LOS GEDAGTES UIT DIE 16K

Deur 30 - 12 - 2003

Inhoudsopgawe vir hierdie stuk:

- Saterdag, 13 Desember 2003
- Sondag, 14 Desember 2003
- Dinsdag, 16 Desember 2003
- Woensdag, 17 Desember 2003
- Vrydag, 19 Desember 2003
- Kersdag, 2003
- Saterdag, 27 Desember 2003
- Dinsdag, 30 Desember 2003

Saterdag, 13 Desember 2003

Wiskunde: volgens my is dit so eenvoudig soos een plus een is nie gelyk aan drie nie.

***

Wat maak saak – op ‘n persoonlike vlak, hier en nou? Wat van ‘n wyer beskouing? Hoe belangrik is laasgenoemde? In elk geval, die antwoord op die eerste vraag: DIE VOLGENDE GESLAG, OM DIE VUUR AAN DIE GANG TE HOU.

***

Is dit ‘n kwessie van die siel wat weet hy is vasgevang in hierdie sterflike, weerlose liggaam, en dat hy vasgevang sal wees tot die liggaam sterf? Moet die siel dan nie eerder die liggaam gebruik om die reis die moeite werd te maak, of om die reis ‘n bietjie op te kikker nie?

Maar hoekom is die siel vasgevang in die liggaam? Dit klink soos iets wat ‘n doel moet hê… dis of dít, of die “siel” is net die resultaat van breingolwe wat uniek genoeg is om die mens-dier te onderskei van ander diere – tensy ander diere soortgelyke breingolwe het.

Mmm, tyd vir tee…

***

[Etlike dae na ek gedink het die “volwasse”-storie is uitgesorteer...]

“Jy’t nie ‘n huis nie, jy’t nie ‘n kar nie, jy’t nie ‘n regte job nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en jy’s nog nie getroud nie.”

“Ja, ek weet. Maar…”

“Geen maar’s nie. Hierdie is die dinge wat vir mý saak maak as ek ‘n man beoordeel. Jy mag dalk die een wees wat sewe jaar in Noordoos-Asië gespandeer het, wat gebroke Chinees praat, en wat ‘n hele literêre projek volgeskryf het oor jou opinies. Maar jy’t nie ‘n behoorlike huis nie, jy’t nie ‘n kar nie, jy’t nie ‘n werk nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en daar’s nie eers ‘n romantiese verhouding op die horison nie.”

En dis dit. Saak gesluit.

Maak dit saak? Nie soveel as wat dit irriteer nie.

Sondag, 14 Desember 2003

Daar’s een vraag waarop ons regtig eintlik ‘n antwoord moet kry voor ons ‘n kans staan om definitiewe antwoorde te kry op ‘n aantal ander vrae: WAT IS DIE OORSPRONG VAN LEWE?

Feit is, ons weet nie. Na eeue van wonder, wetenskaplike eksperimente en filosofiese ondersoek, weet ons nog steeds nie. Daar is teorieë, maar nie ‘n enkele teorie stel werklik heeltemal tevrede nie.

‘n Interessante vraag kan dus gevra word om hierdie Groot Vraag te benut: HOEKOM WEET ONS NIE?

Is dit omdat ons nie oor die regte woordeskat beskik nie? Is dit omdat ons nie oor voldoende data beskik nie? Is dit omdat ons op die verkeerde plekke vir antwoorde soek – of dalk te maklik ophou soek as ons dink ons het iets beet wat makliker in ons verwysingsraamwerk pas?

Dinsdag, 16 Desember 2003

Is ons die enigste kreatiewe diere? Nee, maar dis moontlik dat ons die enigste diere is wat skeppend is ter wille van skoonheid, en nie noodwendig vir ‘n praktiese doel nie. As ons terugkeer na ons mees basiese natuur, sal ons weereens net skep vir die praktiese waarde daarvan? Hoekom het primitiewe mense, grotbewoners, prentjies geteken op die mure van donker spelonke?

