’n Gepaste lewe vir ’n fantastiese dier

VRYDAG 29 APRIL 2016

’n Paar jaar gelede het ek baie tyd spandeer aan dinge waaraan ek nie werklik geglo het nie. Hierdie aktiwiteite het ingesluit om internet eiendomme te ontwikkel wat ek wou verkoop, om inhoud te produseer wat ek aan ander internet bemarkers wou verkoop, en om inligtingsprodukte wat ander mense geskryf het, te probeer verkoop aan ander mense wat dit uiteindelik aan eindverbruikers sou verkoop wat hopelik die inligting nodig gehad het.

Wat beteken dit dat ek moes glo aan wat ek besig was om te doen? En hoekom moet ek glo aan dit waaraan ek werk, of aan dit waaraan ek ’n betekenisvolle aantal ure per dag spandeer?

Ek reken dit het te make met my beskouing van die mens. Ek glo die mens is ’n fantastiese dier. Inderdaad kan mens amper sê die mens is ’n wonderwerk van ’n wese – die gesofistikeerde meganika, die asemrowende kompleksiteit van wat in die brein aangaan, en die ingewikkelde dinamika van interpersoonlike verhoudings.

Met dit as vertrekpunt glo ek ’n mens moet jouself besig hou met aktiwiteite wat waardig is van jou kompleksiteit en sofistikasie.

Jy kan self deur ’n lang lys van aktiwiteite gaan om uit te werk hoe gepas dit is: lees, dink, skryf, koskook, atletiese kompetisie, webblaaie ontwerp, ’n koffiewinkel bestuur, siek of beseerde diere behandel, tande regmaak, Engelse klasse gee vir Taiwannese studente, en so kan jy aangaan.

Wat ek gedoen het tot ’n paar jaar gelede, was om teen die prikkels te skop. Ek het jare gelede al geweet dat om te dink aan dinge en dan my gedagtes neer te skryf, die aktiwiteit was wat my die gelukkigste gemaak het. Ek sou later terugkeer na notas wat ek gemaak het, dele herskryf, dele byskryf, die formulering skerper maak, en so aan. Uiteindelik het ek ook geleer om te publiseer wat ek geskryf het sodat ander mense dit ook kan lees. Jaar in en jaar uit het ek weer en weer en weer besef dat om besig te wees met hierdie kreatiewe proses, my natuurlike toestand is. Ek kon myself druk in enige rigting in, myself forseer in verskillende rolle in, myself oortuig dat ek allerhande aktiwiteite moes onderneem wat kwansuis geld sou maak. Maar ek moes kon raai: as ek myself net ’n halwe kans gee, sou ek altyd terugkeer na my natuurlike kondisie toe.

Hierdie proses van dink en lees en aantekeninge maak en later publiseer, so reken ek, kwalifiseer as ’n reeks aktiwiteite wat gepas is vir ’n fantastiese dier om hom- of haarself mee besig te hou. Ek reken verder dit is ’n geval van geleentheid wat aangegryp word en tyd wat behoorlik benut word.

Natuurlik moet ’n mens jou brood en botter, en dak oor jou kop op een of ander manier verdien. Glo ek dan aan die dinge waarmee ek tans geld maak? Is dit gepaste aktiwiteite vir ’n fantastiese dier?

Ek glo in die waarde van taalstudie. Om ’n tweede of derde taal te probeer bemeester, is in my opinie ’n waardige en hoogs waardevolle onderneming. Ek het geen probleem om tyd te spandeer om mense te probeer help wat gretig is om hulle taalvaardigheid te verbeter nie. Ek het ook nie ’n probleem daarmee om ’n produk aan te beveel wat ek glo goeie waarde bied aan taalstudente nie. Ek gee ook glad nie om om tyd en geld te belê om produkte te skep wat in hierdie mark se behoeftes voorsien nie.

Ek het op ’n stadium ’n obsessie gehad daaroor om te probeer uitvind hoekom ek so hard werk en so min vrugte pluk van my arbeid. Ek het aan die einde vorendag gekom met iets soos nege of tien redes, wat ingesluit het gebrek aan beleggingskapitaal en vennote, die feit dat ek nie gefokus het op oorvloed nie, en dat ek nie voldoende probleme opgelos het vir mense nie. Ek het egter nooit gedink aan watse probleem dit was dat ek nie geglo het aan wat ek gedoen het nie. En ek reken ek het nie geglo aan wat ek gedoen het nie, omdat die gedagte êrens in my grysstof aan-en-af geflikker het dat waarmee ek myself besig gehou het, nie gepaste aktiwiteite was vir ’n fantastiese dier wat net een kans op die lewe kry nie.

SATERDAG 30 APRIL 2016

00:34

Wat van sportweddenskappe en handeldryf op die finansiële markte? Hoekom het ek geen probleem om myself daarmee besig te hou nie? Glo ek daaraan? Dink ek daai aktiwiteite is gepas?

Antwoord: Ek kan dit verduur dat ek nie daaraan glo nie, want dit hou my nooit lank genoeg besig om ’n probleem te raak nie.

01:39

Ek het sopas hierdie nota ontdek van Dinsdag 12 Oktober 2010: “As ek nie toegewyd is aan iets nie, is die waarskynlikheid baie skraal dat die projek afgehandel sal word. En selfs al word dit afgehandel, is die waarskynlikheid dat dit suksesvol sal wees nie baie goed nie. Ook, as ek nie GLO aan iets nie, kan ek nie toegewyd wees daaraan nie.”

Naskrif (Desember 2016)

Dit is makliker om te glo aan wat jy doen as jy waarde skep vir iemand anders. Die skrywer van Killing Sacred Cows, Garrett Gunderson, sê: “How can it be risky to wake up each morning and do what we love doing, provided it […] creates value in the world.”

Hy haal ook vir Steve Farber aan: “Do what you love in the service of people who love what you do.”

Uit wat ek geleer het ’n paar jaar gelede, kan ek byvoeg: Doen dinge wat jy geniet om te doen vir mense wat waardeer wat jy doen omdat jy hulle weglei van ’n plek waar hulle nie wil wees nie; omdat jy hulle lei na ’n plek waar hulle wel wil wees; omdat jy dinge makliker maak vir hulle; omdat jy aan hulle vermaak of vertroosting verskaf; of omdat jy vir hulle iets leer en hulle help om dinge beter te verstaan. Doen hierdie dinge vir mense, en jy sal waarskynlik nie ’n probleem hê om te glo aan wat jy doen nie.

______________________

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui