(MY) REWOLUSIES EN (MY) GELOOFWAARDIGHEID
[Die volgende stuk begin, soos vele ander stukke, as ‘n gesprek wat ek met myself voer met behulp van die rekenaar se sleutelbord en monitor.]
___________
Wat het ek nodig, en wat het ek nodig om te doen vir die Maart Rewolusie? Ek het nodig om vir [die drie skole waar ek werk] te sê ek fokof aan die einde van die maand. [...] Ek moet tussen twintig en dertig bokse pak, en reëlings tref vir die verskeping. Ek moet my telefoonrekening delg en kanselleer. [...] Ek moet my vliegtuigkaartjie bevestig, en dit gaan betaal. Ek moet [my suster] bel, en vir haar sê ek sit met probleme wat sy nie sal verstaan nie. Dan moet ek [my vriendin in Nederland] bel en vir haar sê ek hou haar op hoogte van sake, maar sy moenie my binne die volgende ses maande verwag nie. Dan moet ek al die geld uit my bankrekening gaan trek, en meeste daarvan stuur na my bankrekening in Suid-Afrika. Dit sal ook goed wees om deur my koerante te gaan en ekstra Chinese studiemateriaal te vergader. Ek dink nie ek sal enige iets ekstra gaan koop vir dekor in Suid-Afrika nie, maar miskien kan nog een woordeboek oorweeg word. Laastens moet ek my vriende groet, een of twee laaste Taiwan stukke skryf, en op die beplande dag met my moeë en gehawende troepe die lughawe bestorm.
Dit is vandag Donderdag, 5 Februarie 2004. Ek het in alle eerlikheid nog een week oor om te besluit. Dit is egter nie wenslik om die besluit so lank uit te stel nie, want as ek aan die einde van volgende week besluit om wel die rewolusie deur te voer, gaan ek baie vinnig dinge moet begin doen. As ek dit sterk genoeg oorweeg om dit deur te voer, moet ek dit nou formeel besluit. (Dis altyd moontlik om oor die volgende week van plan te verander, maar dit gaan nie my huidige geloofwaardigheidskrisis enigsins goed doen nie.)
In Suid-Afrika het ek basies board and lodging en R2000 per maand nodig vir die eerste ses maande. Ek glo alternatiewe sal daarna realiseer. Ek sal ook werk aan my langtermyn inkomste-genererende konsep van [...] insluitende [detail wat hierdie teks nog meer vervelig sal maak].
Alternatief vir die Maart Rewolusie?
Ek kan die medical gaan doen, my visum hernu, en genoeg ekstra klasse kry om ten minste seker te maak ek gebruik nie enige van my spaargeld nie. Dan kan ek my vliegtuigkaartjie aanskuif na voorlopig Vrydag, 4 Junie. Ek kan verder oor die volgende vier maande alles in my vermoë doen om my twee EFL-reekse te verkoop, en om die fondasie te lê vir [die langtermyn inkomste-genererende konsep].
Hierdie huidige inkarnasie van Die Plan is ooglopend wild. Dis effens onverantwoordelik, ietwat impulsief, met onseker kort-, medium-, en langtermyngevolge. Maar soms is iets van hierdie aard nodig om dinge wat hand-uit geruk het, te normaliseer; of belangrike sake wat al te lank sloer, af te handel.
Ek ervaar op die oomblik iets wat ek laas in 2000 met die “Ek is ‘n Musikant” episode beleef het: ‘n geloofwaardigheidskrisis. Dié keer gaan dit egter nie oor realiteit wat nie strook met ambisie nie; my identiteit as ‘n skrywer is stewig verskans agter genoeg afgehandelde teks. Die huidige krisis is veroorsaak deur te veel planne wat oor die jare geformuleer en ontydig aangekondig is, en te veel materiaal wat geskryf is oor die onderwerp. As ek nie nou iets daadwerkliks doen nie, gaan dit my laat voorkom aan myself en aan familie en vriende as iemand wat baie praat, maar in sy broek skyt as hy moet oorgaan tot aksie.
Van my beste vriende raak skepties as ek nogeens tot vervelens toe praat oor my sogenaamde planne, en hoekom ek glo ‘n buitengewone lewe binne ons almal se bereik is in ons eie land. Ook my familie raak nie meer opgewonde as ek datums en planne resiteer asof dit ernstige sake is nie.
Dit is egter ekself wat nie meer weet of ek myself moet glo as ek sê “Donderdag, 4 Junie” nie. En dít is gevaarlik. Mens móét geloofwaardig wees in jou eie oë. Hoe anders kan jy verwag dat ander mense jou ernstig moet opneem?
Ek het dus in werklikheid twee opsies. Ek moet hier bly tot Junie, en tot die beste van my vermoëns vermy dat my geloofwaardigheidskrisis hand-uit ruk. Of ek moet probeer om oor die volgende paar dae die Maart Rewolusie ‘n bietjie meer sinvol te skets aan myself, en aan ander mense wie se lewens geraak sal word daardeur. Dit sal dalk die plan meer uitvoerbaar maak, en dit sal ook die kans op ‘n tweede geloofwaardigheidskrisis verminder as ek te veel van ‘n fokop maak van my repatriasie.
(Maak dit saak dat ek vir dramatiese effek hierdie plan vernoem na een van die Russiese rewolusies van 1917? Maak dit verder saak dat die Maart 1917 rewolusie van sekondêre belang was in die lig van ‘n tweede, veel meer beslissende rewolusie later in die jaar?)
Wat is in alle eerlikheid die voordele van VIER JUNIE? Ek sal meer tyd hê om my bokse te pak. Ek sal meer tyd hê om [...]. Ek sal ook meer tyd hê om [...]. En as vriende en familie nog geduld het met my immerveranderende planne, sal ek seker meer tyd hê om hulle te oortuig van die verstandigheid van my beplande onttrekking van hierdie omgewing.
Nietemin, daar is ‘n risiko verbonde aan VIER JUNIE, net soos daar risiko’s verbonde is aan VIER MAART. Ek sal met eersgenoemde beslis ‘n paar ekstra klasse moet kry om te verhoed dat my bestaande kapitaal stof byt. As ek nié my inkomste verbeter oor die volgende vier maande nie, en ek slaag nie daarin om op ‘n ander wyse meer kapitaal in te win nie… dan loop ek die risiko om teen einde Mei al die materiaal te verbrand wat ek die afgelope paar dae geskryf het, en soos my mees gehate seisoen begin in Taiwan (moessonreën, sweet, bedompigheid) sal ek veel meer klasse moet kry net om myself aan die lewe te hou, met repatriasie en reise na familie in ander lande nie eens ‘n vae moontlikheid nie.
Wat ek ook al in die volgende paar ure besluit, een ding is seker: Die prys vir die opheffing van my ballingskap was nog nooit laer nie.
___________
