Klein huis, groot wêreld

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Wat relevant is, en wat nie relevant is vir die “eienaar” van die SELF, is een van die belangrikste oorwegings om in ag te neem in die SELF-definiëringsproses.

’n Voorbeeld hiervan is opinies. Watter aangeleenthede relevant genoeg is vir ’n persoon om ’n opinie oor te formuleer en watter nie, vereis kennis oor die SELF.

Dit volg dus dat hoe kleiner die omgewing waarvan jy bewus is, hoe minder die data wat jy ontvang, en hoe makliker dit derhalwe is om jou SELF te vind/te definieer.

As ek byvoorbeeld in ’n groot stad woon en gereeld omgaan met ’n wye verskeidenheid mense, en bewus is van politieke vraagstukke strekkend van Noordoos-Asië tot die Midde-Ooste tot Sentraal Afrika, Europa en Noord-Amerika, en van omgewingsvraagstukke, etiese vraagstukke, godsdienskwessies en vele ander onderwerpe waaroor mens ’n opinie kan hê, sal my proses van identiteitsdefiniëring aansienlik langer neem as wat die geval sal wees met ’n ou wat grootgeword het in ’n klein dorpie, daar woon as ’n volwassene, en uiteindelik daar sal sterf as ’n bejaarde.

Mens sou graag wou sê – want woon meeste van ons nie maar in die “groter” wêreld nie? – dat dit beter is om bewus te wees van meer, en dat dit vervelig is om jou hele lewe binne ’n beperkte omgewing te slyt. Argumente kan ook gemaak word oor “kennis is mag”, oor gebrek aan meer of beter inligting wat lei tot vrees vir dit waarvan sommige mense moontlik net vaagweg bewus is, en gebrekkige kennis wat lei tot misverstand en diskriminasie teenoor dié wat nie “soos ons” is nie.

Die onderwerp van groot wêreld versus klein dorpie is nie wat my op die oomblik interesseer nie; my huidige verhouding met die “groter” wêreld is ook van so ’n aard dat ek geen motivering het om ’n saak uit te maak vir deelname daaraan, al dan nie.

Die interessante vraag vir my op hierdie stadium is, kan jy jou SELF ooit volledig definieer in ’n “groot” omgewing waar nuwe verhoudings gereeld aangeknoop word, waar vraagstukke kom en gaan, en waar nuwe data invloei op ’n daaglikse basis terwyl jy nog nie eens verlede maand se koerante of Time magazines klaar gelees het nie? Ek glo nie.

Natuurlik is vraagstukke waaroor jy posisie moet inneem as deel van jou identiteit minder belangrik as verhoudings. Die waarde van minder, maar meer betekenisvolle verhoudings, insluitende positiewe familiebande, word dus weereens beklemtoon. (Ek het nie probeer om dit in te werk nie, dit het net as ’n voor die hand liggende antwoord na vore getree op wat vastigheid gee vir die SELF in ’n immerveranderende wêreld. Dit wil dus blyk dat ek weereens na ’n rondte van intellektuele bepeinsing op ’n brokkie insig afgekom het wat “almal weet”.)

’n Balans kan derhalwe voorgestel word tussen “klein” wêreld by die huis, en “groot” wêreld buite die tuinhekkie; voorkeur in prioriteit ten gunste van eersgenoemde gee aan die einde van die dag aan mense ’n duideliker definisie en sterker oortuiging van die SELF.

Maar nou dat ek daaraan dink … is dit nie wat meeste mense reeds doen nie? Natuurlik! Mense is briljant! (Net jammer hulle weet dit nie.)

______________________