ICARUS JOERNAAL, INSKRYWINGS # 2 ~ 10

Deur 26 - 03 - 1999

# 2

26 Maart 1999 (01:44)

[...]

Anycase, meer as twee maande in die wegbreek-provinsie, 160 kilometer van Mao se China af. Die mees belangrikste nie-trivialiteit wat ek moet aanteken, is my idee oor die sogenaamde Hoër Bestaansvlakke: om aan te beweeg na die hoogste bestaanvlak, toepaslik vir, en relatief tot elke individu. Vir my is dit om ‘n skrywer en ‘n scholar te wees. Wat beteken hoe meer tyd ek kan spandeer elke dag aan skryf- en leeswerk, hoe nader kom ek aan my eie persoonlike Hoogste Bestaansvlak.

Nou, ons het dit al ‘n miljoen keer voorheen genoem. (Sigaret, sluk Coke.) Wat ek in die verlede gedink het ek sou doen as ek die Britse lotery wen, het baie gelyk na wat ek nou noem my hoogste bestaansvlak. Die verskil is dat dit nou binne my bereik is. Die syfers is bemoedigend: werk plus-minus 25 ure per week; verdien ongeveer R12,000 per maand; alle uitgawes per maand beloop plus-minus R6,500. [...]

Hierdie situasie gaan nie vir altyd voortduur nie; ek vermoed, tensy ek trou met ‘n Taiwanese vrou, twee jaar op die langste. En ek beplan nie om ‘n salaristrekker te word in Suid-Afrika as ek teruggaan nie. Na jare se dink, droom en hoop, en bladsye vol formules en opinies, dink ek ek het ‘n basiese idee van wie ek is, en wat ek wil doen met my lewe. En dis ambisieus. Dis inspirerend. As ek nie werk maak daarvan en dit leef nie – in die lig van wat ek uitgefigure het die afgelope paar jare – gaan ek later spyt wees. ‘n Donker wolk van spyt sal oor my latere lewe trek, en ek sal almal irriteer. Ek sal soos ‘n Brando-karakter op my agterstoep sit en vir die hond prewel, “I could have been a contender.” Daar’s net een pad, en dis vorentoe.

Ek beplan, net so terloops, om my sitkamer te omskep in ‘n slaap/leefruimte. En my slaapkamer sal my sitkamer word waar ek video’s sal kyk, en miskien middagslapies sal vat.

Ek wil ‘n skrywer wees. Om te skryf moet my voltydse inkomste-genererende professie word. Dit gaan meer verg as net die kriptiese notas wat ek op dié stadium van my lewe maak. Ek moet my moue oprol en my hand diep in die poel water steek. Ek moet beter skryftegnieke ontwikkel. Ek moet leer om te skryf vir tydskrifte en koerante. Ek moet lesersmarkte leer ken. Ek moet soveel fasette as moontlik van die literêre professie leer deur ‘n kursus of twee te doen. En deur baie te lees. En deur baie meer te skryf as nou. En ek moet ‘n goeie rekenaar koop.

Dis nou 02:33. Fokkit, ek is moeg vir alleen slaap… amper so moeg as vir alleen wakker word. Het ek enige iets wysgeraak deur die bladsye vol inkvlekke wat ek gemaak het die afgelope vyftig minute?

# 3

1 April 1999

‘n Verrassende aspek van die Kosovo-krisis is dat niemand regtig weet hoe dinge oor ‘n week gaan lyk nie. Mense – intelligente politieke joernaliste – spekuleer, en is ook nie bang om dit te doen nie. Hulle sê eerder iets as om niks te sê nie. En ook om moontlik later te kan sê hulle was nie verkeerd nie…

# 4

6 April 1999

[Ek het vir die langnaweek Hong Kong toe gegaan om saam met my ouer suster te kuier (wat 'n paar vriende besoek het). Die kuiertjie was nie te veel versuur deur 'n argument wat ons gehad het oor wat ek doen met my lewe nie.]

M. se argument was dat ek probeer om anders te wees. Dat ek net een lewe het, en dat ek my kanse beter moet gebruik. Dat ek net een keer jonk is, en dat ek nie my lewe moet sien in die lig van die geskiedenis nie. Dat ek nie Napoleon is nie.

Sy sê ook dat ek myself te veel isoleer. Ek het nie vriende nie, en ek isoleer myself van die wêreld waarvan ek juis nóú deel moet wees. Hoekom moet ek deel wees van hierdie wêreld? Omdat ek jonk is, en omdat ek net een keer ‘n kans het om jonk te wees. Sy reken ook dat ek beter keuses kon gemaak het in my lewe, en dat ek nooit net een opsie gehad het nie.

