Kennisgewing Van ‘n Nuwe Identiteit, En ‘n Paar Prestasies
['n Update vir my huismense, wat my meer as 'n jaar tevore laas te siene gekry het.]
———————
“Hello daar in die wildernis. Hier reën dit lekker. Hoe lyk dinge nog daar? Het daai suster van my toe weer daar by julle uitgesak, of wat? Sê vir haar sy moet ‘n bietjie haar vingers oor die keyboard laat dans, ek wil weet of sy droogmaak of nie. Dan ook het julle my foto te siene gekry? Stuur ‘n bietjie vir my ‘n paar van julle nuutse foto’s laat ek kan sien of ek julle nog sal herken wanneer ek uiteindelik weer kom kuier.
Vir my sal julle natuurlik nie herken nie want ek lyk soos Sylvester Swartzalone, en al die hare het teruggegroei op my kop so ek lyk soos ‘n hippie. En my maag is plat soos ‘n pannekoek met sulke riffeltjies, en my bo-arms lyk soos stompe. En ek het plastiese sjirurgie laat doen, so ek lyk uiteindelik soos ‘n mens, so-by-so dat vrouens skielik sonder ophou na my staar (hulle giggel wel as ek my kuif gooi). En amper vergeet ek om te noem: ek het ook die afgelope tyd my doktorsgrade in filosofie en geneeskunde gedoen, so as julle nie te veel mind nie sal ek dit verkies dat julle my van nou af aanspreek as ‘Generaal-Doktor’, en nie meer net as bloot ‘Generaal’ nie.
Dan het ek ook oor die naweek my eerste Rock & Roll double album die lig laat sien, wat binne vyftien minute wêreldwyd uitverkoop het. Vrouens val blykbaar flou as my treffer oor die radio gespeel word. Verskeie is ook al opgeneem in malhuise omdat hulle histeries raak elke keer as my naam genoem word.
So siende dat ek nou ‘n trippel-miljoenêr is kan julle uiteindelik vir julle ‘n karavaan koop en gaan aftree op die Engelse platteland.
Liefde dan,
Doktor (x2) Generaal Brand goudSmit.”
~ Uit ‘n e-pos aan my ouers (19 Augustus 2001)