***

“We can’t run from who we are. Our destiny chooses us.” (Uit die film Rounders)

***

Tot watter mate is ek ‘n swerwer? Tot watter mate is die hele ballingskap/repatriasie-issue ‘n manifestasie daarvan dat ek gefrustreerd raak as ek te lank op een plek bly? En hoekom frustreer dit my?

***

Op ‘n elementêre vlak is dit ‘n keuse [vir my] van tussen veertig ure per week gespandeer in ‘n respektabele professie wat ‘n gereelde inkomste verseker, en veertig ure per week wat gespandeer word aan ‘n literêre projek.

***

Hoekom is om “mal” te wees so belangrik vir sommige mense in die formulering van wie hulle is? (Dis te sê as hulle helder genoeg kan dink om besorgd te wees daaroor, en rasioneel genoeg kan dink daaroor.) Hoekom voel hulle amper vertroos deur die feit dat hulle “nie heeltemal lekker” is nie? Omdat dit aan hulle ‘n gepaste identiteits-etiket verleen wat hulle minder angstig maak oor hulle verhouding met die breër gemeenskap, en hoe hulle binne hierdie gemeenskap funksioneer (of nie funksioneer nie, afhangende van hoe lekker hulle is).

Byvoorbeeld, “Ek weet ek pas nie lekker in nie, maar die dokter sê EK IS manies depressief.” Of, “Ek weet nie mooi hoe ek inpas by die gemeenskap nie, maar [gelukkig] [sê] die dokter [...] EK IS skisofrenies.”

[Ek is die laaste een om lighartig te wees oor die onderwerp van sielkundige ongesteldheid, en soos met enige ander siekte is dit nie my styl om die spot te dryf daarmee nie. Ek gooi wel die vraag in die wind van watse troos hierdie tipe etikettering bied aan mense wat om watter rede ook al nie lekker funksioneer in die gemeenskap waarbinne hulle hulleself bevind nie.]

***

Is daar positiewe aspekte van my lewe hier wat ek onderskat, as vanselfsprekend aanvaar as deel van my lewe na vyf jaar in ‘n plek? Gaan die afwesigheid daarvan my soos ‘n glas yswater tref op ‘n wintersoggend as ek uiteindelik terug is in Suid-Afrika? Ek praat van dinge soos die respek wat mens gewoonlik kry van ander lede van die gemeenskap as jy al vyf jaar deel is van daai gemeenskap – as jy daar woon en werk en daar geld spandeer.

Jy sal sê, “maar status in die gemeenskap maak mos nie regtig vir jou saak nie?” Ja, maar is dit omdat ek wel ‘n bietjie status hier geniet, en omdat ek wél ‘n bietjie respek kry van ander lede van die gemeenskap? Is dit nie presies waarvan ek praat nie? Is dit nie soos die ou met baie geld in die bank wat beweer dat geld nie saak maak nie?

Mens is op ‘n drafstap, besig om spoed op te tel voor jy by die heuwel kom. En dan gebeur iets, miskien twee of drie klein insidente, wat net vir ‘n oomblik jou spoed breek…

Woensdag, 17 Desember 2003

Ek glo dat God – soos verstaan word in die Joods-Christelike tradisie – mense gebruik vir ‘n spesifieke doel, al het hulle nooit die Apostoliese Geloofsbelydenis afgelê nie. Ek glo ook dat God hierdie mense sal beloon. Sal God aan die einde vir mense sê, “Dankie vir jou bydrae tot die stryd, maar as ek my nie misgis nie het jy nooit die Apostoliese Geloofsbelydenis geresiteer nie. So, lekker braai in die hel!”? Ek glo nie. Dis mense se god.

Op universiteit was dit vir my nogals ‘n groot skok toe ek ontdek dat mense hulle eie weergawes van “God” fabriseer, wie se toutjies hulle dan kan trek vir hulle eie doeleindes, en om ander mee te manipuleer. Ek het sedert daai tyd gesoek na die Ware God, in ‘n wêreld waar elkeen ‘n ander god aanbid as hulle eie “ware god”.

