Identiteit, die SELF, en die resultaat van alles

WOENSDAG 23 JUNIE 2004

Vier jaar gelede het ek ook aan myself gedink as ’n skrywer, maar op ’n daaglikse basis, van opstaan tot slaap, was ek vir alle praktiese doeleindes my inkomste genererende professie. Wat was hierdie inkomste genererende professie? Ek was ’n Engelse onderwyser wat, in alle eerlikheid, meestal misluk het in die taak wat ek gehuur was om te doen, vyf dae uit elke week. Ek het aan myself gedink as ’n skrywer, en ek hét geskryf (die hele “Persoonlike Agenda: Boek EEN” is ’n bewys daarvan), maar ek het nie die oortuiging gehad oor myself en my identiteit wat ek nou het nie. Ek was, tot ’n groot mate, ’n onvervulde, gefrustreerde persoon omdat ek onvervuld en gefrustreerd was in my beroep.

Vyf honderd jaar gelede in Europa – tydens die pre-industriële era – was die posisie van die familie in die feodale hiërargie een van die belangrikste bepalers van persoonlike identiteit, ten minste sover dit die gemeenskap aangegaan het in wie se midde die persoon hom- of haarself bevind het. Die arbeidsrol wat ’n persoon vervul het (indien dit enigsins nodig was dat hy of sy enige arbeid moes verrig), was ook gekoppel, tot ’n betekenisvolle graad, aan geboorte.

Dit kan dus gesê word dat identiteit, in die Europa van 500 jaar gelede, hoofsaaklik gedikteer is deur noodlot – waar die persoon gebore is, en die posisie wat sy of haar familie beklee het in die feodale hiërargie, en ook deur die behoeftes van die gemeenskap – wat tesame met noodlotsdata, die persoon se arbeidsrol bepaal het.

Sedert die ontdekkingsreise, en die gevolglike ekonomiese, politieke, wetenskaplike en industriële rewolusies, het professie ingetree as ’n addisionele, en kardinale bepaler van identiteit. Die mens wat sy of haar bestaan slyt in die geïndustrialiseerde wêreld het tot ’n mate ’n keuse van watter rol hulle wil speel in die gemeenskap, watter spesifieke behoeftes van die gemeenskap hulle wil vervul, en selfs waar hierdie rol gespeel en die behoeftes vervul sal word, of dan in watter gemeenskap. Finansiële mag kan genoem word as ’n verdere faktor wat mense se beskouing van hulself affekteer, asook hoe hulle hul identiteit definieer. Geld is ook ’n groot gelykmaker – verhale van mense wat in slote gebore was en in paleise opeindig is wel steeds raar, maar dit gebeur.

As dit kom by die vraag na wie jy is, kyk meeste mense dus steeds na die kaarte wat aan hulle uitgedeel is – plek van geboorte, geslag, voorkoms en talente, sosio-ekonomiese status van familie, en spesifiek in die geval van volwassenes, ook na professie – wat status en rol in die gemeenskap definieer.

Meeste van bogenoemde gedagtes was voorheen genoteer in hierdie literêre projek, so wat is die punt daarvan om dit weer te noem?

Dit was tot onlangs vir my ’n private plesier om te glo ek wys die “waarheid” uit aan mense wat miskien geglo het ’n goeie werk en baie geld is die beste waarna hulle kan strewe in die lewe. Ek wou sulke mense nader roep, ’n antieke trommeltjie oopsluit, en binne in sou hulle dan ’n Groter Waarheid sien: “Jy ken nie jou WERKLIKE self nie! Wat jy op hierdie stadium van jou lewe is, is net ’n resultaat van noodlot, omgewing, en gebeure wat jóú lewe onderskei van die volgende persoon s’n. Jy leef onder die illusie dat jy weet wie jy is; ’n illusie wat jou nietemin in staat stel om te funksioneer as ’n Mens-in-Hierdie-Tyd-en-Plek.”

