‘n Alterego-Kortverhaal-Fragment

Deur 17 - 07 - 2001

Teen sy dertigste verjaarsdag moes Klaas ‘n paar harde feite in die gesig staar. Hy was werkloos – sy ma het hom “onbetrekbaar” genoem, en siende dat hy totaal sonder enige talent was, was hy pynlik bewus van die feit dat hy geen waarde gehad het vir die arbeidsmark nie. Verder het hy altyd gereken as ‘n man ‘n vrou aan sy sy het, dit darem sekere dinge beter maak. Sy oënskynlik ewigdurende alleenloperstatus het hom derhalwe nie enigsins beter laat voel nie.

Klaas het reeds vir ‘n geruime tyd die gevoel gehad dat hy meegevoer gaan word deur ‘n Darwinistiese maalstroom wat almal genadeloos uitroei wat nie ‘n bydrae maak tot die gemeenskap nie. Hy’t elke nag in sy bed gelê, en geluister vir die verskrikking van die Gemeenskap van Wenners Skoonmaakspan om by die trappe op te storm. Hy het al gesien hoe hulle met gepoetste swart stewels sy deur stukkend skop, hom uit sy bed sleep, en hom wegvat. Waarheen, het hy nie geweet nie…

~ Uit Notas Op ‘n Verskeidenheid Stukkies Papier

Hierdie inskrywing dateer: 17 - 07 - 2001 om 15:54 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.