Maak geld sonder om die geheime te ken

SATERDAG 7 DESEMBER 2013

Ek het ’n paar ure gelede NT$1 900 gespandeer op ’n handleiding wat gaan oor spekulasie op pryse in perdewedrenne op Betfair. Soos ek deur die PDF gelees het, het ek ’n paar dinge wys geraak wat ek nie geweet het nie. Tog, ek het bly wag vir die NT$30 000 per week geheime – dinge wat net die skrywer en die gelukkige kopers van die handleiding sal weet.

Soos ek sê, paar dinge geleer; geen geheime nie. Net soos wat daar geen geheime was in die gids oor “spread betting” wat ek in Julie gekoop het nie. Net soos wat daar geen geheime is in die benadering van die gerespekteerde Ian Erskine tot die koop-en-verkoop van pryse op sokkerwedstryde nie.

Tog maak mense geld met hierdie aktiwiteite, jaar in en jaar uit.

Vir maande lank het ek getoets wat Chris Elliott mense leer in sy “Trading FX for Profit” handleiding – geen geheime nie, maar wel ’n paar goeie idees en ’n paar brokkies advies. Die idees werk. Nie elke enkele keer nie, maar as jy die storie benader met dissipline en ’n kalm gemoed en jou posisie sluit wanneer jy moet (wen of verloor), maak jy geld, jy betaal huur, jy koop kos, en jy gaan op vakansie. Soos wat die man verduidelik in sy handleiding. En jy doen dit sonder om enige geheime te ken.

Wat is dan die verskil tussen die mense wat suksesvol is met hierdie maniere van geldmaak, en die mense wat aanhou om die bodem te krap? En wat moet ’n mens doen om deel te word van die suksesvolle groep?

’n Goeie plek om te begin is om uit te sorteer presies wat jy wil doen, wáár en vir hoe lank elke dag. Dan moet jy leer ’n paar basiese beginsels – deur artikels te lees, handleidings deur te werk, video’s te kyk, en te leer uit jou eie ervaring. Dinge wat nie oornag gaan gebeur nie maar wat jy definitief moet ontwikkel sluit in ’n positiewe houding, emosionele standvastigheid, en dissipline. Verstellings moet ook gemaak word aan die omgewing waar jy werk om dit bevorderlik te maak vir sukses. Dan, wanneer jy gereed is, pas toe wat jy geleer het, so gereeld as moontlik.

Die alternatief is om aan te hou soek vir geheime kennis wat jy reken net ’n uitgesoekte groepie mense weet. Enigste ding is, ek het ’n fyn gevoel jy gaan lank soek, en dalk net lank die bodem krap.

______________________