’n Kronkelgedagte

WOENSDAG 13 OKTOBER 2004

01:27

Maandagmiddag om 16:45 het die bewoording van ’n gedagte by my opgekom. Die gedagte het my ietwat ontstel. Ek het gereken, as ek teen 18:00 steeds die gedagte onthou, dan kan ek dit neerskryf by die huis (ek was in ’n klas toe die gedagte uitgebroei het). Nie net het ek steeds die gedagte onthou nie, maar ook die gemoedstoestand wat aanleiding gegee het tot die gedagte het steeds geheers teen die afgesproke uur.

Nietemin, ek was by die huis, ek kon ’n bietjie TV kyk, op die rekenaar werk, musiek luister … en ek het ’n vars, warm boksie gebraaide rys en garnale gehad om my aptyt mee te versadig. Die gedagte was steeds nie genoteer teen die tyd wat ek gaan slaap het nie.

* * *

Hierdie naweek gaan ek weer ’n verskyning maak tussen mense waartydens ek so laag gaan daal as om verleë te voel oor die groeiende kaalheid van my hoof. Ja, daar gaan ek staan, kaalkop, kaalvoet*, 33-jarige property-less, credit card-less, car-less, non-corporate, independent, unpublished “writer”.

Ek sal moontlik een of twee dames vir ’n rukkie kan vermaak met my intelligente en – siende dat ek nie myself kan losmaak van die idee om ’n spesifieke dame uit te vra vir koffie nie – ietwat sjarmante geselskap. Kort voor lank sal ek egter opsy geskuif word ten gunste van ’n ander manlike karakter wat so geseënd is om hare op sy hoof te hê, en klere in sy kas waarin verskynings veel meer indrukwekkend, en volgens die mode van die dag gemaak kan word.

Ek sal dus, na ek weer my skoene styf vasgeveter het aan my voete, spore maak terug na die veiligheid van my woonstel wat ruik na eensaamheid, en ou sigaretrook. Ek sal miskien ’n bietjie TV kyk, aan ’n projek werk op die rekenaar, FreeCell speel, musiek luister, tee drink, en nog sigaretrook teen die mure en plafon blaas terwyl ek die volhoubaarheid van my huidige lewe kontempleer.

* [In Taiwan is dit die gebruik dat almal hul skoene uittrek voor hulle ’n woning betree.]

* * *

(Terug by die voorlaaste notasie)

Dit bring ons by Woensdagmiddag om 16:26, amper 48 ure na die oorspronklike gedagte – of die nuutste verskyning van ’n ou gedagte, want nuut is dit wragtag nie.

* * *

Verstaan iets, mis iets … insigte, onkunde … dis alles dieselfde …

23:48

My lewe, soos dit tans is, is nie die moeite werd nie, en ek het nie die geloof of oortuiging om die nodige veranderinge aan te bring om dit die moeite werd te maak nie.

Ek is besig om my geloof te verloor. Ek het die einde van die pad bereik, en niks aan die einde is so rooskleurig soos onkunde en blinde geloof nie.

Ek dink aan seks en geld, asof ek desperaat glo dat dít die bestanddele is wat alles “anders” sal maak. Wat sê dit as dit my enigste oorblywende geloof is?

Ek hoop om môre-oggend op te staan, omdat ek honger sal wees, en lus vir koffie en ’n sigaret. Ek sal klas toe gaan omdat dit minder stresvol is as om die telefoon op te tel en aan die skool te verduidelik dat ek nie lus is om te gaan nie. Plus, as ek nie die moeite doen om werk toe te gaan nie, sal ek weet die klein rooibaksteenhuis wat die uiterlike struktuur en fasade van my lewe is, begin te verkrummel.

Is ek werklik na aan ’n afgrond? Die snaakse ding is, ek weet nie. Ek is soos iemand wat geblinddoek op ’n pikswart nag op ’n krans staan – ek weet die afgrond is êrens in my omgewing, maar ek weet nie of dit een, of ’n honderd meter weg is nie. Hoekom nie? Omdat hierdie gemoedstoestand al heers in my lewe vir … tien jaar? Al wat hierdie toestand hok geslaan het vyftien jaar gelede, was godsdienstige oortuiging.

Ek kan hierdie dinge met niemand bespreek nie.

(Ons sien nie altyd die dinge wat ons al nader aan die afgrond stoot nie. Ons sien nie die gesigte raak vir wie hulle werklik is nie.)

* * *

Hoop. Nie eens geloof is enige iets werd sonder hoop nie.

* * *

(Wie kan verstaan?)

Dit mag vreemd klink, maar ek glo actually aan die bestaan van God – ek weet net nie wie of wat God is nie. Een van die redes hiervoor is my gebrek aan vertroue in mense; niemand wat oor God praat, is geloofwaardig genoeg in my oë nie (al is baie van hierdie gelowiges goeie en opregte mense).

Ek glo, en vertrou ook nie oorgelewerde waarheid nie. Wie moet ek immers glo? Protestante? Katolieke? Moslems? Hindoes? Jode? Almal het hul eie agendas, en daar is redes hoekom al hierdie groepe “gelowiges” verskillende “waarhede” aanhang, hoekom hulle glo soos hulle glo. Redes goed genoeg vir húlle om te glo, maar nie goed genoeg vir my nie. (Reeds Donderdag 01:26)

______________________