Ek dink haar grootste oorweging vir hierdie argumente was dat sy glo ek ongelukkig is. Sy’t al hierdie dinge uitgedink omdat sy probeer het om vir my te sê, “Dit hoef nie so te wees nie,” en “Jy kán gelukkig wees.”

# 5

13 April 1999 (00:25)

Ek het ‘n teorie. Die afgelope tien jaar, hierdie hele dekade van my lewe, is oorheers deur die stryd om een of albei van twee probleme te oorkom, naamlik eensaamheid en armoede. Daar was bitter weinig tyd in die afgelope dekade wanneer my bestaan nie fundamenteel oorheers was, en steeds oorheers word, deur een of albei van hierdie probleme nie.

Die besluit in 1990 om Stellenbosch toe te gaan; die besluit vroeg in ’96 om Stellenbosch te verlaat; die besluit om Korea toe te gaan; die besluit om ‘n tweede jaar te bly; die besluit om terug te keer Suid-Afrika toe in 1998; die besluit om Johannesburg toe te gaan; en die mees onlangse, en moontlik as gevolg hiervan, die beste bewys, die besluit om Taiwan toe te kom. Hoeveel van die belangrikste besluite van my lewe sover is nie geneem om een of albei van hierdie twee probleme op te los nie?

Hoewel daar altyd sekondêre oorwegings was, is dit nie moeilik om te sien dat die belangrikste oorweging om in ’91 Stellenbosch toe te gaan, was om die probleem van eensaamheid te oorwin nie. Om Pretoria toe te gaan in ’96, armoede. Om Korea toe te gaan, armoede. Die besluit om in Korea te bly in ’97 was grootliks om te verhoed dat ek weer sonder geld sal sit. Eensaamheid het my gedring om terug te gaan Suid-Afrika toe in ’98. Die besluit, na ses weke terug in Suid-Afrika, om Johannesburg toe te gaan, is gemotiveer deur die beginsels van “Belonging & Commitment” – beginsels wat geformuleer was om eensaamheid te oorkom. En die besluit om Taiwan toe te kom? Armoede.

“It’s so simple only a genius could have thought of it,” het Einstein van Jean Piaget gesê.

“Armoede, eensaamheid,” sal ‘n mens sê, “ek weet.” Maar ek het nog nooit voorheen werklik die eenvoudige patroon gesien nie! As jy my voorheen gevra het wat my beskouing van ‘n ideale lewe is, sou ek baie antwoorde gehad het. Van hulle sou wees om te bemin, en om bemin te word; om finansiële sekuriteit te hê; om die mag te hê om keuses te kan maak en keuses te kan uitoefen. Hierdie teorie laat my met ‘n duidelike opdrag: Los die probleme van armoede en eensaamheid in jou lewe op, en jy sal ‘n ander uitkyk op die lewe hê.

Geluk? Op een of twee stadia van die afgelope paar jaar was een, of albei van dié probleme tot ‘n mate opgelos. As ek nie arm is nie, voel ek beter oor my lewe. As ek nie eensaam is nie maar steeds arm, maak dit ook ‘n verskil. Dis ‘n kwessie van graad. Ek is gewoonlik ‘n bietjie gelukkig, of fokken depressed. Moet dit noodwendig so wees?

Ek glo dit sal van my ‘n beter mens maak, ‘n mens wat die lewe meer sal waardeer, wat aan die lewe sal wil bly, wat dimensies van myself en van die lewe, en van ander mense sal ontdek, wat ek nooit voorheen geken het nie, as ek hierdie twee probleme kan oplos. Hoewel die probleem van eensaamheid op hierdie oomblik weer die grootste van die twee probleme is, is dit net so belangrik om die probleem van armoede op te los. Armoede raak jou hele wese, jou persoonlikheid, jou wil om aan die lewe te bly.

Vra Jack Nicholson, “What if this is as good as it gets?” Ek het die afgelope tien jaar sonder ophou gestry teen hierdie twee droefenisse. Die stryd het al deel geword van wie ek is. My lewenstyl is toegespits daarop om myself te beskerm teen hierdie twee probleme. Dis tyd dat ek albei oorwin, en op pad daarheen my drome te verwesenlik. Om my drome te verwesenlik geld natuurlik ook as ‘n manier om die twee probleme op te los (of voldoende te onderdruk… ‘n klousule waaraan ek voorheen gedink het; ek spaar myself – en die leser van hierdie nota – die argument daaragter). Ek het ook nodig om hierdie probleme op te los as ‘n verheerliking van die lewe waaroor ek beskik.

