’n Desperate versoek

SONDAG 15 MEI 2016

Ek het dit al voorheen genoem, maar ek doen dit nou weer, plegtig, in die openbaar: Ek vra myself, mooi asseblief, dat ek tog net nie ’n “oom” moet word nie.

Uit die aard van die saak is dit meestal mans wat hierdie versoek sal verstaan, en dan veral as hulle reeds hul sogenaamde middeljare getref het.

“Ooms” is gewoonlik konserwatief, en blyk in vele gevalle ’n by in hulle enjins te hê en ’n chip op hulle skouers. Hulle voel ook gereeld asof hulle manlikheid uitgedaag word. Een van die jonger geslag mans moet net dink daaraan om iets verkeerd te doen, soos om op die verkeerde plek te parkeer, te hard op sy selfoon te praat, of om voor die ou toppie in die ry in te druk by IKEA se restaurant in Kaohsiung (terwyl hy eintlik net weer aansluit by sy vriend), dan stu die “oom” op in die man wat enkele oomblikke tevore net ’n gewone mens was. Hy word rooi in die gesig, sy hare kry ’n gryser skakering van pure ontstokenheid, hy wil vir iemand die leviete voorlees, en hy sê dinge soos, “Kom net by … ASSEBLIEF!”

Dat almal hulle koppe vir hom skud, en sy vrou haarself voetjie vir voetjie van hom distansieer, maak aan hom niks saak nie.

Ten spyte daarvan dat daar nog plekke is waar “ooms” nog regeer – Saoedi-Arabië is een goeie voorbeeld, wil dit blyk asof “ooms” ’n bedreigde spesie is – rooi in die gesig van amper permanente ontsteltenis omdat iemand durf waag het om iets te doen waarmee die “oom” nie saamstem nie, en ’n gevoel dat indien die wêreld ooit aan hom behoort het, dit beslis nie meer die geval is nie.

Nou moet ek net myself sover kry om interne weerstand op te bou teen die “oom” binne my wat elke nou en dan dreig om sy ontstoke gesig te wys en sy vinger vir vreemdelinge te swaai.

______________________