Jare gereduseer tot ’n stelling

VRYDAG 2 DESEMBER 2005

Ek het in Korea gewoon vir 22 maande en drie dae. Vandag sê ek: “Ja, ek was in Korea. Dit was orraait.” Dit vat my 4.5 sekondes om hierdie stelling te maak. Tog, daar was ’n tyd in my lewe wat “Ek is in Korea” geleef is 24 ure elke dag, sewe dae per week, en dan … weer 24 ure, en weer, en weer. Al daai tyd waarin ek asemgehaal, geëet, geslaap, gewerk en gekuier het, is nou gereduseer tot een stelling: “Ja, ek was in Korea …”

Vir die grootste deel van my volwasse lewe was ek nie betrokke in ’n verhouding met iemand nie. Alleenheid, en eensaamheid, was noodwendige resultate. Dit was so ’n oorweldigende ervaring dat dit tot onlangs tot ’n groot mate my lewe gedefinieer het. Nou is ek al amper nege maande lank betrokke in ’n verhouding met ’n vrou wat net beskryf kan word as ’n engel (en ek speel nie rond met sulke terme nie). Vandag, as ek gevra word daaroor, sal ek sê: “Ja, ek was vir lank alleen. Soms was dit oukei, en soms was dit nogals redelik kak.”

Wat jare van my lewe beslaan het, en ’n definiërende aspek van my lewe geword het, word nou uitgedruk in ’n sewe sekonde stelling. Ek wil amper uitroep, “Sewe sekondes?! Ons praat hier van dae, en nagte, en weke, en maande, en jare! Sewe sekondes?!”

Ek werk nou al vir meer as twee en ’n halwe jare lank aan ’n boekprojek – ’n versameling essays en notas. Die Afrikaanse teks is so te sê gereed, en ek is reeds besig met die Engelse vertaling. Ek het ook al ’n magdom tyd gespandeer aan ander projekte. Geen tasbare sukses het sover uit enige iets gekom nie – geen erkenning of betekenisvolle wins nie; slegs enkele aanmoedigings, en ’n bietjie geld uit een handboek.

Soms pla hierdie gebrek aan vrugte van my arbeid. Ek glo egter dat hierdie situasie, soos die Korea voorbeeld en die alleenheid, ’n punt sal bereik waarna ek ook daarna sal verwys in die verlede tyd: “Ja, ek moes redelik baie tyd insit voor ek kon smaak die eerste vrugte van my arbeid.”

______________________