Koffietafels en identiteit – waarheid en leuens – vraag en antwoord

WOENSDAG 29 JUNIE 2005

11:57

’n Man is in ’n verhouding met ’n vrou. Hy’t na jare se dink oor homself en oor die lewe besluit wie hy wil wees, waar hy wil woon, in watter styl, met hoeveel geld hy tevrede kan wees, en so meer.

Oor die verloop van maande wat hy met die spesiale vrou in sy lewe spandeer, kry hy ’n idee van wat haar visie is van ’n mooi huis. Sommige aspekte daarvan korrespondeer met sy eie idees. Ander items tref hom dalk as opsigtelik “bourgeois”. Hy het ook ’n aversie opgebou oor die jare teen dekor wat lyk of dit uit ’n katalogus gekoop is, en hy word herinner aan ’n Fight Club quote: “Flipping through catalogues, deciding which coffee table defines me the best.”

Hierdie man is gemaklik daarmee om van ’n koffietafel ’n politieke argument te maak. Tog, hy is lief vir die vrou, en haar visie van ’n mooi huis … is mooi, stylvol, esteties aangenaam, en warm. Sy vraag aan homself: Moet hy erken dat die voorstelle wat sy maak om van ’n woonstel ’n mooi tuiste te maak nie in konflik is met sy idee van ’n aangename leefspasie wat haar teenwoordigheid in sy lewe pre-dateer nie, of moet hy voortgaan om sy visie van ’n “intellectual’s lair” te verdedig tot die laaste koffietafel splinter, omdat hy sal sterf van verleentheid as enige ander leunstoel rewolusionêr van opinie moet wees dat hy bourgeois geraak het die oomblik toe hy sy hart verloor het op ’n vrou?

Wat hier ter sprake is, is identiteit. Wie en wat jy is in die omgewing en tyd waarin jy bestaan vind uitdrukking in jou adres, jou klere, jou meubels, jou vervoermiddel, en die ornamente en muurbehangsels in jou sitkamer. As enige van laasgenoemde uitdrukkings van jou wie-en-wat verander, wat sê dit van wie en wat jy is, of geword het, of besig is om te word? (En enige leser wat van mening is dat ’n koffietafel net ’n donnerse koffietafel is, het duidelik nog nie die fyner punte van bestaan gekontempleer nie.)

Mens verander, dit weet almal. Mens tree in ’n verhouding met iemand spesiaal, en jou bestaanstoestand word oornag (en met die verloop van maande), getransformeer van enkellopende amateur akademikus/skrywer, na … amateur akademikus/skrywer in betekenisvolle verhouding met ’n pragtige vrou wat nie hou van gebreekte toilette en pap tweedehandse rusbanke met opgestapelde koerante onder ’n laken om te verhoed dat mens inval nie.

Verhoudings, kompromie, politiek, koffietafels … whatever. Laat die shopping begin!

14:10

Hoekom skryf ek? Hoekom sit ek op ’n trein? Hoekom knip ek my naels, eet ek ontbyt, sit ek sakke vol rommel in die hoek van my kombuis, skuif ek meubels rond, plak ek prente teen my mure, kyk ek na die syfer op die weegskaal, herinner ek myself dat ek my hare moet gaan sny later vanmiddag, en probeer ek vriendelik en beleefd wees?

Omdat … regtig? Omdat? Beter, mooier, maerder, ryker, slimmer, gesonder … beter, mooier, maerder, ryker, slimmer, gesonder … beter, mooier, maerder, ryker, slimmer, gesonder! Goedkoop trein, express – ’n spoor bly ’n spoor!

Bokse vol gemors wat net nie weggegooi kan word nie, nat handdoeke, nuwe beddegoed wat vrot oues moet vervang, mense wat om jou jaag en ’n lawaai in jou ore maak en eet en drink en lag en koop en vreet en jaag en sit en slaap en koop en vreet en suip en jaag en lê en praat en jaag en suip en vreet en slaap en koop en raas en jaag en vreet en slaap en sit en praat … Seks en dood, en tussen-in probeer mense hulleself wysmaak dat ander dinge ook belangrik is.

Kuns, vermaak, rommel, mens en treine en blomme, sigarette en groentesop … Aag! Laat hierdie asseblief nie my laaste nota wees nie!