Miskien doen ek dieselfde, en miskien is ék ook besig om my eie god te fabriseer wat is soos ek hom wil hê. Miskien. Maar dalk is ek op die regte pad…

Vrydag, 19 Desember 2003

Ek het sekerlik nog baie wat ek wil sê, maar “Persoonlike Agenda” is ‘n oorvol trein wat binnekort moet vertrek.

***

Ek sal graag die literêre werk waarmee ek nou besig is, in Suid-Afrika wil doen. Ek weet ek kan dit doen in enige van die plekke wat ek oorweeg het as eindbestemmings van repatriasie gedurende die afgelope paar jaar (Middelburg, Stellenbosch, Bronkhorstspruit). Die vraag is, kan ek dit bekostig? My huidige behoeftes is minimaal, so ek sal graag “ja” wil antwoord.

My uiteindelike begeerte is egter dit wat vir ‘n mens basiese geluk en vertroosting bied in hierdie lewe, naamlik ‘n stabiele huislike situasie met ‘n vrou en kinders. DIT strook nie lekker met my huidige skryfambisies en inkomste nie.

Hoe gemaak? Ek moet óf a) hoop ek ontmoet ‘n vrou wat saam met my sal suffer vir my saak, óf b) ek moet kompromeer en ‘n vaster betrekking êrens probeer kry, óf c) ek moet wag tot ek ‘n inkomste verdien met wat ek nóú doen wat wel ‘n gesin sal kan onderhou.

Dit is die beste wat ek vir myself kan sê op Vrydag, 19 Desember om 14:29 in die namiddag.

***

Twee dinge: 1) “Persoonlike Agenda” het gesluit as ‘n platform vir my idees en outobiografiese stukke; 2) die enigste ding wat 100% seker is, is dat IETS moet verander aan my huidige lewe. Suid-Afrika, Engeland of nuwe jobs hier, is bloot detail; dat IETS moet verander… is seker.

Kersdag, 2003

Vyf honderd gelede was daar ook mense wat gedink het dat om wins na te jaag, benede hulle is. Wat het hierdie mense gedoen vir geld? Hulle was regters, onderwysers, en priesters, om slegs ‘n paar te noem.

Bogenoemde beroepe was egter gevolg vir ‘n INKOMSTE sowel as vir PLEK IN DIE GEMEENSKAP. So ook is daar vandag mense wat beroepe kies wat hulle weet nie sal lei tot ‘n lewe van finansiële gemak en luuksheid nie. Baie van hierdie beroepe is soortgelyk, indien nie identies aan die beroepe wat beskikbaar was aan sommige lede van die gemeenskap vyf honderd jaar gelede nie (regters, onderwysers, priesters). Hierdie beroepe word weereens nie net gekies vir die INKOMSTE wat dit verseker nie, maar vir PLEK IN DIE GEMEENSKAP.

***

Bladsy 531 in my geskiedenisboek [The World Since 1500, L.S. Stavrianos] maak die volgende punt: alle samelewings sonder ‘n middelklas is gedoem deur die stadige, maar verpletterende mag van geskiedenis (wat uiteindelik die lewens van alle individue beïnvloed). Interessant genoeg het “middelklas” in sy vroegste vorm feitlik uitsluitlik handelaars beteken – mense wat artikels gekoop het en dan verkoop het teen ‘n wins.

***

Daar is ‘n waarheid wat al vir ‘n geruime tyd soos ‘n hoofpyn meedoënloos klop binne my kop. Dit is die waarheid dat dinge tyd vat. Kyk maar net na my “boek” wat amper klaar is. Dit sou my altyd jare gevat het! Daar was nooit enige ander moontlikheid nie! Dieselfde met die stuk “Testament” van 1994. Dit sou my nege jaar – nege jaar! – vat voordat ek daai stuk kon gebruik! Wees maar haastig, soms is dit nodig. Maar of jy haastig is of nie, sekere dinge gaan altyd op die stadige boot arriveer.

***

‘n Ander gedagte is dit – Geseënde Kersfees, terloops – dat die lewe hard is. Wat verwag jy? Die lewe is hard, en genadeloos! Soek die klein (en soms groter) plesiertjies van die lewe op, koester dit, want… DIE LEWE IS HARD!

