ICARUS JOERNAAL, INSKRYWING # 23

Deur 14 - 01 - 2001

14 Januarie 2001

Ek het nou net in die bad die vreemdste gedagte gehad. Ek het myself gesien as ‘n 35-jarige man, effens sag om die middellyf, nie veel hare oor op my kop nie, met ‘n paar grys hare wat in my baard begin wys. Ek verbeel myself toe ook dat ek naastenby dieselfde lewe het as nou: ‘n gewone woonstel, ‘n teaching job, gemiddelde inkomste, ensovoorts. Die verskil was dat ek nie meer skryf nie, net lees, en so nou en dan kitaar speel.

Die aantrekkingskrag van hierdie beeld lê in die rustigheid daarvan, die idee dat ek vrede gemaak het met baie dinge, a man at peace with himself. Dis die beeld van ‘n man wat sy lewe goedvind soos dit is, en nie soos ‘n besetene probeer om “groot” te wees nie. Iemand sonder die angs van om méér te probeer wees as net wat hy op daai stadium van sy lewe is.

Wat begin het as ‘n verbeeldingsvlug oor fancy haarstyle en die begeerte om ‘n baard te groei, het binne minute gelei tot die gedagte dat ek nog altyd skrikkerig daarvoor was om oud te word, en soveel te meer om oud te word sonder dat ek iets groots gedoen het met my lewe.

As ‘n toets vra ek myself toe hoe ek sou gevoel het oor my lewe as dit pretty much is soos dit nou is, maar as ek 35 is. Toe sê ek eers dit sal goed – of dan ten minste aanvaarbaar – wees, solank ek toegewyd is aan iets (soos skryfwerk of iets dergeliks).

Getrou aan my gewoonte om ‘n ding twee of drie keer te oordink (vrae en antwoorde effens verskillend elke keer), skets ek toe weer vir myself die 35-scenario. Dié keer reken ek toe dat ek nie sal skryf nie, maar eerder my dae sal vul met ‘n paar ander aktiwiteite: om movies toe te gaan, historiese non-fiksie te lees, en elke nou en dan kitaar te speel. Dis toe dat ek skielik die beeld ervaar as positief – meer as net aanvaarbaar, selfs wenslik. ‘n Man wat gemaklik is met wie en wat hy is; ‘n man wat bekend staan as iemand met wie jy kan gesels oor belangrike sake.

Die laaste vraag wat ek toe stel is of ek myself in hierdie positiewe scenario sien mét of sónder ‘n metgesel. Ek moes actually daaroor nadink. Na ‘n minuut of twee verklaar ek toe dat ‘n vrou in die lewe van hierdie benevolent peaceful creature, goed sal wees.

(Sal ek sonder die invloed van ‘n vrou werklik hierdie stasie kan bereik? Sal die afwesigheid van kameraadskap en ondersteuning my voortdryf om méér te probeer doen? Sal vrede en rustigheid, en ‘n intieme verhouding met een ander persoon noodwendig die einde van kreatiwiteit en ambisie beteken?)

Hierdie inskrywing dateer: 14 - 01 - 2001 om 17:38 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.