Monsters en fondasie: die projekte van Brand Smit

MAANDAG 16 JANUARIE 2006

Ek staan elke dag agter my rekenaar, en net soos ek die einde van nog ’n bladsy vol teks bereik, of die einde van ’n hoofstuk, of die einde van ’n gedig, of ’n les van een of ander teksboek, herinner ek myself daaraan om nie te opgewonde te raak nie: daar is immers nog honderde bladsye vol teks wat hersien moet word, en dan is daar meer as ’n dosyn notaboeke met geskrewe materiaal wat oorgetik moet word. Dan sal dit sekerlik goed wees as ek nog “een laaste keer” my gedigte hersien, en daar is ʼn halfdosyn teksboek idees waaraan ek nog wil werk, of wat afgehandel moet word, en kortverhale, en greeting cards en kalenders en vertalings van afgehandelde Afrikaanse materiaal en vertalings van materiaal wat nog oorgetik en verwerk moet word … Dat die projekte wat in hierdie dokument gelys sal word monsters is, maar ook die fondasie waarop ek my toekoms bou, is teen dié tyd ou nuus in die lewe van Brand Smit.

Vanmiddag konfronteer ek myself toe met ’n vraag: Wanneer het dit gebeur? Wanneer het dit gebeur dat ek myself so toegegooi het onder dit waarna ek so lieftallig verwys as my “projekte”? Vyf jaar gelede het ek vae idees gehad oor digbundels en ’n boek met my sienings oor menslike bestaan op hierdie planeet; daar was ook taalhandboeke wat ek wou skryf omdat … wel, omdat dit moontlik was, en omdat ek gedink het dat sommige van my idees vir handboeke beter was as van die handboeke wat ek soms moes gebruik. Toe, in 2001, besluit ek om minder klas te gee en eerder te werk aan die projekte waaroor ek al so lank gedreig het. Daai jaar het ek klaargemaak met my eerste handboek, getiteld Countries of the World – wat veronderstel is om die eerste boek te wees in ’n reeks van vier of vyf. Teen die einde van 2001 het ek ook begin werk aan ’n fonetiek handboek vir jong leerders. Lyste met woorde en sinne vir my Chinese studies is ook opgestel teen die tweede helfte van 2001, wat die basis sou word vir ’n ander projek waaraan ek koorsagtig gewerk het aan die begin van 2004. Materiaal wat uiteindelik “Persoonlike Agenda, Boek Een” sou word, het al gelê en stof vergader vir jare voor ek dit uiteindelik begin verwerk het aan die begin van 2003. Teen die tyd wat ek Boek Een afgehandel het (in Junie 2003), het ek geweet ek is besig met ’n projek wat alle ander in belangrikheid sou oortref. Ek het voortgeskryf aan essays en notas wat deel kon vorm van Boeke Twee en Drie en Vier en Vyf en so aan. Gedigte het ek al probeer skryf van die middel-negentigs af, en elke paar maande het ’n paar nuwe titels gesien, of verwerkte weergawes van vroeër pogings. Intussen het ek ook ’n paar kortverhale geskryf. ’n Reeks stories vir jong kinders met ʼn fokus op woordeskat en eenvoudige vrae is ook eendag uitgedink, en ek moes uit die aard van die saak onmiddellik daaraan begin werk. Tussendeur het ek gedink aan ’n reeks groetekaartjies, en siende dat ek nog altyd ’n ligte obsessie gehad het met datums, hoekom nie ook werk aan ’n stel onkonvensionele kalenders nie? En tussen-in skryf en tik ek steeds my handsenings styf aan Boeke Vier, Vyf, Ses …

So het ek vandag, Maandag 16 Januarie 2006, ’n lys opgestel, net om weereens – ter wille daarvan om angs te verdring en moontlik om myself moed in te praat – my idees van die afgelope vyf jaar in oënskou te neem, om te sien presies waarmee ek besig is, en om te kyk waarheen ek hopelik op pad is.

