IN DIENS VAN ‘n IDEE

Deur 05 - 01 - 2004

Ek kan sê dat dit altyd op my kaarte was dat ek sou teruggaan Suid-Afrika toe. Dit kan verder gesê word dat dit my agt jaar – vanaf 1996 – gevat het om bekend te raak met die feit, en te aanvaar dat my terugkeer sal wees as ‘n skrywer, met die gepaardgaande implikasies van sosiale status en lewenstyl.

“Nie ‘n kar nie? Wel, hy is immers ‘n skrywer.”

“Moet die bus vat om by sy ouers in Middelburg te gaan kuier? Wel, as hy ‘n gewone kantoorwerker was, was dit een ding…”

“Twee-en-dertig en hy’s nie getroud nie, en hy’t nie eens ‘n kredietkaart nie? Goed en wel, dis nou nie asof hy ‘n bankklerk is nie.”

“Vuil baard, ou sweater, blou jeans wat hom seker R50 gekos het? Hy’s nie werkloos nie, is hy?”

“Nee, hy’s ‘n skrywer.”

Ek is in diens van ‘n idee. Ek is ‘n Sendeling vir ‘n Evangelie van ‘n Ander Aard. Maar hoe sien ek myself deur ander se oë? Dit is so dat mense soms onverdraagsaam is, dat hulle nie altyd te oopkop is vir alternatiewe denk- en leefwyses nie. Dit is ook waar dat as jy jouself bewys het as ‘n kunstenaar (wat tradisioneel neerkom op kommersiële sukses), jy so aanvaar sal word deur die gemeenskap.

Is ek nietemin gereed om sekere realiteite te aanvaar wat kenmerkend sal wees van my lewe oor die volgende paar jaar? ‘n Vrou sê byvoorbeeld na een of twee dates: “Ek het regtig jou geselskap geniet… dis nou net jammer jy’t nie meer geld nie. Ek meen, jy’s nou wel ‘n skrywer en so aan, maar dis nie asof enige iemand ooit enige van jou boeke lees nie…” Is ek gereed daarvoor? Dit sal een ding wees as ou toppies wat in BMW’s rondry hulle koppe skud, maar ‘n mens is ‘n mens. Is ek bereid om dinge wat vir my belangrik is en wat ek nodig het, op te offer ter wille van my diens aan ‘n idee?

(Dis ‘n ander Maandag, in ‘n ander jaar.)

Wat ek hier sê, is niks nuuts nie. Wat wel verander het, is die graad van my toewyding aan die Beroep van die Skrywer. ‘n Jaar gelede het ek geweet ek wil ‘n skrywer wees; nou weet ek dat ek vir jare al probeer om dit te balanseer met dinge wat geld kan maak. Geld moet steeds gemaak word, niks kan dit ooit verander nie. Maar ek weet ook nou dat ek nie net ‘n skrywer wíl wees nie, ek móét een wees. Ek het nodig om te skryf. Maar selfs al kan ek die redes uiteensit vir my behoefte om te skryf, verander dit niks daaraan dat ek ook glo ek móét skryf nie.

Die kern van hierdie saak lê moontlik opgesluit in wie jy IN WESE is. Jy mag dalk self die voordele begeer van ‘n konvensionele middelklaslewe, maar ‘n ander begeerte dring jou in rigtings wat nie noodwendig bevorderlik is daarvoor nie. Hierdie begeerte mag dalk uitdrukking vind in sosiale of politieke aktivisme, in sendingwerk, of die hardkoppige en idealistiese nastrewing van artistieke ambisies – die onderliggende motivering is om te wees wat jy IN WESE is.

So is dit ook met skryfwerk, en dan spesifiek die produsering van materiaal waar finansiële kompensasie nie hoog op die prioriteitslys is nie. Dis nie net nog ‘n beroep nie, dis ‘n lewe waar ‘n agenda gedien word. As ‘n beroep het dit sekere implikasies vir jou sosiale en finansiële status. Dis ‘n lewe – selfs ‘n roeping – wat vereis dat jy opofferings moet maak. Dit sal moontlik beteken dat iemand soos ek eers op veertig kan bekostig om te trou en kinders te kry (en dan hopelik met ‘n vrou wat my eiesoortige idees oor die lewe en oor myself aanvaar), en dat ek moontlik eers op vyftig sal kan bekostig om ‘n huis te koop.

‘n Persoon wat nie bereid is om die nodige opofferings vir sendingwerk of diens aan ‘n goeie saak te maak nie, moenie ‘n sendeling of ‘n aktivis word nie. As jy die duur dinge van die lewe wil bekostig, as jy die luukshede van die lewe wil geniet, word ‘n besigheidsman of ‘n aandelemakelaar. As jy in diens van ‘n idee wil staan, moet jy kan opoffer.

(5 Januarie 2004)

___________

Hierdie inskrywing dateer: 05 - 01 - 2004 om 23:05 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.