debateerbare punt as my opponent van vlees en bloed is, maar my woordewisselings deesdae is hoofsaaklik met die Interne Man van Staal. Hy duld nie halfgeweefde argumente nie, en hy rus nie voor ‘n punt opgelos is nie.
“Wat beteken dit om goed te voel oor jouself?” maak die Man weer sy verskyning soos ek wegry huis toe. (“Ag tog!” wou ek oombliklik uitskree.)
“Dit kom onder andere daarop neer dat jy deur ‘n proses gaan waardeur jy uitsorteer wat nie vir jou belangrik is nie. Of wat jy op ‘n stadium van jou lewe gedink het belangrik is, maar wat jy later vind nie werklik is nie. So, jy distansieer jouself van dinge wat nie meer soveel saak maak nie, en die eindresultaat is dat jy beter voel oor jouself.”
“Jy bedoel dinge soos soos duur tennisskoene en foutlose voorarmhoue na jou afrigter toe?”
“Ja, om een voorbeeld te noem. Die proses behels verder dat jy die dinge identifiseer waarin jy werklik belangstel, wat werklik vir jou belangrik is… jou talente, jou sterk punte, dinge waarvan jy ‘n sukses kan maak. Die idee is jy gaan deur hierdie proses, en jy kom aan die ander kant uit met ‘n beter idee van wie jy is, en wat jy moet doen om gelukkig te wees. Om dan…”
“Goed te voel oor jouself.”
“Ja.”
“Maar wat maak dit saak as jy goed voel oor jouself?”
“Wat maak dit saak? Wat maak dit saak?! Inderdaad… wat máák dit saak?”
Geagte leser, jy mag dalk dink hierdie materiaal is vervelig. Jy mag dalk dink ek hamer voortdurend voort op dieselfde punte. Jy mag dalk dink ek hou hierdie projek kunsmatig aan die gang omdat ek te lafhartig is om ‘n meer genadelose wêreld te konfronteer in my eie land. Jy mag selfs lus voel om hierdie leesstof neer te sit en eerder TV te kyk, of dalk self ‘n bal haarloos te gaan slaan teen ‘n baksteenmuur. Ek vra egter beleefd een guns voor jy dit doen: Stel jouself voor hoe dit moet voel om ek te wees. Ek kan niks net as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek moet álles bevraagteken, en álles verstaan. En nie eens net om by die huis agter my rekenaar te kan inskuif en ‘n opstel te skryf daaroor nie. Ek moet verstáán sodat ek kan funksioneer – in hierdie wêreld, in hierdie spesifieke periode van die mens se bestaansgeskiedenis, op hierdie planeet!
Teen hierdie tyd het ek inderdaad voldoende begrip ontwikkel van die tyd en wêreld waarin ek leef. (Hoe anders? Ons almal weet wat gebeur met mense wat nie behoorlik kan funksioneer in ‘n Beleefde Beskawing nie.) Ek sal selfs so verwaand wees deesdae om oor ‘n koppie tee te vertel dat ek weet wat die “betekenis van die lewe” is, selfs dat ek verdien om te weet, of teen hierdie tyd al genoeg jare gespandeer op die vraag om ten minste ‘n goeie idee te hê. Ander mense van my ouderdom het al huise en karre en kredietkaarte en kinders. Ek moet immers iets hê om by ‘n sosiale geleentheid te kan sê! (“Hallo, ek is Brand. Ek’t nie ‘n huis, ‘n kar, ‘n kredietkaart of ‘n kind nie, maar ek weet wat die ‘betekenis van die lewe’ is…”)
Dis natuurlik altyd moontlik dat almal weet wat die “betekenis van die lewe” is, dat ek net ver agter die tyd is, soos om laat by ‘n partytjie aan te kom en die spitsverkeer te blameer. En eers as vriende en familie vir mekaar kyk dan weet ek almal moes deur dieselfde spitsverkeer kom om betyds te wees. Dit was net ék wat by elke hoek eers wou uitklim om ‘n smoke break te vat, om eers ‘n bietjie rond te kyk en “alles in te neem”. En net miskien was die sogenaamde “betekenis van die lewe” nooit so ‘n groot geheim van die begin af nie.
Nietemin, hoekom op aarde vra ek hierdie vrae? En hoewel dit soms so voel as ek nag na nag by my kombuisvenster uitstaar, weet ek ek is nie die enigste een nie. Almal wonder maar oor hierdie dinge – of dalk hoop ek net so.
Het mense nog altyd hierdie vrae gevra? En ek praat nie nou van Griekse leermeesters en Romeinse skrywers en Confucius en die Boeddha nie. Ek praat van die kleinboere en herbergiers en die matrose en soldate van ‘n paar eeue gelede. Het hulle die antwoorde geken op belangrike lewensvrae? Het hulle daaroor gewonder? Ek praat ook van mynwerkers vandag, en moeders met krullers in hulle hare en ‘n baba op die heup, en straatveërs, onderwysers, ambagsmanne, elektrisiëns, advokate en ingenieurs, en professionele tennisspelers en boemelaars.
Hoeveel van ons het ‘n antwoord gereed om te resiteer wanneer die regte vraag ons uitdaag – ‘n antwoord waarin ons werklik glo?
[Donderdag tot Sondag, einde November 2003]
___________
