ICARUS JOERNAAL, INSKRYWINGS # 19 ~ 21

Deur 01 - 11 - 1999

# 19

1 November 1999

Oor sosiale klasse en lidmaatskap: Jy word noodwendig geklassifiseer as lid van ‘n bepaalde sosio-ekonomiese stratum (of klas) in die omgewing waar jy woon en werk, asook in ander omgewings wat jy besoek vir ‘n spesifieke doel. Jy maak óf ‘n punt daarvan om as deel van ‘n bepaalde klas beskou te word, óf mense plaas jou in een vir hulle eie doeleindes.

Gaan byvoorbeeld na ‘n bank toe, en die bankbestuurder plaas jou onmiddellik in ‘n sekere sosio-ekonomiese kategorie – en dit beïnvloed noodwendig sy houding teenoor jou. Ander mense doen dieselfde. So ook met jouself; ook jý doen dit. Dit is ‘n natuurlike neiging, soos diere wat mekaar sal snuif om te weet waar hulle met mekaar staan.

Hierdie verskynsel sal ook manifesteer as ek nou my voete in Suid-Afrika sit. Ek sal tydelik geplaas word in die Middel, as gevolg van my vorige assosiasies, my klere, my haarstyl, die werk wat ek in Taiwan gedoen het, en my formele opleiding. Die feit dat ek nie sal beskik oor al die ander vereistes wat my onteenseglik sal plaas in die Middel nie (soos ‘n huis en ‘n goeie kar), sal vir die oomblik verskoon word omdat ek pas teruggekeer het uit die buiteland. Hierdie tydelike plasing sal egter nie té lank voortduur nie. As ek byvoorbeeld na drie maande steeds nie ‘n kar het nie, en steeds nie ‘n behoorlike adres van my eie nie, sal mense my noodwendig “verplaas”. Aanvanklik sal hierdie verplasing wees na ‘n inter-klas, wat argumentshalwe die Toeriste-klas genoem kan word, en na nog ‘n paar maande sal ek verder ge-downsize word na die Laer-Middel toe.

# 20

2 November 1999

Moet jy jouself aanvaar soos jy is, of moet jy erken dat jy ‘n sekere IDEALE SELF in gedagte het? Moet jy aandring daarop dat jy nie sal kan rus voor jou IDEALE SELF nie ten minste halfpad gebore is nie, en voor jy nie ten minste ‘n fraksie van jou potensiaal bereik het nie?

# 21

12 November 1999

Om te weet wie jy is, en te wees wie jy is met selfvertroue, kom altyd neer op keuses. In enige situasie waarin jy jouself bevind, moet jy keuses maak wat betref wat jy gaan sê, hoe jy dit gaan sê, en hoe jy gaan optree. Die een keuse is om jou spraak of optrede aan te pas volgens wat ‘n ander persoon, of ander mense verwag, of volgens wat jy dink beloon sal word deur goedkeuring van die ander persoon, of van ‘n sekere groep mense – en derhalwe aanvaar te word as “Een van (die ander mense se) Ons.”

Die ander keuse is om op te tree soos wat jy sou opgetree het, of te sê wat jy sou gesê het as die aanvaarding van ander nie op die spel was nie. Die teleurstelling wat die persoon dalk mag ervaar omdat jy nie gesê het, of opgetree het soos hy of sy geantisipeer het nie, mag dalk versag word deur ‘n opinie van jou dat jy “eerlik” is, of dat jy nie jouself laat voorskryf deur ander se verwagtinge nie. Aanvanklike teleurstelling sal dus in die ideale situasie plek maak vir hernude belangstelling, en uiteindelike aanvaarding op eerliker terme.

Hierdie inskrywing dateer: 01 - 11 - 1999 om 06:54 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.