My hoop was nog altyd gewees dat ek die spreekwoordelike “alles” sal kan afhandel binne die veel befaamde “volgende ses maande”, ongeag die hoeveelheid ure in ’n gewone dag, en ongeag my menslike beperkinge. Dink ek toe: Dit het my vyf jaar gevat om hierdie lys van projekte uit te dink, en die werk te doen wat sover gedoen is. Sou dit onvanpas wees om te dink dat dit my nog vyf jaar sal vat om alles klaar te maak? Dit is waar dat dit baie werk is. Dit is waar dat ek alleen aan elke enkele projek werk. Dit is waar dat dit ’n wye verskeidenheid projekte is – daar is essays oor persoonlike politiek en religieuse oortuigings gekombineer met sosiale kritiek en sommer net alledaagse gebeure; taalhandboeke vir ’n spektrum van studente wat wissel van kleuters tot volwassenes wat hulle taalvaardigheid en kennis van die wêreld wil uitbrei tot mense wat sê, “Give me everything I need to know. I’ll do it on my own time”; daar is poësie wat vertel hoe ek die lewe ervaar; daar is selfs reuse kalenders wat jou daaglikse lewe reduseer tot klein blokkies teen die muur. Dit is ook moontlik dat die saad van langtermyn finansiële onafhanklikheid reeds geplant is. Wat daarvan as nog vyf jaar verbygaan voor die laaste item op die huidige lys deurgehaal kan word? Dit wat ek dan nie gedurende die volgende ses maande afhandel nie, word gedurende die ses maande daarna afgehandel, en dit wat nie dan afgehandel word nie, oor die volgende ses, en dan die volgende ses, en die volgende ses – tot elke handboek geskryf en gepubliseer is, en elke gedig tot vervelens toe hersien is, en elke opinie blink geskaaf is, en ’n stapels boeke op die tafel lê wat sê: Dit is hoe ek die lewe sien.

En aan die einde sal ek steeds in die nietigheid verdwyn – die papier waarop al die handboeke gedruk is, uiteindelik herwin vir ander gebruike; al die kopieë van my digbundels weggepak in bokse; Boeke Een al die pad tot Sewe … ingedruk saam met ander ou boeke op stowwerige rakke. Maar ten minste sal ek kan sê: Ek het nie opgegee nie. Ek het gesê ek dink dit kan gedoen word op ’n ander manier as wat voorgeskryf is, en dit het my vyf jaar gevat, of tien, maar “finansiële onafhanklikheid deur kreatiwiteit” het geseëvier!

Alles kom hierop neer: Brand Smit het sy beroep gekies. Hy het gekies om nie ’n personeelbestuurder, ’n predikant of ’n sielkundige te word nie – hy het besluit om ’n meester van projekte te word. En die hoofrede hoekom hy besluit het om ’n meester van projekte te word, is omdat hy van jongs af gevoel het hy moet iets met sy lewe doen. Soos hy sy twintigerjare een na die ander agtergelaat het in notaboeke en pogings tot poësie, het hy ook oortuig geraak van die feit dat hy iets het om te sê. En om te kan sê wat hy wil sê, het hy nodig om sy dae en nagte op ’n sekere wyse te spandeer. En om ’n lewe te kan leef wat bevorderlik is vir die werk wat hy nodig het om te doen, dit het hy geweet, moet hy geld verdien op wyses wat nie in ’n hoërskool voorligtingonderwyser se loopbaanboek verskyn nie. Derhalwe: Projekte.

Tot so onlangs as vanmiddag het ek aan my projekte gedink as werk wat ek jare gelede al begin doen het, en wat nog nie afgehandel is nie. Dit het gelei tot ’n siening van myself as iemand wat agter is met sy werk, iemand wat steeds besig is met werk wat eintlik maande gelede, selfs drie, vier jaar gelede, al afgehandel moes wees. Dit verander, vandag.

Sommige van die projekte wat ek begin het gedurende die afgelope vyf jaar is kommersieel van aard; ander is meer persoonlik. Sommige projekte is reeds afgehandel; meeste is nog ver daarvan af. Die werk aan die onafgehandelde projekte gaan voort, en dit sal voortgaan tot dit klaar is, al neem dit my nog ses maande … of nog vyf jaar. Die lys is lank genoeg.

Die lys: […]

Dit is vandag (reeds) Dinsdag 17 Januarie 2006 (00:12), die sewende herdenking van die dag wat ek gearriveer het op hierdie eiland. Sewe jaar en ons tel steeds – tot dit nie meer bevorderlik is nie.

______________________