Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?

WOENSDAG 22 OKTOBER 2014

Vanoggend by die tee-winkel staan ek langs ’n ouerige man van een of ander Westerse land. (Sy pienk skouers, ontbloot omdat hy ’n moulose frokkie aangehad het, het sy herkoms verklap toe ek nog etlike meter van die stalletjie af was.) Na hy liggies, in Engels, geflankeer het met die eienares van die besigheid en met haar bejaarde moeder, het hy na my gedraai.

“Are you an English teacher?” wou hy vriendelik weet.

Op my bevestiging merk hy op dat omtrent al die buitelanders wat hy raakloop, onderwysers blyk te wees.

“There are some engineers as well,” het ek hom reggehelp.

Toe ek wegry van die stalletjie, kon ek nie help om weer my kop te skud vir die vreemdheid van die vraag nie.

Stel jouself voor die eerste vraag wat iemand jou vra, is “Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?” Of, “Maak jy geld deur karre reg te maak?” Of dalk, “Maak jy geld deur mense te verteenwoordig in regsake?”

Ek vind dit hoogs amusant dat mense dink dis heeltemal normaal om, wanneer hulle jou vir die eerste keer ontmoet, te vra, “Hoe maak jy geld?”

Sou dit onbeleefd wees om vir iemand te vra, “Wat het dit met jou te doen?”

Natuurlik verstaan ek hoekom mense vir mekaar hierdie tipe vrae vra. Jy het beperkte geleentheid om iemand te identifiseer as vriend, vyand, of neutraal, en hoe hy of sy geld maak, is seker ’n maklike begin. (Asof iemand sal erken hy steel karre of beroof banke om kos op die tafel te sit.)

Ek sou nietemin graag vir die man wou verduidelik van my skryfwerk wat nie juis geld maak nie, maar wat vir my baie waarde inhou, en selfs ander maniere hoe ek wel geld maak, maar wat nie in een-woord etikette soos “English teacher” of “engineer” uitgedruk kan word nie.

Ek sou ook nog wou noem dat baie Westerlinge net werk as English teachers in Taiwan om dit te kan bekostig om te reis, of om tyd te kan spandeer aan hulle musiek, of aan ander artistieke ambisies.

Toe hy my vra of ek klasgee by die plaaslike laerskool, ’n paar blokke van die tee-winkel af, sê ek nee, ek werk by ’n taalsentrum in die dorp.

“It’s just a part-time job,” voeg ek toe by, “but it keeps me alive.”

______________________