’n Brokkie advies vir ’n aaklige realiteit

DONDERDAG 8 MEI 2014

Hoeveel mense ontmoet jy elke dag?

Jy tel dalk op jou vingers af enkele mense wat jy ontmoet op die trein, of by die werk, of by ’n sportklub.

Ek sê, jy ontmoet dosyne mense indien jy tyd op die pad spandeer.

Het mense dieselfde persoonlikhede as padverbruikers as wat hulle in die res van hulle lewens het?

Ek glo hulle het.

Nou, as ek reg is, is dit slegte nuus. Dit sal beteken ’n groot persentasie van die algemene publiek – onder andere mense saam met wie jy werk en skouer skuur op ’n daaglikse basis, is onrusbarend onnosel, ontstellend immoreel, en van vieslike lae karakter.

Die aaklige realiteit: Baie mense kom weg met wie en wat hulle is op die pad, en in die res van hulle lewens.

’n Belangrike brokkie advies is derhalwe nie onvanpas nie: As jy sukkel om die bestaan van hierdie onnosel en immorele segment van die bevolking te aanvaar, moenie die pad gebruik nie, want dit is waar hulle gedrag jou dood kan veroorsaak.

Wat betref die res van jou lewe het jy nie veel van ’n keuse nie. Hierdie imbesiele, hierdie sedelose mense van skokkende lae karakter, is oral. Jy kan hulle probeer vermy, maar jy gaan gereeld misluk. Jy sal eenvoudig moet leer om met hulle saam te leef.

______________________