Baie mense se geloof staan en val op hierdie punt. Vele blameer God daarvoor dat die lewe genadeloos is. As God die Meester van die lewe is… dis die moelikste ding, om jou geloof te behou in die aangesig van die verskrikking wat die lewe soms is.

Tog, ons het nodig wat ons vrees, en ons het nodig wat ons nie verstaan nie.

Saterdag, 27 Desember 2003

To forge an identity as a writer is not an easy task. Om ‘n skrywer te wil wees, te vermoed jy’t dalk toepaslike talent, om hoë agting te hê vir jou gunsteling skrywers, en om die idee van ‘n skrywers-leefstyl te idealiseer, is alles net ‘n goeie begin. Aan die einde is dit belangrik dat jou identiteit as skrywer gegrond moet wees in EKSTERNE REALITEIT. Hierdie eksterne realiteit is pakke en pakke papiere met jou eie woorde op. En om hierdie pakke papiere te produseer, vat ‘n baie lang tyd…

***

Ek het dit! Ek verstaan nou hoekom ons in die moderne era so gepla is met ons identiteit – veel meer in elk geval as mense 500 jaar gelede (ek maak wat ek vermoed ‘n korrekte aanname is). Die rede is omdat die individu 500 jaar gelede meer deel was van ‘n groep, wat relatief konstant gebly het oor ‘n lang periode. Solank die individu deel van hierdie gemeenskap gebly het, het hy of sy nie nodig gehad om so gepla te wees met vrae soos “wie is ek?” nie.

Feit is, die basiese sosiale eenheid in die pre-industriële era was die “dorp” (village). Binne hierdie dorpie was dit die familie wat saak gemaak het, meer as die individuele lede. Vandag is ons as individue baie meer gesteld op onsself, en op onsself aangewese. Die kwessie van identiteit is dus ‘n noodwendige resultaat van die fragmentasie van pre-industriële sosiale strukture waarbinne die individu amper outomaties geweet het wie hy was.

Die individuele identiteit 500 jaar gelede was ook gedefinieer deur FUNKSIE in die sosiale struktuur (die dorpie): daar was die pottebakker, die timmerman, die ystersmit, die klerk, die vee-oppasser, die priester en onderwyser, en die astroloog (of iemand soortgelyks). Hierdie beroepe was in baie gevalle nie keuses nie, maar verpligtinge. Die individu het dus geweet wie hy of sy was omdat hulle geweet wat hulle FUNKSIE was. Soos [die skrywer van The World Since 1500] L.S. Stavrianos sê, “Each individual had recognized duties, rights, and status in his or her native village.”

Lewe in Europa, vyf eeue gelede, was ook heelwat eenvoudiger in terme van keuses wat op ‘n daaglikse basis gemaak moes word (kleredrag, haarstyl, toebehore). Vandag het die gemiddelde burger van die ontwikkelde wêreld nodig om te weet wie hy of sy is – of dan ten minste wie hy of sy wil wees – om ‘n keuse te kan maak oor watter selfoon om aan te skaf, of wat die eindresultaat moet wees van ‘n besoek aan die haarkapper.

Wat beteken dit? Hoe minder keuses jou daaglikse bestaan meebring, hoe minder het jy nodig om te weet watse haarstyl of watse produk definieer wie jy is, of wil wees.

***

‘n Interessante stukkie statistiek: 85 miljoen Amerikaners werk in ‘n nie-opsieners posisie in ‘n kantoor of fabriek.

***

Elke dag is Maandag. Orals is Middelburg. Ek is tuis enige plek waar ek my musiek in my ore het, en my notaboek onder my palm voel.

Die eerste keer het ek nie tuis gevoel nie, asof ek op ‘n plek was waar ek nie gehoort het nie. Nou weet ek behoort orals, en ek behoort nêrens.

Fun? That’s never been my argument. But let’s just say the Buddha didn’t achieve enlightenment by running around looking for fun behind every bush.

