Moenie wag vir die goue sent om te val nie

DONDERDAG 22 MEI 2014

Soms mis jy ’n deel van die legkaart, of jy het ’n sterk vermoede dat daar iets is wat jy nie raaksien nie. Maar – jy verstaan genoeg om oor te gaan tot aksie, om dit wat jy moet doen min of meer reg te doen, al is jou sukses beperk.

In sommige gevalle transformeer hierdie verlore stukkies van die legkaart egter in jou kop in die spreekwoordelike “magic penny” wat jy hoop een of ander tyd sal “drop”. Wanneer hierdie magiese kennis uiteindelik ook op jóú kop neerdaal, so glo jy, gaan elke onderdeeltjie in sy plek inval, die spreekwoordelike masjien gaan met ’n gehoes en proes aan die gang kom, en alles gaan uitwerk soos dit moet.

Hierdie hardnekkige geloof in Iets wat Wonderlik sal Wees om te Weet kan ’n struikelblok na sukses raak. In plaas daarvan om oor te gaan tot aksie, wag jy. Of jy ploeter voort, maar jy wil nie wat jy doen te ernstig vat nie. Sekerlik moet daar meer wees aan die storie, sal jy vir jouself sê. Sekerlik hou diegene wat reeds suksesvol is en wat aanspraak maak daarop dat hulle hul kennis en begrip met ander mense deel, die belangrikste stukkies terug.

Sedert die einde van verlede jaar het ek gekyk na die moontlikheid om geld te maak op die Britse perderesies prysruilhandelmark. Ek het alles gelees wat ek kon vind oor die onderwerp, van £37 e-boeke tot forumbesprekings tot artikels, en ek het dosyne video’s gekyk wat verduidelik wat mens moet doen en hoe alles werk. Elke nou en dan vang ek myself egter dat ek steeds wag vir ’n “goue muntstuk” om in my skoot te val – een brokkie inligting wat dit duidelik sal maak hoekom sommige mense suksesvol is, en ander nie.

Dalk is ek verkeerd, maar ek vermoed dat ek verniet my oë op skrefies hou, dat daar inderdaad nié meer enige verlore stukkies inligting is waarsonder geen sterfling ooit kan hoop om sukses te behaal nie, of diepverborge geheime wat net sekere suksesvolle mense ken.

Ek reken die enigste “penny” wat vir my moet “drop” is dat ek moet aanvaar dat ’n goeie strategie meer geld maak as wat dit verloor, maar dat dit nie al die geld maak nie, en dat dit nie elke keer geld maak nie.

Ek glo as jy hierdie insig internaliseer en toepas in jou finansiële spekulasies, maar ook as jy die beginsel agter dit toepas in ander areas van jou lewe, is jy gereed om saam met die groot seuns of meisies te speel. As jy hierdie beginsel kan aanvaar, is jy nie meer ’n kind nie, want jy dink nie meer soos een nie.

Hiermee saam kom ook ’n begrip van sukses: suksesvolle mense is nie suksesvol omdat hulle beskik oor ál die inligting of omdat hulle ál die truuks ken nie. Hulle maak eenvoudig die beste van dit wat hulle wél het, en van dit wat hulle wél weet en verstaan. Hulle is suksesvol omdat hulle oorgegaan het tot aksie terwyl vele ander steeds wag vir die “penny” om te “drop” – terwyl hulle steeds wag vir perfekte begrip, of vir ’n plan of strategie wat sukses so te sê kan waarborg elke keer wat hulle ’n kans waag.

______________________