’n Nuwe vraagstuk: Waaroor skryf ek nou?

SATERDAG 21 JANUARIE 2006

13:11

Ek begin verveeld raak met my metodiek van die afgelope paar jaar: gaan deur die stappe van ’n relatiewe normale dag, neem alles om my waar, dink, maak notas, dink nog ’n bietjie, gesels dalk met iemand, lees iets, rook ’n sigaret, dink weer, maak weer notas …

15:57

Waarheen met my skryfwerk?

’n Intellektuele boeddha gaan ek nie word nie, en maak nie saak hoe lank ek staan en wonder daaroor, of hoeveel opstelle ek skryf nie, die Volle Waarheid sal ek nooit ken of verstaan nie.

Die vraag is dus: Waarheen nou?

SONDAG 22 JANUARIE 2006

Vir jare het ek geskryf oor ballingskap, identiteit, rol wat ʼn mens kan speel, doel wat jy kan nastreef, plek in die wêreld, en self-ontwikkeling en selfrespek – veral as jy nie in ʼn verhouding is nie. Die ballingskap vraagstuk in my lewe is tot ’n groot mate opgelos met die “strydbyl” notas. My identiteit, rol en doel, en plek in die wêreld is ook tot ’n groot mate uitgesorteer en gedefinieer. En sedert verlede jaar is ek nie meer alleen nie.

Vir die afgelope twaalf tot agtien maande het ek, tot ’n groot mate (jammer vir die herhaaldelike gebruik van die frase) my aandag gefokus op ’n vae soeke na Absolute Waarheid. Dit, soos ek gisteraand genoteer het, is te groot, vir my, in my huidige lewe.

Vir die eerste keer in jare sit ek dus met ’n nuwe vraagstuk: Waaroor skryf ek nou?

SONDAG 29 JANUARIE 2006

As kennis beskryf kan word as ʼn ommuurde stad, dan is ek niks meer nie as ʼn pagter wat die velde om dit bewerk. En as die Absolute Waarheid Aangaande Alles vergelyk kan word met die uitleg van die ommuurde stad se ingewikkelde straatnetwerk en die mees intieme geheime van haar uitnemende burgers, dan is my eie gedagtes niks meer nie as ʼn binnensmondse gemompel oor die grootte van die buitenste poort, en die diepte van die grag rondom die mure.

______________________