Dinsdag, 30 Desember 2003

Meeste mense weet nie waaraan hulle glo nie. (1)

Sommige mense vind dit makliker om hulself uit te druk as ander. (2)

Een van die kenmerke van Beskaafde Samelewing is dat mans en vrouens hulle naaktheid wegsteek vir mekaar. (3)

As die onderwerp van klasgee opkom, dink ek aan tyd. Sommige ander mense dink aan geld. Ek moet ‘n middeweg vind. (4)

Liberale beleid of opinie te ver links van die middel ontketen gewoonlik ‘n konserwatiewe reaksie. (5)

The male of the species keep roaming and fighting until he finds a female to mate with. (6)

Nobody likes to feel intellectually inferior. (7)

***

My boek het meer as net ‘n projek geword; dis nou ‘n tydelike betrekking…

***

[Soos ek reeds genoem het,] meeste mense weet nie waarin hulle glo nie. Die vraag kan gevra word of dit “geloof” aanhelp. Baie mense glo daarin om nie te veel vrae te vra nie, en dat om nie te veel belang te stel in teologiese vraagstukke nie, goed is. Hulle glo ook dat dit hulle in staat stel om “soos kinders” te glo.

Dit is wel so dat as jy nie behoorlik weet waarin jy glo nie, jy enige iets sal glo wat die leiers van jou godsdienstige gemeenskap vir jou sê. Natuurlik sal vele beweer dat hulle nié noodwendig alles glo wat hulle leraars sê nie. Die rede hiervoor is, interessant genoeg, omdat hulle alreeds nie heeltemal so onkundig is soos hulle glo ‘n kinderlik gelowige persoon behoort te wees nie. Hulle glo dus “soos kinders” wanneer hulle nié iets weet nie, en wanneer dit hulle pas, regverdig hulle die kennis wat hulle het op ander maniere.

Ek sê egter steeds, meeste mense – wat ek al teëgekom het, in elk geval – het nie ‘n idee waarin hulle glo nie.

***

Twee punte wat vele mense bereik: 1) jy besef jy tel nie regtig nie, 2) jy hou op probeer. Ek het al talle mense gesien in Taiwan wat die indruk skep dat hulle opgehou probeer het. Hulle lê, voete in die oggendson, en wag vir iemand om dalk ‘n koeldrank te koop, vir ander Mahjong-spelers om te arriveer, vir die sigaret tussen hulle vingers om uit te brand sodat hulle nog een kan opsteek. Of is dit ‘n geval van dat ek nie hierdie mense se uitkyk op die lewe verstaan nie? Miskien is nie almal so gepla daarmee om te “tel” in ‘n groter begrip van sake nie…

***

Een van die positiewe gevolge van die Industriële Rewolusie was die vrystelling van pagters, en die opheffing van ‘n stelsel wat hulle aan die grond, en aan hulle landhere gebind het. Hierdie emansipasie, tesame met ‘n beleidsverskuiwing wat meegebring het dat ‘n betekenisvolle persentasie publieke grond nie meer vir landboudoeleindes beskikbaar was nie (soos in Engeland), het egter verseker dat die voormalige pagters kort daarna, ter wille van hulle eie oorlewing, gebind was aan die behoeftes van die nuwe industrieë.

Die Industriële Rewolusie het ook meer vryheid – in teorie – vir die individu beteken, en aan hom meer keuses gegee. Geld maak dinge soms gelyk. Meer as net kapitaal het die pagter aan die grond en die landheer verbind onder die feudale stelsel; vandag, in teenstelling, koop geld enige iets wat jy nodig het. As jy vandag ‘n industriële of korporatiewe lyfeiene is en jy wen die lotery, of jy dink aan ‘n goeie idee, regeer jy môre oor jou eie klein koninkryk.

Die idee is nie om anti-Industriële Rewolusie te wees nie. Dit sal so sinneloos wees as om te sê jy’s anti-moderne wêreld. Ek kan nie vir ander praat nie, maar as ek ‘n keuse gehad het sou my eerste keuse vir geboorte tyd beslis nie die vyftiende eeu, of enige ander pre-Industriële Rewolusie periode gewees het nie. Die punt is om die Industriële Rewolusie vir jóú te laat werk.

___________

Hierdie inskrywing dateer: 30 - 12 - 2003 om 21:49 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.