Laaste nota: Ek is die afgelope paar dae baie ongemotiveerd. Ek is siek. Ek kyk baie video’s. Ek sien min mense. Ek is ‘n bietjie pessimisties. Ek moet myself die heeltyd motiveer om iets te doen. Daar is baie om voor te leef, en my lewe het nog nie eens begin nie. Ek het baie idees, baie projekte wat ek wil onderneem. Ek moet glo my dag sal kom. Ek het dit in my om my drome te verwesenlik, en om bogenoemde twee probleme te konfronteer. Om miskien net vir ‘n tyd in my lewe te leef as iemand wat nie arm is nie, en wat ‘n vrou liefhet, en deur dieselfde vrou bemin word. Ek is dit verskuldig aan myself.

# 6

13 April 1999

Met ander woorde, streef na die ander kant van eensaamheid en armoede: gemeenskap met familie, vriende en kennisse, maar veral intieme gemeenskap met ‘n enkele ander persoon, en streef na finansiële sekuriteit.

# 7

15 April 1999

Vandag het die doktor my ingelig ek het ‘n maagseer. Imagine dit. Hy sê daar’s verskeie moontlike oorsake: die weer, verandering in leefstyl, koffie, medisyne (vir die griep), of spanning. Hy sê dis nie te ernstig nie, maar het pille voorgeskryf en my aangeraai om minder kafeïne te drink, meer as drie etes per dag te eet, in kleiner porsies, en ek moet my kos meer kou. Gelukkig het hy niks van sigarette gesê nie…

Wat sê dit alles vir my? Ek is verantwoordelik vir baie van my eie spanning. Ek ken min mense wat op hierdie oomblik soveel vryheid en onafhanklikheid geniet soos ek, maar daar is altyd iets wat dreig om my oor die afgrond te stoot.

Eensaamheid en armoede is twee probleme wat ek graag vir eens in my lewe op dieselfde tyd opgelos wil hê. Maar ‘n mens moenie vergeet om die lewe te geniet op pad na daai punt toe nie! ‘n Ou se gesondheid hou nie altyd nie; jou lewe ook nie. En jy raak by die dag ouer.

Werk daaraan om nie die heeltyd op jou eie te wees nie, en ontspan meer oor die lewe. Doen dinge wat jy geniet, en bederf jouself ‘n bietjie.

Nietemin, ek reken dis die weer wat my maagseer veroorsaak het.

# 8

17 April 1999

Solank die middelstratum van ‘n samelewing gereeld nuwe immigrante toelaat (dit is, mense van ander lande wat na ‘n bepaalde land migreer met ambisies van ‘n beter lewe), sal dit altyd hernu word in karakter, en by wyse van spreke hergebore word met dieselfde waardes van konserwatisme, familie en werksetiek.

# 9

18 April 1999

1. Die middelklas is noodsaaklik vir die ekonomiese en politieke stabiliteit van die staat. Marx het geteoritiseer oor ‘n anti-middelklas werkers-rewolusie. Enige kontemporêre ekonomiese of politieke rewolusie moet egter die waardes en ambisies in ag neem van die burgers wat reeds lede is van die middelklas, en van dié wat streef na die dinge wat die middelklas definieer.

2. Wat is my vereistes vir ‘n toestand wat nie anders beskryf kan word nie as “geluk”? Genoeg vrye tyd en genoeg geld, ‘n rusbank met groot kussings waarop ek kan lê (of ten minste my kop en skouers op kan rus), ‘n goeie musiekversameling, ‘n koffietafel vol eet- en drinkgoed, ‘n TV en ‘n video-masjien, ‘n goeie boek. Is dit nie wat ek nog altyd gesê het nie?

3. Ek voel die heeltyd asof ek op die rand van ‘n deurbraak in my lewe is, asof ek op die drumpel van ‘n nuwe era staan. Sal dit later blyk dat ek dit reeds betree het?

4. Ek het Vrydagaand uiteindelik die expat social scene van Kaohsiung ervaar. Ek het die aand geniet, maar besef, thanks, but no thanks. Been there, done that. Ek soek iets anders.

5. Ek het tog weereens tot die besef gekom dat ‘n mens se persoonlikheid daaronder ly as jy nie omgaan met baie mense nie – en die klem is in dié geval op kwantiteit (weerspreek ek nou my vorige punt?). Dit is ‘n feit dat ‘n mens se persoonlikheid ontwikkel, selfs verbeter, deur interaksie met ander mense op ‘n sosiale vlak.

# 10

15 Mei 1999

Daar word gesê “boredom breeds contempt” en “necessity breeds invention”. Ek glo dat as jy verveeld raak, dan begin jy te soek na dinge waarvoor jy nooit voorheen gesoek nie, op plekke waar jy nie voorheen gedink het jy iets sal vind nie. Verveeldheid is dalk noodsaaklik vir open-mindedness. Die Houdini-karakter sê in Fairy Tale, “Ladies and gentlemen, do not try to fool a child. They expect nothing, so they see everything.”

Hierdie inskrywing dateer: 26 - 03 - 1999 om 01:44 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.