’n Droom, bewys van bestaan, antwoorde en advies

SONDAG 5 OKTOBER 2008

“Iemand het klappers geskiet in die straat, toe raak jy deurmekaar en val by die venster uit. Toe gryp ek jou arm, skop vas teen die vensterraam en trek jou terug. Toe raas ek met jou.” ~ wat Natasja vanoggend vir my vertel het sy gedroom het gisteraand.

DINSDAG 7 OKTOBER 2008

Ek vul my notaboeke en tik goed op die rekenaar om getuienis te lewer van my bestaan. My skryfwerk is bewys dat ek lewe, en geleef het tot nou toe.

WOENSDAG 8 OKTOBER 2008

Ek raak ’n bietjie moeg daarvoor om elke dag en nag te sukkel om ’n wonderwerk uit my rekenaar te trek. Dit voel asof ek voor ʼn keuse staan: vat dit rustiger, of stry voort tot ek doodgaan, of dood neerslaan.

As ek oppervlakkig daarna kyk, of propagandisties wil wees, sal ek moet sê dan stry ek maar tot ek doodgaan, of dood neerslaan (of sukses behaal; ek het vergeet om dit by die oorspronklike moontlikhede te voeg – ’n mens stry immers vir iets). Maar ek sou graag wou weet wat presies dit beteken om dit “rustiger” te vat. Beteken dit dat jy opgee en ’n luiaard word? Beteken dit dat jy heeldag TV kyk totdat jy uiteindelik jou rusbank en jou TV moet verkwansel vir kos?

Kan ’n mens dit rustig vat, en net dalk meer gedoen kry – en net dalk langer leef, en gelukkiger wees?

MAANDAG 13 OKTOBER 2008

[Uit ’n epos aan ’n vriendin]

Jy vra of alles “reg” gaan uitwerk. Ek is oud genoeg om te weet dinge werk nie altyd presies soos ons dit wil hê nie. Ons glo altyd, en ons hoop – in ’n beter môre, dat alles reg sal uitwerk, dat die toekoms fantasties gaan wees … maar soos almal weet, eindig ons geloof en hoop gereeld in ontnugtering, en sonder ’n bietjie geluk elke nou en dan vat ons daaglikse arbeid ons ook nie altyd so ver soos ons glo dit moet nie.

Wat hierna gaan volg vir jou is dat jy voort sal gaan om te struggle vir alles wat vir jou belangrik is, van om ’n saak te dien groter as jyself tot die vervulling van jou potensiaal. Dit is wat hierna gaan volg.

Gaan dit uitwerk? Jy mag dalk nie soveel interessante belewenisse hê oor die volgende paar maande as wat jy gehad het die afgelope ses maande nie – of dalk beleef jy interessanter dinge. Die onmiddellike toekoms gaan dalk nie soveel interessante karakters in jou lewe bring nie – maar dalk ander karakters.

Glo in jouself. Glo in wat jy doen. Stry voort. En vergeet van “alles”, die volmaakte lewe, en geloof daarin dat iets altyd aan die einde terug sal glimlag. Solank jy nog op jou voete staan, word jy nog getel – en as jy struikel, staan jy op.

As die lewe ’n stryd is vir iets beter, en vir alles wat ons kan wees, het jy reeds meer as voldoende instrumente, kennis, ervaring, geesdrif, lewenslus, en tricks up your sleeve om die stryd enduit te sien.

Dit is die beste advies wat ek jou kan bied.

WOENSDAG 15 OKTOBER 2008

Ek wil altyd meer doen, terwyl minder in soveel gevalle beter is.

WOENSDAG 29 OKTOBER 2008

Hoe werk ewolusie? Watse meganismes genereer die klein veranderinge wat lei tot ’n kreatuur wat ná ʼn duisend geslagte anders jag, eet, swem en boomklim as sy voorsate ʼn duisend geslagte tevore?

Antwoord: Ek weet nie.

Nog ’n vraag: Wat is 15 384 523 vermenigvuldig met 27 947 238?

Antwoord: Dit weet ek ook nie. Maar iemand kan ’n groot genoeg sakrekenaar nadertrek, die regte nommers druk, en vir my die antwoord gee. En hy of sy sal reg wees! Dit sal die werklike, ware, akkurate antwoord wees!

______________________