Die bedoeling was dat eers wanneer ’n mens in jou eie siel terugkyk en jou “ware self” identifiseer, kan jy aanspraak maak op volle mensheid, op die feit dat jy (uiteindelik) weet wie jy “werklik” is. Ek het gereken dat om jou “ware self” te ontdek – of dan te definieer – die Groot Prys is aan die einde van ’n lang, en baie persoonlike reis.

Nuwe insigte het egter bogenoemde beskouing begin ondermyn. (Ook hierdie vars insigte is reeds genoem, maar siende dat dit immers die onderwerp aanspreek van die waarde van ’n enkele menslike lewe, reken ek dis in die haak om weer die saak aan te raak.) Wat, sou ek dan reken, is belangriker as die ontdekking en definiëring van die “ware self”? Die antwoord: RESULTATE VAN JOU LEWE.

Ons almal arriveer as klein bondels vlees en bloed op hierdie planeet, ons gil ons mensheid uit aan almal wat wil hoor, raak ouer en groter, en uiteindelik breek die dag aan wat ons weer die toneel verlaat. Die vraag, aan die einde, behoort nie te wees of jy bestaan en gefunksioneer het as jou Eie Ware Self nie, maar watse resultate jy agterlaat van jou tyd op aarde.

Het jou lewe meer positiewe as negatiewe resultate opgelewer? Sal die wêreld ’n sug van verligting slaak wanneer jy jou laaste woorde uiter? Het jy net daarna gestreef om jou eie behoeftes te vervul, en so lank as moontlik so gelukkig as moontlik te wees? Is dit belangrik vir jou om positiewe resultate van jou bestaan agter te laat? Wat ís positiewe resultate? Hierdie is vrae wat elke persoon vir hom- of haarself kan, en behoort te beantwoord.

Ek het ’n paar beginsels ontdek en ’n paar maatreëls geïmplementeer wat dit vir my moontlik maak om as ’n redelik normale volwassene te kan funksioneer in die tyd en wêreld waarin ek gebore is. Ek het ook ontdek dat die lewe buite my woonsteldeur tot ’n groot mate ’n spel is, en dat as jy die reëls kan ontsyfer en jouself tot ’n bevredigende graad kan versoen daarmee, jy moontlik ’n gelukkige lewe kan lei, en aan die einde sal kan verklaar dat jou lewe die moeite werd was.

Tog, as ek kan kies, sal ek my lewe wil leef as ’n bewustelike poging om meer positiewe resultate as negatiewe resultate te bewerkstellig wat ek kan agterlaat, eerder as net om te weet ek was gelukkig en my lewe was die moeite werd, of selfs dat ek geslaag het daarin om my “ware self” te vind. (Wat is die waarde van ’n hoogs ontwikkelde bewussyn van jou eie self, as dit nie uiteindelik positiewe resultate oplewer van jou tyd op hierdie planeet nie?)

Kan ’n mens verder gaan en vra na die resultate van elke dag? Elke week? Goed dan, die gemiddelde resultate van elke jaar? Kan ’n mens “positiewe resultate” koop kort voor die einde van jou lewe? Wie bereken die kwaliteit van die resultate? En wat is die moontlikheid dat die mooiheid van ’n enkele dag of selfs ’n enkele oomblik verlore kan gaan in die gejaag om ’n positiewe erfenis agter te laat van jou bestaan?

Ongeag wat jy glo oor die waarde en betekenis van jou eie lewe, of oor wat die lewe vir jou die moeite werd maak, ongeag die belangrikheid wat jy heg aan resultate van jou lewe, bly een ding aan die einde staan: JOU LEWE SAL UITEINDELIK RESULTATE OPLEWER. Of hierdie resultate meer positief as negatief gaan wees, hang tot ’n baie groot mate af van jouself, en van die keuses wat jy maak op ’n daaglikse basis.

______________________