* * *

Waarheid en leuen. Is ek op die trein?

(Dis 15:37.) Nee.

Soms sterf ek in die waarheid en word weer gebore in die leuen. Soms is die leuen belangriker as die waarheid. Soms het die leuen meer waarde as die waarheid.

Voor die woord “waarheid” bestaan het, het die waarheid reeds bestaan. Waarna ons verwys as die waarheid, is dus min of meer akkuraat; dit strook min of meer met die werklike waarheid; dit tref min of meer die kol.

Is ek op die trein?

(Dis 15:42.) Ja.

Wat is die punt? My omgewing het verander. Ek het volgens ’n vooraf beredeneerde plan ’n aksie geneem, en my waarheid het verander. Om 15:37 was die waarheid dat ek nie op die trein was nie. Om 15:42 was die waarheid presies die teenoorgestelde – ek was op die trein.

Mens kan slim wees en vra na ’n behoorlike definisie van “trein”. Of mens kan die korrekte gebruik van die voorsetsel “op” debatteer. “Op” sou streng gesproke beteken bo die trein, op die dak. Jy het immers die trein betree. Dit is derhalwe meer korrek om te beweer dat jy “in” die trein is, dan nie?

Geen graad van semantiese kluitgooiery kan egter die waarheid verander dat my waarheid verander het tussen 15:37 en 15:42 nie.

DONDERDAG 30 JUNIE 2005

Ek het gister verby ’n stootskraper op ’n trok gery. Vir ’n oomblik was ek diep beïndruk met die masjien: al die buisies en arms en staal, en droë modder wat getuig van ’n harde dag se arbeid. Ek besef toe ek ken nie die persoon wat daai masjien ontwerp het nie. Ek weet niks van hom of haar af nie! Die gedagte het my nie te veel ontstel nie, want die redelike aanname is gemaak dat die masjien wel ontwerp is, en dat dit wel deur ’n persoon ontwerp is, en dat hierdie persoon werklik bestaan, of bestaan het.

Ek besef toe ook dat ek geen idee het van die mense wat die masjien gebou het nie …

* * *

Leef ek in ’n tyd van oorlog of vrede? Self was ek nog nooit in ’n oorlog betrokke nie. Ek het ook nog nooit oorlog eerstehands aanskou nie. Meeste van die mense wat ek ken en daagliks mee kontak het, het ook nog nooit oorlog gesien of ervaar nie. Dit blyk dus ’n redelike veronderstelling te wees dat ek in ’n tyd van vrede leef. Tog, ek sien beeldmateriaal op TV van oorlog. Ek het ook al mense ontmoet wat oorlog eerstehands ervaar het, hoewel hulle dit ervaar het jare voor ons paaie gekruis het.

Die punt met hierdie stukkie teks is nie oorlog of vrede nie – dit is om te illustreer ’n verskynsel wat alledaags is in menslike kommunikasie. ’n Vraag word gevra, en ons gaan gewoonlik sonder veel aarseling oor na die mees gepaste beantwoording daarvan. Was die vraag ’n redelike een? Watse veronderstellings is gemaak waarmee die persoon wat moet antwoord, nie noodwendig sou saamstem as hy vir ’n wyle daaroor moes nadink nie? Was daar inherente implikasies aan die vraag waarmee die antwoorder nie eenstemmig sou wees, sou hy dit besef het nie? Byvoorbeeld, wat is “oorlog”? Hoe definieer ’n vraagsteller ’n “tyd van vrede”? Watter antwoord sou korrek wees? Weeg opinie hier swaarder as feitelike korrektheid? Wat sou ’n redelike opinie wees, en wat ’n drogredenasie?

Vrae en antwoorde (of opinie) is wyses waarop ons meer inligting versamel oor onsself, die omgewing wat ons bewoon, die tyd waarin ons leef, en die mense met wie ons die omgewing deel. Vrae, of die wyse hoe die vraag gevra word, beïnvloed ook soms die antwoord – of die wyse hoe dit beantwoord word.

Laaste sin: informasie is belangrik; informasie word ingewin deur vrae te vra; akkurate, korrekte, sinvolle en redelike antwoorde is die mees algemene resultaat van goed geformuleerde, redelike en sinvolle vrae.

______________________