Mummie En Die Mosaïek
“Wat op aarde het gebeur tussen 21 September en nou? Jy moet weet as ek nie skryf nie, is dit om een of ander vreemde rede. Jy skryf om te weet hoe dit gaan? [...] Ek is nie ‘n gewone mens nie. Ek was op ‘n stadium, maar om verskeie redes het ek ‘n alternatiewe persona geskep bo-op die murasie van wat op ‘n stadium ‘ek’ was. Nou moet ek deur soveel kanale gaan voor ek kan uitvind hoe dit met myself gaan, dat om dit dan in verstaanbare vorm uit te druk aan iemand anders, ‘n uitdaging is op die mees basiese vlak.
‘n Beter mens is ek nie as ek sê ek is nie gewoon nie, want dan sou ek meer gereeld van my laat hoor het. Dis juis omdat ek tot ‘n mate verleë is oor die red tape waarin ek myself toegedraai het, dat ek so stil is. Om vir iemand te skryf, dwing my om deur ‘n netwerk van nou, donker stegies te stap, om miskien by die dorpsplein en die mark uit te kom waar die mense gesels.
En wil ek nie graag gesels nie! Maar nou sit ek soos ‘n mummie in rooi verbande in my eie tempel. En ek kyk: na alles wat mooi is, na alles wat lelik is. En ek probeer dit soos ‘n legkaart knip en kerf dat dit inpas in die klein holtes in die vloer waar ‘n mosaïek vroeër was, dat ek daaruit ‘n kaart kan sien om te weet hoe ek moet stap om by die deur uit te kom. En teen die tyd wat ek uiteindelik buite is, het die mense al gaan slaap.
O ja, dit gaan goed met my. Ek eet deesdae weer ontbytpap, en drink net bruinrysmelk as ek regtig lus is daarvoor (soos vanaand). Verder kom ek meer gereeld uit die stad uit, en ek gaan selfs somtyds uit, as die aand belowend genoeg aan my opgedis word. (Mense klap gewoonlik hande as hulle my sien, en vra dan agter my rug of iemand my naam kan onthou.)
Ek het amper volgende week vir jou kom kuier (júlle, sorry), maar toe koop ek nog ‘n handvol CD’s en ‘n aandeel in ‘n wasmasjien. En ‘n tifoon van die Fillipyne het besluit om NNO te draai in plaas van wes soos hulle belowe het, en nou lyk dit weer asof ek net uit die bad geklim het as ek by die werk aankom.
[...]
N.S. Miskien moet ek rondhang op die plein tot jy terug is, dan hoef ek nie weer my pad te vind nie. Ons kan onsself verbeel ons is gewone mense wat net gou afgekom het vir brood en eiers.”
~ Uit ‘n e-pos aan A. (31 Oktober 2000)
