Kort opstel oor die kloof van onortodokse sienings

DINSDAG 2 NOVEMBER 2004

Dis heeltemal te verwagte dat die onverbonde enkeling iemand sal soek met wie hy sy solitêre bestaan vir ’n wyle – as dit dan nie beter kan wees nie – kan ophef. ’n Ryk verskeidenheid van probleme verhoed egter soms die bestes onder ons om die kloof oor te steek tussen Ek-op-my-eie, en Ek-saam.

Onortodokse sienings oor die lewe, die mens se bestaan, wie en wat ons is, godsdiens, politiek, en wat mense doen met ten minste agt ure van elke weeksdag, is een faktor wat die sprong oor die kloof inhibeer.

Die skrywer van hierdie nota is, soos een of twee lesers moontlik al teen hierdie tyd agtergekom het, een van die miserabele siele wat glo sy eie oortuigings is so ongewoon dat mense wat hom nie sy hele lewe lank al ken en tot ’n mate vrede gemaak het met die woorde wat gereeld oor sy lippe vloei nie, so verskrik sal wees deur hom dat hulle al gillend sal hardloop na die naaste bus- of treinstasie om so vinnig as moontlik afstand te bewerkstellig tussen hulleself en hierdie vreemde kreatuur.

Soos enige miserabele leuenstoel-filosoof wat sy sitplek werd is, plaas ek die blaam vir my situasie op ander se kortsigtigheid. Indien mense net bietjie die gange van hul eie verstand wil verbreed, die vensters miskien oop wil beur, en hier en daar ’n alternatiewe deur wil oopmaak, sal ek nie kan bybly met al die sosiale afsprake nie.

Ek bevind myself in ’n omgewing waar potensiële vroulike metgeselle in twee groepe verdeel kan word: vrouens wat in Taiwan gebore is en hier grootgeword het, en vrouens wat in Westerse lande gebore is en daar grootgeword het. Laasgenoemde kom in werklikheid, vir my eie doeleindes, neer op vrouens van my eie land, en meestal van my eie taal en kulturele agtergrond.

Daar is een belangrike verskil tussen Taiwannese en Afrikaanse kandidate, wat my persoon aanbetref: my onortodokse sienings, en my leefstyl waarin hierdie sienings ’n daaglikse tasbare werklikheid is, is ’n meer pertinente onderwerp van gesprek met laasgenoemde groep. Dit is in vele gevalle byvoorbeeld makliker om weg te kom met my spesifieke godsdienstige oortuigings met ’n Taiwannese vrou wat self óf geen duidelike godsdienstige oortuigings het nie, óf wat haar eie mengsel volg van meer as een godsdiens, as met ’n Afrikaanse vrou wie se identiteit en wêreldbeeld gevorm is in ’n Calvinistiese huishouding.

Ook die omgewing wat Taiwan is, is bevorderlik vir my om voltyds “skrywer” te wees, en deeltyds steeds ’n goeie inkomste te verdien as “English teacher”. Indien ek ’n verhouding aanknoop met ’n vrou met wie ek ’n taal en kultuur deel, is daar ’n sterk moontlikheid dat ons sal terugkeer na Suid-Afrika. Die uitdaging om dinge in Suid-Afrika vir my te laat werk soos in Taiwan, is egter veel meer ingewikkeld.

My sogenaamde onortodokse sienings kom amper altyd ter sprake met Afrikaanse vrouens, in ’n taal waar ek nie kan wegkruip agter gebrekkige woordeskat of swak uitspraak nie, en in terme en implikasies wat ek wéét, ons albei alte goed ken en verstaan. Om ’n vrou van my eie taal en kultuur te ontmoet met wie ek my sienings en oortuigings kan deel sonder inhibisie, is derhalwe ’n uitdaging van ’n uitsonderlike moeilikheidsgraad.

Dit kan gesê word dat ek nodig het een van twee tipes vrouens in my lewe:

* ’n vrou wat onbewus is van presies waarin ek glo; of

* ’n buitengewone vrou wat my oortuigings en persoonlike politiek verstaan, en breed genoeg kan dink om te kan sê: “Ek stem nie noodwendig saam met alles nie, maar ek hou van jou.”

______________________