‘n GEDAGTE BROEI IN MY KOP, DEEL EEN

Deur 10 - 10 - 2003

(Vrydag, 10 Oktober 2003)

‘n Gedagte broei in my kop dat ek nie verkeerd is nie. Dat ek nie verkeerd is as ek nie met mense hier wil sosialiseer nie al het ek die geselskap nodig. Dat ek nie verkeerd is deur meeste van my tyd by die huis te spandeer in wat ek noem ‘n “proses van kritiese-massa-akkumulasie” nie.

Ek glo ook dat ek dalk nie verkeerd is nie in my oortuiging dat deur my arbeid te verkoop aan ‘n ander persoon, ek goud uit my eie pan gooi vir miskien genoeg klontjies goud uit sy hand. Ek glo verder dat ek nog nie gereed was, tot nou toe, om my gedagtegange verder te volg na hulle natuurlike eindpunte nie.

Ek glo dat ek na al hierdie tyd steeds reken (en hier begin ek om by die punt te kom) dat daar ‘n teiken is wat ek moet nastreef, en hoewel ek miskien ‘n bietjie laat gaan arriveer, ek dit ten minste op my eie terme gaan doen. Ek glo dat ek steeds reken hierdie teikenpunt is ‘n goeie middelklaslewe, al is dit soos ek dit wil hê. My vermoede is egter dat daar meer op my “job card” geskryf was die dag toe ek gebore is,  al het ek steeds die keuse om hoofsaaklik bogenoemde teiken na te streef.[SIEN NOTA] Ek is verder oortuig daarvan dat ek dit kan bereik, selfs op my eie terme, maar ek glo ook dat as ek nie moeg word nie, ek méér kan bereik as die basiese vervulling wat ‘n middelklaslewe (in teorie) bied.

“Meer?” mag jy dalk vra.

As jy jou perspektief ver genoeg uitzoom, ja.

Wil ek steeds ‘n vroulike metgesel in my lewe hê, en kinders? Ja. Maar ek glo nie dit moet ‘n verskoning wees om my stryd op te gee nie.

Ek het hierdie beeld van myself waar ek op ‘n rusbank sit met ‘n lekker warm trui aan, twee kinders in my arms, en ek wat verklaar: “Ag man, ek het nou groot geword. Daai dinge is nie meer vir my belangrik nie. Ek het nou ontdek wat regtig belangrik is in die lewe.”

Sal die feit dat dit instink sal wees wat praat omtrent so belangrik wees as die feit dat vrese en onsekerhede wat veroorsaak is deur gebeure in my verlede my nou inspireer en motiveer om die dinge te skryf wat ek nou skryf? Is dit alles wiskunde? Gebeure in die verlede plus genetiese samestelling is gelyk aan persoonlikheid, plus goeie keuses minus slegte keuses is gelyk aan huidige situasie, is gelyk aan gelukkig of nie? Miskien sluimer-loop ons almal deur die lewe, tot ons kritiese denkprosesse ons lei na ‘n beter begrip van onsself en van ons lewens, tot dit ons lei na ‘n hoër vlak van bestaan…

[NOTA: Wat bedoel ek met die begrip, “job card”? Is dit ‘n poging om ‘n fatalistiese beskouing van menslike bestaan in te smokkel, waar almal gebore word met take wat hulle moet verrig, en doelwitte wat hulle moet nastreef in diens van... wie ook al die “job card” geskryf het? In retrospek, of in nabetragting... miskien.]

***

(Maandagaand, 20 Oktober)

Die gedagte het vir my toenemend belangrik geword dat soveel van wat ek skryf, soveel van wat ek dink, soveel van die opinies wat ek so sorgvuldig formuleer, soveel van die politiek wat ek aanhang en graag wil populariseer, moontlik alles neerkom op ‘n poging om myself te kompenseer vir die afwesigheid van die liefde van ‘n vrou en kinders wat, let’s face it, ‘n relatief normale… natuurlike behoefte is vir meeste mans in hulle vroeë dertigs. Dat al bogenoemde dinge ‘n poging is om gate toe te stop, my kop steeds hoog te kan hou en te kan sê, “Moenie my bejammer omdat ek in julle oë ‘n eensame frats is nie… kyk eerder na julleself! Kyk hoe sloof julle julleself af in die lugversorgde kantore van maatskappye waar julle aan die einde van die dag niks meer as lyfeiene is nie!”

Dan dink ek weer, goed en wel. Dit sál spreek van hardkoppigheid of naïewe onkunde om nie die rol van deprivasie te erken in my persoonlike politiek nie. Maar beteken dit noodwendig dat ek nie ‘n punt beet het nie? Of dat die punte wat so gereeld en toenemend glad uit my mond spoel gediskwalifiseer moet word, omdat “U edele, die staat kan bewys dat hy dit net sê omdat hy ‘n alleenloper-wolf is wat moeg is daarvoor om droëbek oor die grasvelde te slenter”?

Ek mag dus dinge sê net om my lewe meer waardigheid te gee en dit meer draaglik te maak, maar wat van as die sogenaamde redes hoekom ek dit sê uiteindelik blyk noodsaaklike bestandele te wees om sekere insigte makliker verteerbaar te maak? Gaan dit aan die einde blyk dat wat ek nou die redes noem vir my persoonlike politiek, noodsaaklike middels was tot ‘n groter doel? Sal die ervarings wat ek aanvoer as redes vir sekere insigte uiteindelik blyk bevorderlik te wees vir ‘n vereiste bestaanstoestand, wat op sy beurt bevorderlik is daarvoor om ‘n mens se oë te open oor sekere aangeleenthede?

Ek vermoed ek is ligweg onrustig oor die moontlikheid dat ek ‘n vrou kan ontmoet met wie ek goed genoeg oor die weg kom om ‘n verhouding te kultiveer, en dat ek dan skielik meer konserwatief gaan raak omdat my nuwe bestaanstoestand nie meer die motivering gaan produseer om kwaai kritiek oor ander mense se lewens te lewer nie.

Twee moontlikhede bestaan indien ‘n vrou my lewe betree maar my oortuigings en sienings van hoe mense hulle lewens lei, bly (aanvanklik) meestal onveranderd:

a) Indien sy nie net ‘n verdraagsaamheid koester jeens my oortuigings nie maar my selfs aanmoedig om dit te bly verkondig, wel, dan’s dit honeymoon forever!

b) ‘n Meer problematiese geval sal wees as dit blyk op die langtermyn dat sy nie “daai dinge” as belangrik beskou nie. Wat van as sy die Sondagkoerant met skrefiesoë deursoek vir ‘n meer standvastige, meer konvensionele betrekking vir my, terwyl ék besig is om notas te maak op die agterkant van die TV-gids vir ‘n essay wat ek nog wil skryf oor mense wat net in die aand by die huis kom en sit en TV kyk? Sal ek uiteindelik opoffer-en-kompromeer (twee woorde wat ek verlede week op die treinstasie besef het ek omtrent nooit gebruik op papier nie)? Sal ek uiteindelik so ver opoffer-en-kompromeer dat ek op veertig gaan besef ek het alles opgeoffer en afgewater wat vir my belangrik was, net ter wille daarvan om nie meer alleen te wees nie?

Is my vrese ongegrond? Is dit rede vir ‘n onnodig eensame bestaan? Of is dit wat my jaag noodsaaklike middels tot ‘n groter doel?

___________

Hierdie inskrywing dateer: 10 - 10 - 2003 om 19:10 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.