’n Identiteit wat geld maak

DONDERDAG 15 NOVEMBER 2012

Omdat ek my bes probeer om mislukking en teleurstelling te voorkom, wonder ek lank en hard of ’n spesifieke manier om geld te maak, reg kan wees vir my. Ek wil seker wees voordat ek begin om tyd, en geld, te spandeer aan ’n projek.

Enkele opmerkings:

1. Daar is geen waarborg dat jý geld sal maak met enige iets nie – selfs al verdien ander mense hulle brood en botter daarmee, jaar in en jaar uit.

2. Daar is ’n parallel met identiteit: wie ek is versus wie ek wil wees. Besluit of jy geld wil maak met iets, of dit iets is wat jou lewenstyl pas, of dit iets is waarmee jy jouself kan vereenselwig, en of dit iets is wat volhoubaar sal wees vir ten minste die volgende tien jaar. Indien jy besluit dat dit wel iets is waarmee jy geld kán en wil maak, doen dan wat jy moet doen, en leer wat jy moet leer, om die moontlikheid werklik te maak. Verbind jouself daartoe om suksesvol te wees met hierdie aktiwiteit.

Wat meer wil ek hê? Bevestiging in ’n hopie teeblare? Moet iemand eers ’n handvol dolosse gooi om te bevestig iets is reg vir my?

Besluit iets is reg vir jou, en máák dit dan reg vir jou.

WOENSDAG 12 DESEMBER 2012

(Ek het moontlik reeds hierdie gedagte genoteer.)

My pogings om geld te maak vanaf 2006 was tot ’n groot mate ’n soeke na identiteit – in ’n nuwe “omgewing”.

Vir jare het ek gereken hoe jy geld maak, is nie wie jy is nie, dis net wat jy doen om in jou eie behoeftes, en miskien die behoeftes van ’n familie te voorsien. Jy is dus nie ’n advokaat nie – dis net wat jy doen vir geld.

Projekte wat ek aangepak het met die uitsluitlike doel om geld te maak daarmee, het ingesluit “affiliate marketing”, “sports betting”, “short report writing”, en die verkoop van domeinname en webwerwe. Ek was heeltemal kapabel en intelligent genoeg om die nodige vaardighede aan te leer en die kennis te bekom om uiteindelik geld te maak met hierdie aktiwiteite, en in sommige gevalle was ek tot ’n mate suksesvol.

Nie een van die maniere hoe ek geld gemaak het, of in teorie geld kon maak in meeste gevalle, was egter iets wat ek as deel van my identiteit wou sien nie. Wat ek uiteindelik geleer het, was dat indien jy nie ’n bepaalde manier hoe jy geld kan maak, as deel van jou identiteit sien nie, dit nie heeltemal onverklaarbaar is as jy nie ’n rasende sukses maak daarvan nie.

MAANDAG 17 DESEMBER 2012

Om aan myself te dink as ’n “uitgewer” is tot ’n groot mate ’n verlore deel van die legkaart.

Sedert die vroeë negentigs al hou ek vas aan die beeld van die “skrywer” – onafhanklik; verhewe bo alledaagsheid; op sy eie. Die spesifieke visie was van myself in ’n ou klipfort, êrens in ’n bergagtige wildernis, of dalk op die vlakte, ten minste ’n paar dae se stap van die naaste beskawing af.

Dat hierdie romantiese figuur geld nodig het – of nog erger, nodig het om geld te maak, was nog altyd ’n reuse struikelblok.

Dis hoekom die idee van die uitgewer so kragtig is. Die uitgewer se besigheid, tot ’n mate meer as die skrywer s’n, is boeke. Waar die skrywer idees en opinies en stories verwoord, fokus die uitgewer daarop om te publiseer. Die uitgewer is die een wat die skrywer se kreatiewe werk in die hande van die leser plaas.

Die skrywer is in die wildernis – of op die vlakte. Hy skryf, en hou hom nie op met banale goed soos geld nie.

Die uitgewer is in die stad. Hy bemark. Hy adverteer. Hy produseer boeke in verskillende formate. Hy praat besigheid.

Die uitgewer is die een wat geld maak. Hy is die een wat seker maak die skrywer oorleef.

______________________