MY NUWE WOONSTEL
Ek sit toe in my nuwe woonstel, en na ek deur die normale prosedure gegaan het van waar ek die rusbank gaan sit, en waar ek skoongewaste lakens gaan ophang, dink ek toe wat seker amptelik as my eerste gedagte in die nuwe plek bestempel kan word: ‘n vriendelike aanmaning dat hierdie nié die vrae is wat ek moet beantwoord nie. En miskien was dit te verwagte dat ek ook sou dink aan die twee woorde wat deesdae saam met my ontbytpap ingaan in die oggende, en af saam met die stof van my gesig voor ek snags bed toe gaan, naamlik “Langtermyn” en “Besigheid”.
Dis toe wat ek met die vraag vorendag kom of gedagtes oor repatriasie noodwendig dieselfde is as om te praat van langtermyn-inkomste (oftewel, net omdat ek praat van langtermyn-inkomste, beteken dit noodwendig dat ek moet teruggaan Suid-Afrika toe?). Nadat ek my sigaret doodgedruk het op ‘n nat tissue, antwoord ek die vraag as volg: om te praat van teruggaan Suid-Afrika toe, is noodwendig om te praat van langtermyn-inkomste in Suid-Afrika. Hierdie twee dinge gaan saam omrede ek nie kan teruggaan Suid-Afrika toe sonder maniere om ‘n langtermyn-inkomste te verseker nie.
‘n Hewige reënstorm het intussen losgebars, en op pad terug na my ou woonstel stop ek toe eers by die plaaslike supermark om nog ‘n reënjas te koop. Soos ek verder ry deur die verlate oggendmark dink ek toe, ‘n langtermyninkomste het nie noodwendig te make met teruggaan Suid-Afrika toe nie.
Reeds agterdogtig oor dié gedagtetrein, wys ek myself toe daarop dat die nuwe woonstel, en die nuwe omgewing noodwendig ‘n steurende effek gaan hê op my denkpatrone oor die toekoms. Om dit te ignoreer is soos ‘n regering wat verskynsels op grondvlak ignoreer omdat dit nie inpas by amptelike beleid nie.
Terug by my ou woonstel sien ek toe die hele langtermyninkomste/repatriasie-vraagstuk vir wat dit is, naamlik ‘n poging van die pro-Taiwan-faksie – die “regering” van BALLINGSKAP 13 – om die idee te propageer dat dit moontlik nodig mag wees om tóg langer te bly as die voorgestelde Groot Dag einde Januarie… of Februarie.
Soos ek toe gaan sit by my geliefde spieëltafel met ‘n vars koppie groentee, bars die teenaanval van die rebellemagte soos hel los. Ek plaas toe oudergewoonte my hand beskermd oor die koppie tee (net liggies, sodat my handpalm nie dalk die rand van die koppie raak nie), wag vir die swaar artillerievuur om stil te raak, en kyk toe na die resultaat vanaf my goedgeleë posisie.
Sensitief om niemand te verveel met lang verslae nie, wil ek net kortliks opmerk dat ek myself daaraan herinner het dat dit nie meer gaan oor hoeveel geld ek terugvat Suid-Afrika toe nie. Dit gaan oor hoe voorbereid ek is om ‘n besigheidsman te wees; om geld in die Suid-Afrikaanse eenheid te verdien so gou as moontlik nadat ek in ‘n Spar ingestap het om my eerste bottel knoffelsous te koop, en ek besef dat die note wat uit my beursie verdwyn nie binne ‘n maand vervang gaan word met Taiwanese geld nie.
Maar dit was net die eerste salvo kluite wat gegooi is in die rigting van miskien-moet-ons-tóg-langer-in-Taiwan-bly. Die werklike swaar kanonne was gemik teen die ou doktrine dat ons hier infrastruktuur het, en redelik maklik ‘n basiese inkomste van ten minste R5000 per maand kan verdien. Op die oog af is laasgenoemde die enigste sinvolle redes hoekom ek moontlik na Maart 2004 nog my klappers in hierdie land sal afskiet. Want is dit nie so dat my nuwe geloof die artikel insluit dat dit heeltemal moontlik is om dieselfde infrastruktuur in Suid-Afrika te hê, en om dieselfde hoeveelheid geld per maand te verdien deur enkele goed oorweegde projekte nie?
As ek dus langer in Taiwan wil bly as Chinese Nuwe Jaar 2004 moet ek vorendag met beter redes. Soos bereidheid om behoorlike knoffelsous, en braaivleis saam met my familie op te offer vir die moontlikheid om vlot Chinees te kan praat oor… X-hoeveelheid maande. Of ‘n partikulêre belangstelling in die simmetrie en pragtige soepelheid van Taiwanese vrouens se voete. (Hmm… knoffelsous en braaivleis, of die sensuele voete van ‘n Taiwanese vrou? Mense waardeer nie die marteling van hierdie, en ander soortgelyke keuses wat bannelinge soos ek moet maak nie!)
