Krisis afgewend

DONDERDAG 6 NOVEMBER 2014

Die sleutelbord slaan nie homself nie. Die muis kliek, maar net wanneer ek een van twee vingers afdruk op sy flanke. Woorde stol op papier, maar sit vas wanneer ek hardop met myself praat … wat eintlik net ’n halwe waarheid is, want woorde sit ook vas in my keel, of kruip weg agter my tande wanneer ek iets vir iemand anders wil verduidelik, of hulle wil verveel met ’n staaltjie oor die Europese Middeleeue, of met een van my befaamde opinies.

Nie dat ek daarmee wil impliseer dat ek oor soveel kennis oor die Europese Middeleeue beskik dat ek sommer op ’n sypaadjie of op die moltrein iemand kan vermaak met staaltjies daaroor nie, maar ek het al ’n paar Wikipedia artikels gelees, ’n paar dokumentêre video’s gekyk, en, om die waarheid te sê, ’n hele paar boeke gelees oor die onderwerp.

Wat mens, in teorie, slimmer kan laat verskyn aan ander, maar dit maak jou geensins ’n beter piesang uitkieser nie. Ek meen, drie van my laaste drie piesangs het kneusplekke gehad! Was hierdie kneusplekke reeds teenwoordig onder die goudgeel skil in die supermark, of het ek die vrugte gekneus toe ek my halfliter koppie groentee daarop neergedruk het in die mandjie wat op die voorkant van my fiets gemonteer is?

Die einste halfliter groentee het gelek gearriveer in die spookagtig verlate buurt waar ek twee vertrekke in ’n ou huis ingerig het as my “kantoor”. Toe ek die sakkie met die tee en die goudgeel piesangs uit die mandjie haal, loop daar tee oor my skoene en oor my broek. “WTF?!” wou ek gil. Toe besef ek die sakkie lek. Het die koppie gebreek? Het die vrou by die teestalletjie nie die deksel behoorlik toegemaak nie? Nadat die sakkie tee oor my skoene en netjiese broek gedrup het vir ongeveer twaalf sekondes terwyl lelike woorde vryelik uit my mond gevloei het, het ek uitgehardloop straat toe, die koppie uit die sakkie gehaal, en die tee in die sakkie in die drein gegooi.

Krisis afgewend.

Wat absoluut niks te make het met die Europese Middeleeue, of enige iets waarin enige iemand, ek ingesluit, enigsins belangstel nie.

______________________