Ek werk deesdae hard aan idees waardeur ek myself kan transformeer van ‘n amateur filosoof en digter na ‘n hardgebakte kapitalis. Ek is steeds oortuig dat BESIGHEID die antwoord is op my soeke na kreatiewe onafhanklikheid, en die sleutel is tot ‘n meer betekenisvolle lewe.
Ek wil ook graag een of ander tyd my huidige rolle en identiteite vervang… of eerder, opgradeer na die rol en gepaardgaande identiteit van Die Familieman. En ek sal dit aansienlik beter kan doen, volgens my eie beginsels en oortuigings, as ek finansiële onafhanklikheid kan bewerkstellig sonder om ‘n ander man of vrou “Baas” te noem. (Terloops, ‘n nota aan al my werkende kamerade in die sogenaamde Real World: Moenie omgeboul word deur die kontemporêre neiging in korporatiewe kultuur dat werkers hulle base op hulle voorname kan noem nie. Dis ‘n truuk! Hy – of sy – is nog steeds jou BAAS!)
So, BESIGHEID gaan voort – veral noudat ek nie meer elke dag geteister word deur vierjariges in my voormalige beroep as ‘n kindertuinonderwyser nie, en so ook dus my planne om vroeg volgende jaar huiswaarts te keer.
Daar is egter die interessante vraag wat ek vanmiddag aan myself gestel het: Beteken dit noodwendig dat ek moet teruggaan Suid-Afrika toe as ek híér besigheidsprojekte kan loods wat ‘n langtermyn-inkomste kan verseker? Daar is ook die ope vraag na die effek wat die nuwe woonstel op my gemoed en my ervaring van Taiwan gaan hê.
“Nuwe woonstel?” mag jy dalk teen hierdie tyd wonder.
Ja, dit is wel so dat ek oor die volgende drie weke my bokse en tasse gaan pak en my prente, plakkate en al my kalenders van die mure gaan aftrek. Ek beplan ook om die geraamde stuk kalligrafie wat al vir jare in my huidige woonstel staan in koerantpapier toe te draai, en saam met die tasse en bokse, my wasmasjien, my bed en my fiets in ‘n taxi te laai op die 27ste September.
Die bestemming sal egter nie die lughawe wees, soos my eie mitologie altyd voorspel het nie, maar ‘n ander woonstel, diep in die Taiwanese area van die stad (min wit gesigte, of enige ander kleur foreigners waag dit ooit om so ver van ‘n Seven Eleven of McDonald’s af te loseer).
Die rede vir die skielike verandering van uitsig wat ek van my spieëltafel af sal geniet is dat die eienares van my huidige woonstel skielik besluit het dat die donker struktuur waarin ek die afgelope amper vyf jaar al skuil, verkoopbaar is.
So, die einde van my lewe in Laan 55 Nommer 15 is dus amptelik naby. En hierdie keer is dit nie net my eie fantastiese en ongeloofwaardige voorspellings dat ek my “goed gaan pak en gaan loop nie”. Dit gaan werklik gebeur.
Miskien sal dit ‘n goeie oefenlopie wees. Miskien pak ek nie eens al my bokse uit in die nuwe woonstel nie. Miskien gooi ek sommer my matras en beddegoed op die sitkamervloer, en uit moedswilligheid was ek sommer in die kombuis. Miskien maak ek myself doelbewus so miserabel dat ek sommer die einde van die jaar al land uit vlug.
Maar wag ‘n bietjie… as ek in die sitkamer slaap en in die spaarkamer sop op ‘n gasstofie kook, gaan ek heel moontlik vergeet om te skeer ook. Wat beteken ek sal so sleg begin lyk dat ek heel moontlik gevra sal word om nie meer klas toe te kom nie. Wat beteken ek sal heeldag tussen opgefrommelde beddegoed op my matras kan sit en gedigte skryf! En ek sal boontjies uit ‘n blikkie eet vir aandete terwyl ek kyk hoe die son ondergaan, doer waar die ander mense bly wat ook soms praat van huis toe gaan. Dan, as die son gesak het, sal ek my vingers deur my welige baard trek, die leë blik langs al die ander leë blikkies op die vensterbank sit, en in die halfskemer begin rondvoel na my boksie groentee op die sitkamervloer.
Soveel huise, soveel stories. Soveel tyd, soveel moontlikhede. Soveel drome, soveel hoop. Soveel wat ek nooit sal vermag nie. Soveel mooi in die lewe wat altyd net van ver af aanskou kan word.
“(Ek het) in soveel vreemde hawestede rondgedwaal/Ek het soveel vermoed, geglo, so min bewys…” *
(6 September 2003)
[Nota oor die res van September se materiaal: Die maand was oorheers deur aksies wat onderneem moes word om van een woonstel te verhuis na ‘n ander. Verwysings na oppakkery, skoonmakery en dergelike aktiwiteite moet gesien word binne hierdie konteks.]
———————
* Uit “Dwaalspoor” deur Koos du Plessis
___________
